Hewige loesing stuit Warriors in hul spore
Dinsdagaand se geploeter was beslis die gevolg van die afgelope 18 maande se onaktiewe liga en die sinnelose politiek van administrateurs wat die spel op sy knieë gedwing het.
Tielman van Lill – 'n Nederlaag met 3-0 was gewis die laaste manier waarop die Brave Warriors hul veldtog by die 2021 Afrika-Nasieskampioenskap (CHAN) in Limbe, Kameroen, sou wou afskop en dié uitslag teen Guinee plaas hulle onder groot druk.
Hoofafrigter Bobby Samaria se troepe is die eerste span in die toernooi sover wat drie doele sonder antwoord afgestaan het. Die Warriors se kwesbare verdediging en onvermoë om kanse in broodnodige doele te omskep, het hulle opnuut duur te staan gekom.
Hoewel die Namibiërs se balbesit bykans op gelyke voet was (45%), het Guinee sommer vroeg-vroeg met die eerste spreekwoordelike spyker in die Warriors se doodkis getref.
Die 22-jarige voorspeler, Yakhouba Gnagna Barry, wat vir twee van Guinee se doele verantwoordelik was, het ná skaars 13 minute die Warriors se doelnet getref. Die rampspoedige misverstand tussen die Namibiese doelwagter Edward Maova en die verdediger Immanuel Heita sal seker nog lank by beide van hulle spook.
Laat in die tweede helfte het Barry, wat vir die Horoya-sokkerklub in Conakry, Guinee, speel, sy glibberige vertoning afgerond toe hy in die 86ste minuut die Warriors se pyn met sy tweede voltreffer vererger het. Barry was die wenners se held met sy vermoë om op die regte tyd op die regte plek op te duik.
Met rustyd het die Brave Warriors met 'n agterstand van 2-0 in die kleedkamer met die hande in die hare. Die middelveldspeler, Morlaye Sylla (22), ook 'n Horoya-speler, het kort voor die rustydfluitjie Guinee se tweede doel skouspelagtig afgerond nadat hy in spasie aan die linkerkant deurgebreek het.
Guinee was wel met drie geelkaarte teenoor Namibië se een waarskuwing, maar was met vier uit agt probeerslae na die Warriors se doelhok op koers. Hierteenoor het Namibië nege keer na sy teenstanders se teiken gekorrel, maar net drie was op koers wat deur die akrobatiese Moussa Camara (22), doelwagter van Guinee, gestop is. Camara het veral goed gevaar om Ambrosius Amseb se vryskop-missiel van 30 meter weg te keer.
Die Warriors het vier hoekskoppe afgedwing, maar hul onvermoë om dit in doele te omskep, was deel van hul ondergang.
Namibië kon in sy laaste ses botsings teen Guinee nie 'n oorwinning smaak nie. Met slegs een gelykopuitslag is dit geen wonder dat “Syli Nationale” vooraf die kenners se gunsteling met 78 persent vir dié ontmoeting in Limbe was nie.
Ná die eindfluitjie het Samaria gesê: “Ons is opnuut 'n les geleer. Twee doele teen ons is ná simpel blapse aangeteken. Daar is nie verskonings nie, want ons het teen 'n goed voorbereide span verloor. Ons sal moet teruggaan na die tekenbord om planne vir ons volgende botsing teen Tanzanië te maak.”
Samaria en sy afrigtingspan sal met 'n nuwe plan vorendag moet kom, want komende Saterdagaand teen Tanzanië sal dit nie makliker gaan nie.
Tanzanië moes self Dinsdag die knie met 2-0 teen Zambië buig. Beide Namibië en Tanzanië is tans segeloos en sal Saterdag reddingswerk aan hul veldtog moet doen. Guinee met drie punte (3 doele) is tans boaan groep D, gevolg deur Zambië (3 punte, 2 doele), Tanzanië (0) en Namibië (0).
SAMARIA BLY HOOPVOL
Ondanks die spelers se individuele foute wat sy span se hoop vroeg reeds in die niet laat verdwyn het, het Samaria volgens NFA.org.na die verantwoordelikheid op hom geneem.
“Jy wen of verloor nie alleen nie en as hoofafrigter aanvaar ek die blaam. Die spelers het hul bes probeer en kan nie blameer word nie.
“Ons het beplan om te wen, maar ongelukkig het dinge teen ons gedraai. Ons sal die spelers motiveer, want ons het nog twee wedstryde oor.”
Die afrigter bly uiteraard positief dat oorwinnings teen Tanzanië en Zambië die span steeds tot die uitklopfase kan laat deurdring.
“Ons kanse is steeds lewendig. Dit kan steeds gedoen word.”
Die beginspan teen Guinee was: Edward Maova (doelwagter), Aprocius Petrus, Emilio Martin, Vitapi Ngaruka, Ivan Kamberipa, Dynamo Fredericks, Imanuel Heita, Ambrosius Amseb, Marcel Papama, Absalom Iimbondi, Elmo Kambindu.
Immanuel Heita is vir die tweede helfte deur Wesley Katjiteo vervang. Deryl Goagoseb en Isaskar Gurirab is onderskeidelik in die plek van Ambrosius Amseb (67ste minuut) en Dynamo Fredericks (78) opgestuur. Vitapi Ngaruka het ná 73 minute 'n geelkaart gekry.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie