Hier is kleintjies veilig

Daar is geen ander keuse nie: die kindergarten moet voortgaan en floreer, sê die vasbeslote stigter en eienaar.
Tanja Bause
Tanja Bause – “Asseblief, gebruik my kindergarten as 'n vullishoop waaruit my kinders 'n toekoms vir hulself kan bou,” sê die eienaar van River­side Day Care in Otjomuise, met verwysing na skenkings van bruikbare items.

Emgard Karises het die kindergarten ses jaar gelede as 'n besigheid begin, maar met Covid-19 en soveel mense wat hul werke verloor, het haar ­inkomste skerp afgeneem.

Sy vra dat mense wat van byvoorbeeld matrasse, stoele, tafels, skryf­behoeftes, boeke, ­speelgoed en so meer ontslae wil raak, dit eerder aan haar skenk en sy dit vir haar ­kindertuin kan gebruik.

“Ek het my werk bedank om met die kindertuin te begin, omdat ek die behoefte daarvoor raakgesien het.

“Ek het met 15 kinders in my sit­kamer begin. Vandag het ek 13 kinders in 'n klaskamer wat ek uit my eie sak aangebou het. Ek het elke maand geld weggesit en stadig maar seker die sinke en pale aangekoop; die sement­vloer gegooi en die klaskamer gebou.

“Ek het later weer gespaar om die tafels en stoele te koop wat ook nie genoeg was nie.”

Emgard het aanvanklik babas van so jonk as twee weke oud aanvaar en opgepas.

“Ek het die eerste baba wat twee weke oud was in my slaapkamer grootgemaak. Vandag sorg ons vir kinders tussen die ouderdomme van drie maande tot ses jaar. Die groter kinders word geleer en vir skool­gereedheid voorberei.”

Riverside Day Care open elke oggend vyfuur hul deure omdat talle van die ma's huishulpe is en self by die werk moet uitkom, maar eintlik is hulle van 07:00 tot 17:00 oop.

“Ons kan nie die kinders op straat laat staan nie; ook nie dat die ma laat by die werk aankom nie.

“Ek self doen huiswerk elke dag om geld te verdien om die kindergarten aan die gang te hou en om brood op my eie gesin se tafel te kan sit. Ek het vir Rencia, wat my met die kinders help, vir wie ek 'n salaris betaal.”

Rencia Ochurus is van die begin af reeds deel van Riverside en kinders is haar passie.

“Attie is maar een van die vele kinders wat baie diep in my hart ingekruip het. Ek pas hom al op vandat hy 'n klein baba was; hy word vanjaar vier jaar oud,” het Rencia gesê.

“Ek is baie lief vir die kinders en ek weet as ouers werk, het hulle 'n behoefte aan iemand wat na hul kinders kyk en hulle veilig hou.

“Iemand wat instaan terwyl hulle nie kan en as ouer optree, hul kinders oppas en bewaar en dus moet ek met die kindergarten aangaan,” het Emgard gesê.

[email protected]

FOTO’s Tanja Bause
Attie is al van ’n klein baba af by die Riverside Day Care. Hy word vanjaar vier jaar oud.
Emgard Karises (sittend), eienaar van Riverside Day Care in Otjomuise saam met Rencia Ochurus en van haar kinders.
Rencia Ochurus en Attie wat al sedert sy babadae by die Riverside Day Care in Otjomuise is.

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer