Hester se Hakieshart

'n Boervrou van die Suide deel die dinge van haar hart op haar gewilde blog.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht



Sy skryf oor dinge wat in haar kop aangaan, dinge wat haar bekommer, haar laat wonder, kwaad maak, ontstel of wat vir haar snaaks en kosbaar is.

Dié wat op welke manier ook al aan die ontvangkant van die ­vernietigende droogte staan, vind veral aanklank by Hester Steenkamp, boer se vrou en boervrou van die plaas Bulwana, 100 km suid-oos van Mariental op die Kalkplato, se mymeringe op haar blog Hakieshart.

“Die droogte is nou 'n verskriklike realiteit waarmee ons baie nou saamlewe en dis vir my baie moeilik om dit te aanskou,” vertel Hester.

Haar hart kry seer vir die diere wat so swaarkry en “nie net ons skape en bokke nie, ek praat van alle diere”.

Dit breek haar hart om hulle so te sien ly, en sy hoor en sien wat dit aan haar mense doen.

“Dit is hartverskeurend. Die mans probeer als in hul vermoë om vir hulle 'n kudde te behou, die vrouens probeer als om hul mans te ondersteun en moed in te praat. Elkeen het 'n belangrike rol om te speel.”

Wanneer sy daaroor skryf, weet sy daar is “baie, baie ander mense” wat in dieselfde bootjie is.

“Dit kan mos net help as ons almal saam bid en saam glo en saam vertrou. Dit laat voel my minder alleen,” sê Hester.

Verder skryf sy ook graag oor haar twee dogters en haar gesin as geheel. Retseh is verloof en woon in die Oos-Kaap en Sandri is 'n junior bemarker in Windhoek by Kaap-Agri.

“My familie is my hele hart en hulle is snaaks en eenders en verskillend en ek geniet hulle baie. Hulle is my grootste inspirasie.”

Hester en haar man Johnnie boer met skaap en boerbokke en sy het self 'n klompie bokke aangekoop met haar pensioengeld wat uitbetaal het toe sy die onderwys verlaat het.

“Johnnie bestuur hulle vir my, ek vra net af en toe hoeveel lammertjies daar al is! Daar is vir my niks oulikers as 'n bababokkie nie, daai lange ore is vir my te dierbaar!”

Verder hou sy haar besig met “gewone boervroudinge” en maak graag tuin, doen baie naaldwerk, lê in en bak beskuit.

Sy het nooit 'n dagboek gehou nie, sê Hester, maar haar kop is maar altyd aan die dink en kom nooit tot ruste nie, selfs nie eens as sy slaap nie.

“Ek dink as mense in my kop kon insien, het hulle my laat opneem!”

As jong meisie het sy graag gedigte geskryf, maar nadat sy getroud en die kinders gebore is, en later toe skoolhou haar besig gehou het, was daar nie meer tyd vir so iets nie.

“Ek is baie lief vir lees en sal altyd tyd daarvoor inruim.

“My rakke kreun onder die boeke en ek koop baie maklik 'n boek. Vir 'n boek en 'n plantjie het ek altyd geld!”

Hakieshart het danksy haar dogter Retseh ontstaan, vertel Hester.

“Ek het maar altyd my skrywes op my persoonlike Facebook-blad gedeel. Sy het geraas en gesê ek moenie alles op my blad sit nie, want dit word deur ander mense geshare en dan is al my persoonlike inligting oral.”

Retseh het voorgestel haar ma begin 'n blad “net vir daardie skrywes”.

“Aanvanklik wou ek nie lekker byt aan die idee nie, want dis nie asof ek op 'n gereelde basis iets opgesit het nie. Toe die blad eers daar is, het die gedagtes sommer vanself gevolg. Dit was amper asof dit so moes gebeur het.”

Die titel Hakieshart is ook Retseh se skepping en het vir Hester “dadelik reg gevoel”.

“My stories gaan mos maar oor die dinge van my hart en daar is mos maar soms so 'n ding of twee wat aan 'n mens se hart vashaak.”

Dit was nooit haar idee om 'n openbare blog te doen nie, erken Hester.

“Dit was maar sommer my gedagtes vir my familie en vriende. Ek is lief vir mense en ek gesels graag, maar op 'n plaas is mens mos maar alleen. Noudat die kinders uit die huis is, is dit net ek en Johnnie en hy boer heeldag. Ek is alleen met my gedagtes en dan skryf ek dit neer. Dit is soos om met 'n vriendin te gesels.”

Die reaksie op Hakies­hart “slaan my asem uit”, sê Hester.

“Die lesers is so ongelooflik ondersteunend en elkeen wat reageer op 'n plasing, hetsy met 'n like of 'n comment, is soos 'n vriend of vriendin wat na my luister en my hoor, wat raad gee en saam lag of saam huil en saam bid.”

Dit is vir haar die beste deel van Hakieshart, die gevoel dat sy 'n “ver­skriklike groot vriendekring het”.

“Mense wat altyd daar is vir my, dit is 'n wonderlike gedagte. Ek het ook agtergekom baie voel soos ek. Baie mense het dieselfde ­bekommernisse en probleme as ek en dadelik voel mens nie so verlore en alleen nie. Jy het skielik hierdie ongelooflike ­ondersteuningsnetwerk, wat my hart en my siel so goed doen.”

'n Boek is egter nie deel van haar toekomsplanne nie, dit los sy maar vir die kenners.

“Ek lees graag ander se boeke, maar ek sal nie eens weet waar om te begin met so iets nie.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!