Hiu00ebnas maai onder wilde perde
Hiu00ebnas maai onder wilde perde

Hiënas maai onder wilde perde

Geen vul het die afgelope ses jaar oorleef nie en hiënas vang elke derde nag ’n perd.
Tanja Bause
Tanja Bause - Indien daar nie dringend ingegryp word nie, gaan die Namib-woestyn binnekort hul geliefde wilde perde kwyt wees.

“As ons niks doen nie, sal hulle teen die einde van dié jaar uitsterf - selfs al ontvang die gebied genoeg reën.

“’n Groot en gewilde toerisme-aantreklikheid van die Suide sal vir altyd verlore wees.”

Dít volgens ’n verklaring wat die Aus/Lüderitz Business Action Group en die Namibiese Kamer van Handel en Nywerheid (NCCI) se tak op Lüderitz uitgereik het.

Die wilde perde word deur sowat 12 gevlekte hiënas bedreig, wat tans elke derde nag ’n perd vang.

’n Omvangryke opname van die perde wat aan die begin van Desember verlede jaar gedoen is, toon daar is tans net 86 oor - 35 merries en 51 hingste.

“Dit is al amper te laat om ’n oplossing te vind en hulle te red. Elke week wat ons op ’n oplossing wag, word twee perde deur die hiënas vrekgemaak. Ons moet nóú reageer,” lui die verklaring.

Sedert 2013 word die gebied waarin die perde voorkom, deur droogte geteister.

Die bevolking wissel weens die uiters droë weersomstandighede, maar die tekort aan gras was nog altyd deel van hul bestaan.

Toe die getalle weens die voortdurende droogte te laag gedaal het, het die Namibia Wild Horse Foundation ingegryp en hulle van kos voorsien.

Sedert Oktober 2015 is daar meer as N$1,5 miljoen aan kos bestee om dié diere se voortbestaan te verseker.

Weens die droogte het baie van die hiënas se natuurlike prooi, soos onder meer gemsbokke, uit die gebied getrek.

Die hiënas het egter hierby aangepas en vang nou gesonde wilde perde.

Dit wil ook voorkom of daar tans meer hiënas as ooit in die Garub-gebied is.

Hoewel die hiënas met die toestemming van die ministerie van die omgewing en toerisme (MET) gevoer word, lyk dit of hulle perde verkies.

Geen vul het sedert 2012 oorleef nie - dit skep ’n generasiegaping van vyf jaar, wat in die toekoms ’n genetiese bottelnek kan veroorsaak.

“Ongelukkig het daar nog niks gekom van al die voorstelle wat ons aan die MET gemaak het nie, omdat verskillende oortuigings oor die perde se status in die ministerie bestaan,” lui die verklaring.

Die direktoraat van toerisme erken die waarde van die perde as internasionale toeriste-aantreklikheid en beskou menslike ingryping om die diere te beskerm as baie belangrik.

Die direktoraat van natuurlewe en parke het dit egter duidelik gemaak die wilde perde is ’n eksotiese spesie in die park en dit is nie maklik om hulle te beskerm nie.

“Hulle het dit duidelik gemaak die perde word nie as wilde diere geklassifiseer nie. Hulle is ook nie meer mak nie omdat hulle by hul omgewing aangepas het. Die direktoraat het dit duidelik gemaak die gevlekte hiënas is inheems in die park en daar sal nie met hulle ingemeng word nie. Dit word as 'n wetlike hindernis beskou en lei oënskynlik tot dusver na die vertraging van enige besluitnemingsproses.

“Dit is jammer dat mense se besluiteloosheid die perde, wat al meer as 100 jaar in die omgewing leef, selfs nog voor die gebied tot ’n park verklaar is, se einde kan beteken,” sê die verklaring verder.

Studies het getoon die perde het geen impak op die inheemse plantegroei of diere nie.

“Dit sal ’n skande vir Namibië wees as dit internasionaal bekend word dat ons die wilde perde laat uitsterf het, hoewel almal, insluitende die owerhede, van die kwessie bewus was.”

'n Onmiddellike, lewensvatbare en bekostigbare korttermynoplossing is om die groep hiënas na ander gebiede of natuurparke, soos byvoorbeeld die gebied oos van die Visrivier, te verskuif.

Dit sal die perde kans gee om te herstel en weer te begin aanteel sodra dit gereën het.

Hiënas wat dan nuut in die gebied intrek, sal makliker gemonitor kan word, omdat hulle nie gewoond daaraan is om perde te vang nie.

“Ongelukkig moet die MET toestemming hiervoor gee, wat te lank kan vat om die perde betyds te red.”

'n Duurder en meer drastiese tussentydse noodoplossing is om die perde onmiddellik na naburige gehuurde plase te verskuif onder die toesig van die Namibia Wild Horse Foundation.

Dié voorstel is ook aan die MET gemaak en is aan die beskikbaarheid van plaasgrond onderhewig.

“Ons as lede van NCCI, die Aus/Lüderitz-besigheidsgemeenskap en die gemeenskap in die geheel is baie bekommerd - nie net oor die bewaring van die perde nie, maar ook oor die uitwerking daarvan op ons lewensbestaan indien die perde aan hulle eie lot oorgelaat word.

“Statistieke toon dat Aus in 2016 om en by 25 000 hotelgaste en kampeerders gehad het. Verder is daar sowat 130 werkgeleenthede op Aus wat direk met toerisme verband hou. Die toerismebedryf is dus die grootste werkverskaffer op Aus. In 2016 was daar 33 179 betalende gaste wat Kolmanskop besoek het.

“Dit sal ook besighede soos diensstasies, winkels en kroeë op Aus en Lüderitz raak.”

Die aksiegroep doen ook ’n beroep op mense om donasies aan die Namibia Wild Horse Foundation te maak, sodat hulle kan voortgaan om die perde te voer tot toestande by Garub weer herstel het.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!