Hittegolwe in oseane knou aarde
Hittegolwe in oseane knou aarde

Hittegolwe in oseane knou aarde

Die navorsers het bevind die Atlantiese, Indiese en dele van die Stille Oseaan is veral kwesbaar omdat dié oseane hoë vlakke van biodiversiteit huisves.
Elise Tempelhoff - Hittegolwe teister nou ook die planeet se oseane, en dit het verreikende gevolge vir mariene ekostelsels, lui 'n studie wat Maandag in Nature Climate Change gepubliseer is.

Die temperatuur van die oseane oor die planeet heen het die afgelope 30 jaar geweldig gestyg. Dit begin nou ook al hoe duideliker word hoe dodelik dié verhoogde temperatuur vir biodiversiteit en die lewe onder die see is, lui die studieverslag, “Ocean heatwaves threaten global diversity and the ­provision of ecosystem services”.

Die navorsers het bevind die Atlantiese, Indiese en dele van die Stille Oseaan is veral kwesbaar omdat dié oseane hoë vlakke van biodiversiteit huisves.

Van die kwesbaarste spesies kom in die warm Indiese Oseaan voor, terwyl ander in die koue Atlantiese Oseaan voorkom. Ontwrigtings in die ­verspreiding van spesies kan reeds waargeneem word.

Dit word toegeskryf aan klimaatsverandering, waarvan die tempo deur die mens versnel word, sê die navorsers.

Kelp, korale en seegras, “kritiese” fondasie-spesies – die raamwerk van die oseaan se ekostelsels – word reeds ontwrig deurdat korale al begin bleik het, lui die studieverslag, wat daarop wys dat die helfte van die Groot ­Barrière-rif aan die noordoostelike kus van Au­stralië reeds dood is.

AFNAME IN BIODIVERSITEIT

Hittegolwe in die oseane het die ­afgelope 30% met 54% toegeneem, sê die navorsers. Dié waarneming stem ooreen met die afname in biodiversiteit in die see.

National Geographic berig die hitte­golf bekend as die “blob”, 'n massiewe hoeveelheid warm water wat van 2014 tot 2016 aan die weskus van Amerika voorgekom het, is ook in die studie opgeneem.

Die “blob” was verantwoordelik vir die dood van massas ongewerweldes en mariene soogdiere.

'n Studieverslag wat verlede week in die tydskrif Science gepubliseer is, wys daarop dat visbevolkings in die see op sommige plekke met 4% afgeneem het en op ander met tot 30%.

Die wetenskaplikes in albei studies waarsku dat seegras, korale en kelpwoude wat afsterf, koolstofdioksied (CO2) in die atmosfeer sal vrystel.

Hulle wys daarop dat 26% van die koolstofdioksied wat reeds op land gegenereer is, deur die osea­ne geabsorbeer is. As korale, kelpwoude en seegras doodgaan, sal al dié CO2 weer in die aarde se atmosfeer beland.

Die wetenskaplikes sê ter afsluiting dat energie-opwekking so gou ­moontlik van fossielbrandstowwe na hernubare bronne moet ­oorskakel om wegholklimaatsverandering te voorkom. Wegholklimaatsverande­ring sal tragiese gevolge vir die planeet en sy bewoners inhou, lui albei ­studieverslae.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!