Hervestigde boere u2018moet kommersieel boeru2019
Hervestigde boere u2018moet kommersieel boeru2019

Hervestigde boere ‘moet kommersieel boer’

Die suksesvolle implementering van die hervestigingsprogram is grootliks in boere se hande.
Catherine Sasman
Catherine Sasman – Die minister van grondhervorming, mnr. Utoni Nujoma, het hervestigde boere aangeraai om hul bestaansboerderye in kommersiële boerderye te omskep.

“Net soos kommersiële boere, moet hervestigde boere ook tot die land se landbou-ekonomie bydra,” het Nujoma gesê.

Nujoma sou boere by ’n simposium vir hervestigde boere op die plaas Tsumore no. 761 langs die Otjikotomeer toespreek, maar was weens sy swak gesondheid nie daar nie.

Sy toespraak is toe deur die goewerneur van die Otjikotostreek, mnr. Henock Kankoshi, gelewer.

Dié jaarlikse simposium gee aan hervestigde boere die geleentheid om die suksesse en mislukkings van hul landbou-ondernemings met mekaar te deel.

Volgens die direktoraat van grondhervorming en hervestiging word die dravermoë van en grondgebruik op plase nie in ag geneem nie en is die voortgesette voorkoms van onderverhuring ook ’n probleem.

Nujoma het gesê dit word voortdurend gemonitor en gevalle van onwettige onderverhuring, onwettige grondbesettings en die nienakoming van dravermoë word aangeteken.

Een van die kwessies wat by die simposium na vore gekom het, is dat huurgeld in sekere gevalle nooit ingevorder is nie.

'n Reaksie hierop was dat die ministerie gebuk gaan onder begrotingstekorte en dat hulle in sekere gevalle nie in staat was om die plase te ondersoek of te laat waardeer nie.

Nujoma het in sy toespraak gesê as gevolg hiervan is die program vir grondverkryging en infrastruktuurontwikkeling geraak.

Hy het bygevoeg die infrastruktuur op sommige plase sal gedurende die huidige finansiële jaar opgeknap word.

“Dit is hoekom begunstigdes hul plase se infrastruktuur self moet herstel en in stand hou. Dit is baie belangrik,” het hy gesê.

“Ek wil julle aanmoedig om nie moed te verloor in hierdie moeilike ekonomiese tye nie. Die suksesvolle implementering van die hervestigingsprogram is grootliks in jul hande,” het hy gesê.

Hy het voorts opgemerk die proses van die erf van plaaseenhede op Oshikoto neem te lank om af te handel.

Dit is grootliks te wyte daaraan dat die families van oorlede hervestigingsbegunstigdes nie die regte vorms by die ministerie invul sodat die ministerie die erfprosedures kan deurvoer nie.

Hy het begunstigdes aangemoedig om hul testamente op te stel en in orde te kry.

Ministeriële amptenare het egter gesê hervestigingsplase kan nie as persoonlike bates van begunstigdes geregistreer word nie, omdat hierdie plase die regering se eiendom bly en net aan die begunstigdes verhuur word.

Die hervestigingsboere is ook aangeraai om lenings by Agribank te kry onder die ondersteuningsdienste vir boere ná hervestiging sodat infrastruktuur herstel en verbeter kan word.

Nujoma het gesê boere maak nie voldoende van hierdie fonds gebruik nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!