Hier is die top-10 twiets van 2017

Oudergewoonte stel verskeie maatskappye en media-instellings hul oorsigtelike top-10-lysies bekend namate die jaar einde se kant toe staan.

Die gewilde sosialemediaplatform Twitter het pas bekend gemaak watter twiets vanjaar die meeste gedeel is.

Hoewel pres. Donald Trump van Amerika die nuus oorheers met sy dikwels omstrede uitlatings op Twitter, kon sy vlytige vingers nie daarin slaag om enige van die top-10-posisies op die lys te haal nie. Tot Trump se renons kon Barack Obama in sy eerste jaar as oudpresident van Amerika daarin slaag om nie net een of twee nie, maar drie van die gesogte posisies op die lys te haal.

Hier is die top tien twiets wat vanjaar die meeste gedeel is:

10. Seth Joseph, ’n invloedryke sosialemediagebruiker, het in Augustus Twitter-gebruikers gevra om te help om bewusmaking rakende selfdood te verskerp ten einde ander mense se lewe te red. Sy pleidooi is meer as 600 000 keer gedeel.

9. Die Amerikaanse voetbalspeler Sam Martin het einde Augustus in ’n twiet belowe dat hy 6 pond (sowat 2,7 kg) se hondekos aan die stad Houston sou skenk vir elke persoon wat sy twiet deel. Sy veldtog het gekom nadat die verwoestende orkaan Harvey groot dele van Houston verspoel het. Meer as 620 000 mense het op sy twiet reageer.

8. Op 20 Januarie, sy laaste dag as die president van Amerika, het Barack Obama getwiet oor watter eer dit vir hom was om die inwoners van Amerika te dien. “Julle het my ’n beter leier en ’n beter man gemaak,” het hy gesê. Sy vaarwelboodskap is meer as 630 000 keer hertwiet.

7. Gewoonlik besoek die wenners van die National Basketball Association (NBA) se kampioenskappe die Withuis, maar vanjaar het Stephen Curry van die Golden State Warriors sy misnoeë oor die beplande besoek uitgespreek.

Pres. Trump het teruggekap en die span se uitnodiging na die Withuis teruggetrek. Dit is toe dat LeBron James van die Cleveland Cavaliers sy eie mening oor die saak op Twitter gedeel het: “Going to the White House was a great honour, until you showed up.” Spoedig het meer as 660 000 mense met hom saamgestem.

6. Die hoofsanger van die gewilde Amerikaanse rockgroep Linkin Park, Chester Bennington, het op 20 Julie vanjaar sy eie lewe geneem. Hy was 41. ’n Dag later het die groep se amptelike Twitter-rekening ’n foto van Chester geplaas sonder enige byskrif. Dié twiet is meer as 787 000 keer hertwiet.

5. Die tweede twiet van Barack Obama wat die top-10-lys haal, bevat die laaste sin van sy afsluitingstoespraak wat hy op 11 Januarie by McCormick Place in sy tuisstad, Chicago, gelewer het. “Thank you for everything. My last ask is the same as my first. I'm asking you to believe—not in my ability to create change, but in yours.” Meer as 872 000 mense het sy roerende pleidooi aan die mense van Amerika hertwiet.

4. Nadat ’n bomontploffing op 22 Mei die dood van 22 mense by ’n konsert van Ariana Grande veroorsaak het, twiet die sangeres vroeg die volgende oggend hoe gebroke sy is ná die aanval. “Ek het nie woorde nie,” skryf sy in ’n twiet wat 1,12 miljoen mense gedeel het.

3. Soortgelyk aan nommer nege hierbo het Pennsilvanië se staatsuniversiteit $0.15 vir elke hertwiet belowe ter hulpverlening aan die inwoners van Houston om te help ná die verwoesting van die orkaan Harvey. 1,16 miljoen mense het die twiet gedeel. Dit is nie bekend hoeveel die universiteit eindelik geskenk het nie.

2. Ja, Barack Obama maak nóg ’n verskyning op die lys. Kort ná oproer oor rassekwessies op die kampus van die Universiteit van Virginië in Augustus vanjaar het die oudpresident van Amerika ’n foto van homself op Twitter geplaas waarin hy met kinders van verskillende rasse deur ’n oop venster gesels.

“Niemand word met haat vir ’n ander persoon gebore weens die kleur van hul vel of hul agtergrond of hul geloof nie,” het hy daarby geskryf. Die foto is meer as 1,7 miljoen keer gedeel.

1. Vanjaar se gewildste twiet is nie net die twiet wat die meeste nóg gedeel is nie; dit het ook ’n baie oulike storie daar agter. In April vanjaar het Carter Wilkerson die Amerikaanse kitskosrestaurantgroep Wendy’s op Twitter gevra hoeveel keer sy twiet gedeel moet word sodat hy vir ’n jaar lank gratis hoenderrepies kon kry. Die maatskappy antwoord hom toe 18 miljoen.

Die 16-jarige Carter het hom geensins van stryk laat bring nie en spoedig na die wêreldwye web uitgereik en om hulp gevra. Hoewel hy nie die vereiste 18 miljoen gekry het nie, is Carter nou in die rekordboeke nadat sy pleidooi meer as 3,6 miljoen keer gedeel is. En Wendy’s het inderdaad ingestem om vir hom gratis hoenderrepies vir ’n jaar te gee. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!