Hess se ‘ruimte-oë’ maak kosmiese deurbraak

Ná ’n soektog van meer as ’n dekade het wetenskaplikes vanuit Namibië vir die eerste keer gammastraling in gammalig met baie hoë energie waargeneem.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer – In die wêreld van sterrekunde en kernfisika is alle oë op Namibië.

Dit ná die nuus oor die deurbraak-opsporing van die nágloed van ’n gammastraalontploffing in gammalig met baie hoë energie.

Dit is waargeneem deur drie van die vyf teleskope in die hoë-energie stereoskopiese stelsel (Hess) in die Khomas Hochland.

Die artikel oor hierdie ontdekking in Julie verlede jaar is Woensdag in die gesaghebbende wetenskapjoernaal Nature gepubliseer.

Gammastraling is een van die drie belangrikste vorme van radioaktiwiteit. Dit is, anders as alfa- of beta-straling, elektromagnetiese golwe met baie hoë vlakke van energie en ’n hoë frekwensie. Gammastrale kan met X-strale vergelyk word, behalwe hulle het korter golflengtes.

“Ná ’n dekade lange soektog het wetenskaplikes vir die eerste keer ’n gammastraling in gammalig met baie hoë energie waargeneem. Hierdie ontdekking is in Julie 2018 deur die Hess-projek se navorsers gemaak met behulp van die reuse- 28 m hoë teleskoop in die groepering.

“Verbasend genoeg is gevind hierdie gammastraalontploffing, ’n uiters energieke flits ná ’n kosmologiese ramp, lank nadat die ontploffing plaasgevind het baie hoë-energie gammastrale uitstraal,” lui die verklaring deur die navorsers by die Universiteit van Namibië (Unam).

Hulle is deel van dié samewerkingsprojek waarby agt lande betrokke is.

Die Hess-projek het sowat 15 jaar gelede begin. Dié teleskope gee beter en duideliker ruimtebeelde as enige ander gammastraalteleskoop in die wêreld. Die beeldmateriaal is selfs 60 keer beter as dié van Nasa se ruimteteleskoop, die Common Gamma-ray Observatory, het Republikein met die ingebruikneming in 2004 berig.

Uiters energieke kosmiese ontploffings genereer gammastraling (GRB), wat gewoonlik slegs breukdele van sekondes duur. Dit is die helderste ontploffings in die heelal. Die ontploffing word gevolg deur ’n langer, blywende nágloed - meestal in die optiese en X-straal-spektrale streke, waarvan die intensiteit vinnig afneem.

Die vinnige, hoë-energie gammastraal-vrystelling bestaan meestal uit fotone wat honderdduisende tot miljoene kere energieker as sigbare lig is. Dit kan slegs met satelliete in die ruimte waargeneem word. Hoewel hierdie ruimtewaarnemings ’n paar fotone met nog hoër energieë opgespoor het, kon antwoorde tot nou toe nie gekry word op die vraag of baie hoë-energie (VHE) gammastraling (ten minste 100 miljard keer energieker as sigbare lig en slegs waarneembaar deur teleskope op die aardoppervlak) vrygestel is nie, lui die verklaring.

Op 20 Julie verlede jaar het die Fermi Gammastraal-ruimteteleskoop (FGST), en ’n paar sekondes later die Burst Alert-teleskoop (BAT) in Nasa se Swift-opsporingsending die wêreld in kennis gestel van ’n gammastraalontploffing getiteld GRB 180720B.

Onmiddellik ná die waarskuwing het verskeie waarnemingstrukture omgedraai om na hierdie posisie in die lug te kyk. Vir Hess het dié ligging eers 10 uur later sigbaar geword.

“Nietemin het die Hess-span besluit om te soek vir ’n baie hoë-energie nágloed in die ontploffing. Nadat hulle reeds meer as ’n dekade lank na tekens van hierdie gebeure soek, het dit eindelik vrugte afgewerp,” sê Unam in die verklaring.

“Die gegewens wat in die tyd tussen die verloop van 10 en 12 ure ná die gammastraalontploffing versamel is, het ’n nuwe puntagtige gammastraalbron op die posisie van die sarsie getoon.

“Hoewel die opsporing GRB’s in hierdie baie hoë energieë verwag het, was die ontdekking daarvan baie ure ná die aanvanklike gebeurtenis, en diep in die nágloed, ’n verrassing.”

Die span verduidelik in die verklaring die volgende het gebeur: “GRB 180720B was baie sterk en het ongeveer 50 sekondes geduur - ’n relatiewe lang tydsduur wat op die dood van ’n reusester dui.

“In die proses het die kern daarvan in ’n vinnig draaiende swart gat geval. Die omringende gas het ’n aansluitingskyf om die swart gat gevorm, met gasstrale wat loodreg op die skyfvlak uitgeskiet word en die gammastrale laat flits. Elementêre deeltjies word in hierdie straalversnellings versnel tot byna net so vinnig soos die spoed van lig en is in wisselwerking met die omliggende materie en bestraling, wat lei tot die groot produksie van gammastrale.”

Dit blyk die baie hoë-energie gammastraling wat nou opgespoor is, toon nie net die teenwoordigheid van vinnig versnelde deeltjies in GRB’s nie, maar wys ook dat hierdie deeltjies nog bestaan het, of geskep is, ’n lang tyd ná die ontploffing plaasgevind het.

“Die skokgolf van die ontploffing is waarskynlik die kosmiese versneller. Voor hierdie Hess-waarneming is aanvaar dat sulke ontploffings waarskynlik slegs binne die eerste sekondes en minute teen hierdie uiterste energieë waargeneem kan word, en nie vir baie ure ná die ontploffing nog nie,” lui die verklaring.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!