Hidroponiese voerprojek van stapel gestuur
Hidroponiese voerprojek van stapel gestuur

Hidroponiese voerprojek van stapel gestuur

Die kabinet het geld beskikbaar gemaak vir die produksie van hidroponiese voer op klein skaal.
Augetto Graig
Augetto Graig - Die kabinet het verlede Dinsdag aangekondig Namibië sal die grootskaalse kweek van hidroponiese dierevoer aanpak.

“Dié besluit was lank uitstaande en kom in ‘n tydstip wat boere meer gretig is om te leer van lewensvatbare en volhoubare boerderymetodes.” So het me. Renthia Kaimbi, die stigter en eienaar van AquaGreens Namibia, gesê. Dié onderneming fokus op groenteproduksie met die gebruik van hidro- en akwaponie.

Mnr. George Simataa, die kabinetsekretaris, het aangekondig 7 000 boere – 500 uit elke streek – sal ondersteun word. Die helfte van hul onkoste vir die oprigting van ’n kleinskaalse hidroponiese voerproduksie-eenheid en die helfte van hul aanvanklike saadkoste sal gedek word.

Hierdie inisiatief is aanvanklik deur die kantoor van die eerste minister voorgestel, en later deur die ministerie van landbou, water en bosbou uitgebrei. Bydraes tot die bou van produksie-eenhede sal eenmalig aan boere uitbetaal word, en bydraes tot saad sal net tot Maart 2020 geld.

“Die regering en AgriBusDev moet wel deeglik met kenners en navorsers konsulteer voer om behoorlike strategieë te kan toepas," het Kaimbi gesê.

“Namibië moet stelsels skep wat sy klimaat en behoeftes in ag neem. Deur middel van volhoubare boerderymetodes soos hidroponie sal boere die balans tussen die omgewing, hulpbronne en voedselproduksie herstel.”



Kommunale, kommersiële, hervestigings- en ontluikende boere kan vir die projek kwalifiseer mits hulle daarvoor opgelei is.

Boere moet besonderhede oor hul veekuddes verstrek, wat gebruik sal word om begunstigdes te identifiseer.

Hulle moet ook identiteitsdokumente en vleisgehalte-sertifikasie verskaf om vir steun in aanmerking te kom.

Fakture van betroubare geregistreerde maatskappye, staatsondernemings en beroepsopleidingsentrums sal vir die oprigting van die eenhede aangewend word.

Dié toelae sal per huisgesin toegeken word.

“Ons moet nóú optree,” het Kaimbi gesê. “Juis omdat die regering hulp verleen vir volhoubare landbou en landelike ontwikkeling om die boere te leer hoe om hul produktiwiteit en doeltreffendheid te verbeter.

“Met hidroponie kan boere voer met 10% minder water kweek as met ander stelsels, met groeisiklusse wat tien keer vinniger is."

Sy het gesê lewende hawe kan egter nie uitsluitlik op hidroponiese voer oorleef nie weens die lae droëmateriaal-inhoud. Hooi en lusern moet bykomend gegee word.

Die kabinet het Dinsdag ook goedkeuring vir die implementering van ’n gemeganiseerde hidroponiese stelsel by een van die Groenskema-projekte verleen.

Vir dié doel is N$1,87 miljoen toegeken.

Groenskema-projekte word landswyd deur Agribusdev bestuur. Dié staatsonderneming het ten doel om nasionale voerproduksie uit te brei.

AgriBusDev het in September 2019 reeds N$10 miljoen van N$33 miljoen ontvang om hidroponiese voerproduksie as deel van die regering se Groenskema-projekte van stapel te stuur.

Die onderneming moet ook tot 30% van beskikbare Groenskema-grond aan die kweek van voer afstaan.

Die N$33 miljoen kom uit die nasionale rampfonds, en voerproduksie word as noodmaatreël geag om Namibiese boere tydens die droogte by te staan.

“Voerproduksie vir lewende hawe is ‘n duur onderneming, tensy dit vir hoender- of haasproduksie aangewend word, het Kaimbi gesê.

“Tog kan dit gedoen word as die regering die regte strategieë, mense en stelsels in plek het.”

Die ministerie van landbou, water en bosbou moet verdere navorsing doen oor die alternatiewe produksie van veevoedingaanvullings soos hidroponiese plante en boskos van indringerbos.

Hierná moet die ministerie aanbevelings aan die kabinet voorlê.

“Hidroponie as landboumetode kan werk skep, asook produksie en produktiwiteit verhoog,” het Kaimbi gesê.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 33° Rundu: 19° | 29° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 22° | 30° Ruacana: 21° | 29° Tsumeb: 19° | 29° Otjiwarongo: 18° | 26° Omaruru: 22° | 33° Windhoek: 21° | 29° Gobabis: 21° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 22° | 31° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 22° | 36° Aranos: 21° | 35° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 24° | 37° Oranjemund: 17° | 24° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 31° Lubumbashi: 17° | 29° Mbabane: 15° | 32° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 34° Windhoek: 21° | 29° Cape Town: 20° | 22° Durban: 20° | 30° Johannesburg: 18° | 28° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!