Hierdie vakansie op die boekrak

Gerine Hoff
Vlakwater deur Ingrid Winterbach
’n Buitengewone avontuur – iets verrassends en nuut in Winterbach se oeuvre, sê Thys Human oor Winterbach se jongste boek.
Die middag kry Niek ’n poskaart in sy posbus. Dis ’n afbeelding van El Greco se skildery van Vincenzo Anastagi. Die boodskap agterop lui: Enige ekstra eksemplare van Vlakwater? V.S. V.S., nè?! Dit kan net Viktor Schoeman wees. ’n Suid-Afrikaanse posseël. Hier gepos dus. Dit voorspel niks goeds nie.
Ná die verbrokkeling van sy verhouding vestig die kunstenaar Niek Steyn hom in Kaapstad. Wanneer een van Marthinus Scheepers se varke in Niek se tuin beland, raak hulle bevriend. Charelle Koopman, ’n belowende fotografiestudent wat by Niek loseer, verdwyn eendag sonder waar­skuwing, en ’n welaf kunstenaar maak ’n verdagte aanbod op Niek se huis.
Op Stellenbosch skryf ’n vrou met ’n haaslip ’n monografie oor die videokuns van die Olivier-broers, en word op ’n dag ooggetuie van ’n moord. Kort hierna nader ’n holwangkêrel met ’n maniese blik in sy oë haar met ’n vreemde voorstel . . .
• Vlakwater (ISBN: 9780798170475) is deur Human & Rousseau vrygestel.

Stoffel: die beste stories deur Christiaan Bakkes
Christiaan Bakkes word onthou as die man wie se arm deur ’n krokodil afgebyt is in die Krugerwildtuin. Dit was ’n waterskeiding in sy lewe. Hy was linkshandig en het sy linkerarm verloor. Tydens rehabilitasie moes hy met sy regterhand leer skryf, en uit daardie pogings is Afrikaans se enigste werklike wildernis­skrywer gebore.
Met sy eerste boek, Die lang pad van Stoffel Mathysen, het Bakkes die Stoffel-persona geskep vir die oorvertel van ware gebeurtenisse in sy lewe. Nou, met Stoffel: die beste stories, word Bakkes se gunstelingverhale in een band byeengebring, treffend aangevul deur ’n foto­seksie in kleur.
In sy kenmerkend ongekunstelde en humoristiese styl vertel hy van sy eerste wilderniservarings as kind, van sy diensplig­jare en van sy werk as safarigids in Namibië. Hy vertel stories van die veld, van berge en bosse – as reisiger deur Afrika, met ’n stem soos geen ander in Afrikaans.
Die verhale in hierdie bundel word byeengebring deur Suzette Kotzé-Myburgh, en word saamgestel uit Bakkes se Stoffel in die wildernis (2000), Stoffel by die afdraaipad (2004), Stoffel se veldnotas (2007), Stoffel in Afrika (2010), Stoffel op safari (2012) en Krokodil aan my skouer (2014).
• Stoffel: die beste stories (ISBN: 9780798171113) is deur Human & Rousseau vrygestel.
Die verdwyning van Mina Afrika deur Zuretha Roos
Hierdie is ’n nuwe uitgawe van dié gewilde roman, nadat dit vroeër vanjaar as middagvervolgverhaal op RSG voorgelees is.
Op ’n winterdag in 1945 ontferm ’n kinderlose blanke egpaar, Sara en Erik de Graaff, hulle oor ’n driejarige halwe weeskind – Mina Afrika. Hulle wil haar graag ’n kans in die lewe gee, haar fyn opvoed.
Maar dadelik begin die gegis, die geskinder in die Hexvallei Want Mina se vel lyk soos koffie vol ­Jerseyroom. Soos die jare kom en gaan, bly sy hul “aanneemkind”. Dit is die wyse, bejaarde Tietser Meraai wat meer soos ’n ma vir haar is. Sy waarsku die pragtige, intelli­gente kind: Net een misstap en die blankes sal vinger wys en sê: Daar het die De Graaffs nou hulle loon. Wat het hulle in elk geval verwag van ’n “­hotnoskind”, maak nie saak hoe goed sy “­opgevoed” is nie.
Dan, terwyl Mina nog vol ambisie haar toekoms beplan en haar drome met die bewonderende Boeta Bantjies deel, gebeur dié “misstap”.
Die verraderlike daad van ’n ryk jong wit man dryf Mina weg uit die Vallei, laat haar beland in ’n eindelose spiraal van bedrog. ’n Lewe van vernedering in Groenpunt en tussen die bendes van Distrik Ses . . .
• Die verdwyning van Mina Afrika (ISBN: 9780624076926) is deur Tafelberg vrygestel.

Tikkun Ha’olam: ­Herstel die wêreld deur Marzanne Leroux-Van der Boon
Twee maande nadat Rivkah na die Filippyne vertrek het, word sy deur die hospitaal ontslaan. Die Krige-huishouding het skaars weer na normaal teruggekeer toe drie Israeli-tieners ontvoer word en ’n paar regses meen Jode het ook die reg om wraak te neem. Dan wanneer die Tzuk Eitan-grondoffensief afgekondig word, word Marc saam met 40 000 ander reserviste na die Gasa-grens gestuur. Ná ’n baie moeilike jaar sien beide Rivkah en Marc uiteindelik uit na hul “geskenkweek” in Parys, waarheen Marc vir ’n simposium genooi word. Maar selfs in hierdie betowerende stad, met sy kunstenaars en keisteenstrate, kan Marc en Rivkah nie van die terreuraanvalle ontsnap nie en kort voor lank is hulle in ­lewensgevaar . . .
• Tikkun Ha'olam: Herstel die wêreld (ISBN: 9780796318657) is deur Lux Verbi vrygestel.

Die verdwyning van Billy Katz deur Chris Karsten
Moordspeurder Ella Neser is terug. Erg hees en met ’n bewing in haar hande wat sy nie vir kolonel Silas Sauls kan wegsteek nie. Maar sy is verbete om haar ou self te herwin. Wanneer sy aangesê word om die spoor te vat van vier geamputeerde voete, ontmoet sy die onkonvensionele oud-speurder Lou Pepler, wat twee dekades gelede die verdwyning van Billy Katz moes probeer oplos. Wat het ’n begrafnisondernemer gemeen met Billy se verdwyning soveel jaar gelede? En is stink Attie regtig verantwoordelik vir die vier linkervoete wat in ’n Checkers-sak in die Botaniese Tuin gevind is? Lou is bereid om Ella met haar voetesaak te help. Maar, soos sy alte goed weet, is niks in die lewe verniet nie . . . En aantreklike Lou Pepler, met ’n voorliefde vir beetsap en sampioene (nie net die gewone eetbare soort nie), is ook ’n man vol geheime.
• Die verdwyning van Billy Katz (ISBN: 9780798171076) is deur Human & Rousseau vrygestel.

Struisvoël deur Johan Fourie
Op die plaas Vrede van die Blanckenbergs, langs die Gamkarivier in die Klein-Karoo, spoel drie kinders op 16 Desember 1880 soos opdrifsels uit twee verbondsriviere saam. Drie struisvoëls wat in vloedwater voortdryf, langnekmaste sonder seil . . . Klein-Sarel, wat bedags in die volstruiskamp namens sy ma vloek en sy pa tot toorn verwek. Victoria, van geboorte af niemandskind op ’n ander se land. En Marja, oud genoeg om te weet die hel kan enige tyd, enige plek wees. ’n Leeftyd later kan sy nog die presiese datum onthou. Dit was die dag nadat haar pa sy plaas afgeteken het. Die dag ná haar veertiende verjaarsdag. Die dag van die afloop van ’n vloed en die begin van ’n noodlottige nuwe verloop, soos wanneer strome in ’n groter poel saamvloei, ineenloop, ’n oomblik rus, en dan onstuitbaar aanstorm see toe. ’n Merkwaardige debuut wat teen die agtergrond van die opbloei en ineenstorting van Oudtshoorn se goue volstruisveer-era, enduit boei en verras.
• Struisvoël (ISBN: 9780624075585) is deur Tafelberg vrygestel.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!