Herstelwerk aan Hardap-besproeiingskanaal begin
Terwyl daar teen vloede in die sentrale noorde van Namibië gewaarsku word, kan besproeiingsboere nie toegang tot Hardap se water kry alvorens die kanaal herstel word nie.
Elvira Hattingh - NamWater het Vrydag met dringende herstelwerk aan die Hardapskema se besproeiingskanaal begin sodat watertoevoer na besproeiingsboere herstel kan word.
Dit volg ná die kanaal bykans ‘n maand gelede op 19 Februarie strukturele skade gely het toe die Dabibrivier sy walle oorstroom het. Dié water het die leë besproeiingskanaal sywaarts bereik en 40 m se panele het ineengestort.
Mnr. Dawie de Klerk, ’n besproeiingsboer op die Hardapskema en ondervoorsitter van die Akkerbouprodusentevereniging (APV), het Vrydag gesê die situasie is besig om vir besproeiingsboere kritiek te raak omdat hul gewasse dringend water benodig en dit reeds skade begin ly het.
Hy meen hulle het slegs sowat ’n week oor voor die skade onomkeerbaar sal wees.
Hy was Vrydag op die perseel waar ‘n span werkers besig was met voorbereidingswerk om die kanaal te herstel.
“Dit is moeilik om ’n tydsraamwerk te gee van wanneer die werk voltooi sal wees, maar ek is vol moed dat werk aan die kanaal nou sal begin,” het hy gesê.
Volgens die jongste dambulletin wat die afgelope Woensdag deur NamWater uitgereik is, bevat die Hardapdam tans 42,9% water.
Watertoevoer van die Hardapdam na besproeiingsboere is op 27 Januarie noodgedwonge gestaak omdat die dam net 6,5% water oorgehad het – wat vir Mariental self gehou moes word.
Danksy goeie reëns sedert 10 Februarie het dié dam intussen weer water ontvang en met altesaam 36,4% gelig.
REËNVOORUITSIGTE
Intussen meen Santam Suid-Afrika se landbouweerkundige, mnr. Johan van den Berg, dat vooruitsigte vir reën tydens Maart negatief is.
“Vooruitsigte vir reën vir die meeste dele van Suider-Afrika is swak oor die korttermyn vir die groter deel van Maart, alhoewel dit ietwat mag verbeter vanaf die tweede helfte van Maart,” het hy gesê.
Vir Namibië spesifiek is reënvooruitsigte in Maart ook nie belowend nie, met uitsondering van die verre noordelike dele van die land waar ligte reëns mag voorkom, het Van den Berg gesê.
VLOEDGEREEDHEID
Intussen het me. Pauline Mufeti, hoof van hidrologie by die ministerie van landbou, water en bosbou se Hidrologiese Dienste in die jongste vloedverslag weer gemaan dat gebeurlikheidsbeplanning teen vloede noodsaaklik in die Omusati-, Oshana-, Ohangwena-, Kavango-Wes- en Kavango-Oosstreek is.
Ongeag daarvan dat die vloei van water na plaaslike ishanas afgeneem het, is meer water glo op pad na die noorde van Namibië van anderkant die Angolese grens.
Terselfdertyd is die Kavangorivier se vlakke by Rundu en Nkurenkuru besig om te daal, al loop dit steeds bonormaal diep verby Rundu (7,36 m teenoor die normale 5,90 m).
Ook ervaar die Zambezirivier ‘n sterk styging by Katima Mulilo en het dit intussen die 4 m-merk oorgesteek, wat beteken sy walle oorstroom. Die afgelope Vrydag het dié rivier 4,5 m diep by Katima Mulilo gevloei en Mufeti het gemeenskappe teen vloede gewaarsku. - [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie