Herskepping van 'n tradisie

Twee vroue gebruik hul tradisionele Afrika-kennis om gemeenskappe op te hef.
Tanja Bause
Tanja Bause – “Ek onthou die oomblik toe ek vir my ma gesê het ek wil nie net meer oor die vervaardiging van maroela-olie praat nie, maar ek wil dit doen,” sê Mpingana Dax, die stigter van Kuti Oil.

Haar ma, Maria, is 'n vennoot in die besigheid en saam gebruik hulle hul tradisionele Afrika-kennis om gemeenskappe op te hef.

Mpingana het matriek by die Abbot Kollege in Kaapstad voltooi waarna sy 'n kursus in grafiese ontwerp gedoen het. Nadat sy die kursus voltooi het, het sy terug Windhoek toe gekom om te begin werk.

“Ek het 'n beurs in film en televisie in Maleisië gekry. Jy kry nie baie beurse in kreatiewe ontwerp nie, dus het ek die geleentheid met albei hande aangegryp en my meestersgraad gedoen,” het sy gesê.

Met haar terugkoms in Namibië het sy twee kort films gemaak.

“Die eerste film, The Afrofuturist Village, was 'n film oor Masiyaleti Mbewe se kunsuitstalling. Die tweede een was Itandu waar Lavinia Kapewasha die direkteur en skrywer was.”

Terwyl sy aan die flieks gewerk het, het sy met die konseptualisering van Kuti Oil begin. Dit was is 2017.

“Ek het besef ek moet ophou praat en begin doen. Ek het maroela-olie begin navors. Ek was reeds vir jare in dié bedryf geïnteresseerd. Dit is 'n volhoubare manier om iets te gebruik wat reeds in Namibië voorkom. Ek was nog altyd – veral weens my eie velprobleme – in haar- en velprodukte geïnteresseerd.”

Sy het aan die FemBioBiz Acceleration Program deelgeneem.

“Dit is 'n program van Nepad (die Nuwe Vennootskap vir Afrika-ontwikkeling) wat vroue in bioweten­skappe ondersteun. Ek het derde in die land geëindig en het geld gewen waarmee ek my eerste masjien gekoop het.”

Mpingana het ook by die Namibia Network of the Cosmetics Industry (NANCi) aangesluit.

“Aan die begin het ek maroela-olie gekoop en dit in bottels gegooi en verkoop. Ek het die etikette self ontwerp en die olie herverkoop. Ek het nie geld gehad om masjiene aan te koop nie. Met die hulp van Nepad en NANCi het my ma begin verstaan hoe sy by die besigheid betrokke kan raak. Alles het in plek begin val en met die hulp van NANCi is ek en my besigheid nou waar dit vandag is.”

Die besigheid maak tans gebruik van twee masjiene – een wat die maroelapitte en een wat die Kalahari-spanspeksade kan pars. Daar is ook 'n masjien om die meeste onsuiwerhede uit die olie te verwyder.

“Ons kry ons rou materiaal uit die Noorde waar vroue dit versamel en aan ons verkoop. Honderde vroue in die Noorde trek voordeel uit Kuti Oli. Deur ons kan hulle ten minste – terwyl die maroelavrug beskikbaar is – 'n inkomste verdien.”

“Die pitte word met 'n hidroliese pers koud gepars. Hierdie proses hou die olie se organiese eienskappe ongeskonde en die olie suiwer. Die olie word dan gefiltreer om sediment en onsuiwerhede te verwyder.”



MARIA

Maria het 'n nagraadse kwalifikasie in bestuur en korporatiewe kommunikasie, met dekades se bestuurservaring. Sy het ook 'n uitgebreide kennis van maroela-olie en kalahari-spanspeksaadolie. Sy het in die Noorde grootgeword en baie van haar kennis kom van daar. Haar ervaring versterk Kuti Oil se sakevernuf en gesofistikeerdheid.



MAROELA

Die maroela-olieperskultuur is 'n tradisie wat geslagte lank in die Ovambo-kultuur oorgedra word.

Tradisioneel word die maroelapitte al vir dekades deur die vroue klein gestamp en die warm olie word oor hoender gegooi en geniet.

“Die sap word gebruik om tradisionele alkohol te maak en die geur word gebruik om die sogenaamde Amarula-likeur te maak wat almal ken. Die saadkoek wat oorbly wanneer die olie uitgedruk is, word gebruik as kos vir bokke, skape of hoenders. Die vrug se vel word as kompos gebruik. Alles van die vrug kan gebruik word; niks gaan verlore nie,” het Mpingana gesê.

Maroela-olie het 'n geurige neutagtige aroma saam met kragtige eien­skappe, insluitend beskermende antioksidante. Hoewel dit soortgelyk is aan die Marokkaanse arganolie, bevat dit eintlik 60% meer antioksidante.

“Maroela-olie kan die voorkoms van rekmerke, plooie en littekens verminder. Dit verbleik donker merke op jou vel en dit bevorder vleklose gladde, sagte vel en verbeter die elastisiteit. Die olie help om hare dikker te maak en bevog die hare.

“Dit versterk haarfollikels wat die breek van hare voorkom en dit help met gebarste lippe. Soos met vele ander dinge begin die versorging van binne. Dus vir 'n gesonder kopvel moet jy jou kopvel versorg en maroela-olie sypel baie vinnig in die kopvel in en bevog dit van binne af.”



TOEKOMSVISIE

“In die toekoms wil ons ook Kalahari-spanspekpitte pars en waarde by die olie toevoeg deur haar- en velprodukte te maak en nie net die olie te verkoop nie. Maroela-olie is 'n draer­olie wat by enige kosmetiese formule gevoeg kan word.”

Tans werk Mpingana nog voltyds as grafiese kunstenaar.

“Ek dink dit is belangrik om ver­skillende belangstellings te hê en as jy geld uit een van jou belangstellings kan maak, is dit soveel beter.

“In die toekoms hoop ek om Kuti Oil uit te brei en dat dit winsgewend sal word en my kan onderhou. Dit is iets wat ek lank na aftreeouderdom kan doen. Dit is ook iets wat ek kan nalaat wanneer ek doodgaan, iets wat ek vir die land opgebou het.”

Kommentaar

Republikein 2025-01-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 26° Rundu: 19° | 34° Eenhana: 22° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 21° | 34° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 19° | 33° Omaruru: 20° | 34° Windhoek: 22° | 32° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 16° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 17° | 21° Rehoboth: 22° | 33° Mariental: 22° | 35° Keetmanshoop: 19° | 34° Aranos: 22° | 34° Lüderitz: 16° | 29° Ariamsvlei: 19° | 35° Oranjemund: 16° | 25° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 21° | 28° Lubumbashi: 17° | 22° Mbabane: 18° | 28° Maseru: 18° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 19° | 24° Maputo: 23° | 34° Windhoek: 22° | 32° Cape Town: 19° | 23° Durban: 22° | 28° Johannesburg: 17° | 24° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 18° | 25° Harare: 17° | 21° #REF! #REF!