Hou00eb pryse, groen gras nie genoeg vir heropbou
Hou00eb pryse, groen gras nie genoeg vir heropbou

Hoë pryse, groen gras nie genoeg vir heropbou

Regering moet landbousektor ondersteun
Ronelle Rademeyer
Dr. Kobus Laubscher



Veranderings gedurende die jaar aan die verskillende sektore se bydrae tot die ekonomie moet versigtig ontleed word. Dit het die eerste drie kwartale van 2020 erg wipplank gery.

Hierbenewens het Covid-19 ook Namibië se ekonomie erg ontwrig, wat op sigself groot eise aan die begrotingsdinamiek stel. Dit is algemene kennis dat daar nie gewag kan word tot ná die pandemie om ekonomies te herskik nie. Enige herskikking geskied egter binne erg beperkende fiskale ruimte. 'n Les tot dusver is dat prioriteite hersien moet word, want Covid-19 is endemies en sal 'n spreekwoordelike blok aan die been bly.

In 'n ontwikkelende ekonomie rus 'n ekstra las op regerings se skouers, naamlik maat­skaplike beskerming.

Werksverliese en gevolglike armoede en selfs durende honger kry noodwendig voorkeur in die toedeling van die fiskus, maar so word dikwels ontwikkelingsmoontlikhede misgekyk, wat nodig is om toedeling so te bewerk dat die sogenaamde vermenigvuldigereffekte optimaal is.

Landbou is juis bekend daarvoor omdat die meeste landbouprodukte noodsaaklike transformasie moet ondergaan. Die slagos uit Outjo moet êrens geslag, verwerk en verpak word vir die plaas­like en/of die uitvoerverbruiker. Dit sal 'n fout wees indien net gefokus word op primêre landbou se bydrae tot die ekonomie. Daardie bydrae krimp namate 'n ekonomie ontwikkel, maar bly onontbeerlik vir die ekonomie omdat die eintlike waarde buite die plaashek toegevoeg word. Die onverwerkte produk is weliswaar die brandstof vir die waardeketting tussen plaashek en die vurk van die verbruiker.

Die land het die afgelope jare onder seker die ergste droogtes in menseheugenis deurgeloop en nou is heropbou aan die orde van die dag. Kuddes is uitgeslag en met beter weiding en prysvooruitsigte, én die verwagting dat dié omstandighede sal voortduur, het boere op 'n groeistrategie laat besluit. Diere is teruggehou en hoë veilingspryse onderstreep dié hernude vertroue. Aan daardie kant van die plaashek, bring die waardeketting sy kant.

Die vraag is tot watter mate die regering die beleggingsbesluite wat boere reeds geneem het, ondersteun. Dit is hier waar die pap op die grond val, want hoë pryse en groen gras word dalk verkeerdelik gesien as voldoende vir die heropbou.

Die feit is dat die landbou juis nou die hefboom nodig het om volhoubaarheid op plaasvlak te hervestig en sou derhalwe op groter bydraes kon aanspraak maak – bydraes soos infrastruktuurontwikkeling, groter besteding aan navorsing, ensovoorts.

Wanneer 'n boerdery winsgewend is, begin ekonomiese ontwikkeling op die regte plek. Winsgewende boerderye kan hul mense in diens hou en behoorlik vergoed. Dié werknemers bestee dan hul geld in die platteland. Die Outjo-beesboer wat winsgewend kan boer, se werknemersvergoeding word op Outjo bestee en daardie ekonomie word gesteun.

Dit is waar die ware krag van die­ landbou­sektor lê en is bepaald die “goedkoopste” manier om die ekonomiese verval te keer en om te draai.

Wat vereis word, is om dit makliker te maak om kos te produseer daar waar boerdery bedryf word, naamlik die platteland. Dit gaan in die meeste gevalle nie noodwendig oor fiskale ondersteuning nie, maar om grootliks uit die pad te kom daar waar die landbou vir homself wil sorg.

Landbouleiers is dus reg as hulle argumenteer dat landbou afgeskeep word by die toedeling van die fiskus. Hulle, die leiers, moet eenvoudig aggressief beding vir veranderde siening by die fiskus, naamlik om onverskrokke te wys dat die herstel van boerderytoestande allermins voldoende is vir landbou om sy rol te speel.

Hulle behoort daarop aan te dring dat verbeterde boerdery-omstandighede die regte grondslag is van waar 'n ekonomiese groeirevolusie gelan­seer kan word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!