Hu00f3nger Jan Taks verwag
Hu00f3nger Jan Taks verwag

Hónger Jan Taks verwag

Minister Calle Schlettwein voer vanmiddag opnuut 'n koorddans met die balansering van bultende uitgawes en 'n skuldlas en inkomstebronne wat onder druk is.
Jo-Mare Duddy Booysen
Jo-Maré Duddy en Ndama Nakashole



Hoër en nuwe belastings is een van die min opsies wat die mi­nister van finansies, mnr. Calle Schlettwein, het om Namibië se geldsake te laat klop, meen ontleders.

Schlettwein, wat vanmiddag die 2018-'19-hoofbegroting in die parlement ter tafel lê, het min beweegruimte om besteding kwaai te sny. Boonop gaan die Sacu-fonteintjie – tradisioneel een van die vernaamste inkomstestrome vir die regering – weens die aanpassing van die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (Sacu) se formule vir inkomsteverdeling heelwat leër wees. Met internasionale kredietgradeerders wat oor Schlettwein se skouer loer, het hy egter nie 'n keuse as om die konsolideringsroete verder te volg om die land se begrotingstekort en skuld weer op 'n volhoubare koers te bring nie.

Hoër inkomste sal waarskynlik deur 'n nuwe vorm van korporatiewe belasting of 'n nuwe skaal vir persoonlike inkomstebelasting geteiken word, sê mnr. Dylan van Wyk van Cirrus Capital. Die kans vir laasgenoemde is egter skraler, aangesien die huidige persoonlike inkomstebelastingstelsel reeds redelik progressief is, sê hy.

Mee. Melanie Allen en Indileni Nanghonga van Simonis Storm (SS) verwag Schlettwein sal maatreëls instel wat die belastingbasis beskerm. Deur die skrap van sekere kategorieë van belastinvrystelling sal winsver­skuiwing en die onwettige vloei van geld verminder word.

Anders as in Suid-Afrika, sal Namibiërs hulle waarskynlik nie vir hoër belasting op toegevoegde waarde (BTW) hoef te staal nie, meen SS. 'n Verhoging in brandstofheffings is wel 'n moontlikheid.

Schlettwein sal dalk ook veronderstelde belasting (presumptive tax) implementeer. Groter besighede in die informele sektor sal sodoende in die belastingnet beland, sê SS.

'n Terughoubelasting (withholding tax) op dividende vir inwoners kan van nul tot 10% verhoog word, terwyl dié vir nie-inwoners dalk van 10% tot 20% kan styg, sê Van Wyk.

Ngoni Bopoto van Namibia Equity Brokers (NEB) meen hoër inkomste sal deur 'n breër belastingbasis en doeltreffender invordering geteiken word.



Geen verrassings

Ontleders deur die bank verwag 'n voortsetting van Schlettwein se besuinigingsbeleid.

“Schlettwein het geen ruimte om te beweeg nie, aangesien sy konsolideringsprogram markte moet verseker dat die land nie finansieel in duie gaan stort nie,” sê prof. Roman Grynberg van die Universiteit van Namibië (Unam).

Die drastiese inperking van besteding in 2016-'17 het egter sy tol op die ekonomie geëis en die land kan dit nie weer bekostig nie, maan ontleders.

As sulks verwag Cirrus dat die nuwe begroting se konsolideringspas “meer geleidelik” sal wees.



'kritieke kwessies'

Die gevolg van die begrotingsbesnoeiing in Oktober 2016 was erger as verwag – veral in sektore soos die die konstruksiebedryf – en het ongetwyfeld 'n negatiewe uitwerking op werkgeleenthede, sê Van Wyk.

Me. Eloise du Plessis van PSG Namibia stem saam en sê die regering moet herstel in die konstruksiesektor “prioritiseer”. Volgens haar sal die beplande infrastruktuurfonds hiermee help.

Dat die begrotingstekort binne perke moet bly, is nie onderhandelbaar nie. Dit moet egter van die inkomste- én bestedingskant gedoen word, sê Van Wyk.

SS sê hulle wil graag die regering se standpunt oor twee “kritieke kwessies” hê: Fiskale ­konsolidering en inkomste-invordering sonder dat 'n negatiewe uitwerking op ekonomiese groei het en terselfdertyd die skuldlas verminder of op dieselfde vlak hou.

Die twee groot bestedingskwessies bly die reusesalarisrol van die staatsdiens en verdedigingsuitgawes, sê Van Wyk.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer