Hoe gemaak met droogtevoeding?

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - “Droogte dien een goeie doel: Dit wys swak aangepaste diere uit. Hulle kan gemerk word en later, wanneer hul kondisie verbeter het, bemark word.”
Só sê die Suid-Afrikaanse skaapvoeding- en bestuurspesialiskonsultant, dr. Jasper Coetzee. Hy het met Die Boer oor droogtevoeding gesels.
“Droogtevoeding neem gewoonlik ’n aanvang wanneer die weiding nie meer in minstens 30% van diere se voedingsbehoefte kan voorsien nie,” sê Coetzee.
Volgens hom moet boere ook in droogtetye so gou as moontlik van enige oortollige diere ontslae raak. “Dit is meer koste-doeltreffend om diere af te rond, markgereed te kry en te verkoop as om hulle oor ‘n langer tydperk vir onderhoud te voer,” sê hy.
“Tweedens moet jy so ver moontlik in die minimum behoeftes van reproduserende asook speen-ooilammers voorsien, sodat jy steeds ‘n aanvaarbare reproduksietempo kan handhaaf.”
Volgens Coetzee hang die produsent se voedingsopsies in droogte van sy eie finansiële situasie af; of hy ‘n stoet- of kuddeboer is; watter grondstowwe hy beskikbaar het of kan bekom asook die duur en hewigheid van die droogte.
Coetzee waarsku erg verhongerde diere, veral die wat min proteïen inneem, die vermoë kan verloor om ammoniak na ureum om te skakel. Dit kan daartoe lei dat selfs 'n lae ureuminname toksies kan wees.
“Produkte wat hoë vlakke van ureum bevat, moet versigtig in droogte gevoer word, want dit kan tot ureumvergiftiging lei,” sê Coetzee. “Maer diere wat op proteïengebrekkige of yl weiding loop, moet nie ureumryke voer gegee word nie, mits dit met graan of melassemeel verdun is.”


Planne tydens droogte
Coetzee sê kuddeboere kan oorweeg om al hul diere te verkoop, die geld te belê en ná die droogte weer diere te koop.
“Jy kan jou diere net vir oorlewing voer, maar dit moet opgeweeg word teen baie lae kalf-, lam- en speenpersentasies, lae speenmassas met ‘n hoë persentasie boepenslammers asook lae wolproduksie.”
Coetzee sê die beste opsie vir boere met goeie gehalte kuddes en stoetboere is om so gou moontlik oortollige diere te bemark en die res só te voer dat hulle steeds teen ‘n aanvaarbare vlak produseer.
“Die eerste diere om uit te skot, is onproduktiewes wat nie gelam of gekalf het nie of laagproduktiewes wat nie jaarliks lam of kalf nie.
“Hoogsproduktiewe diere soos ooie wat elke lamseisoen 'n tweeling kry of koeie wat elke kalfseisoen swaar kalwers speen, moet onder geen omstandighede uitgeskot word nie.”


Wenke vir droogtevoeding
Coetzee sê goeie gehalte teelooie en -ramme moet spesiale voeding in droogtes kry sodat teelprogramme volgehou kan word.
“Met rampdroogtes verskuif die klem na oorlewing. ‘n Gewigsverlies van 15% tot 20% kan onder sekere omstandighede toegelaat word, maar byvoeding moet begin as skape minstens nog 3 kg tot 4 kg bo hul minimum toelaatbare massa is, want hulle gaan nog massa met die dieet-oorskakeling verloor.”
Coetzee sê produksie en veral reproduksie sal ingeboet word as reproduserende diere te veel massa verloor. Dit geld ook vir beeste.
“By teelooie sal dit aanleiding gee tot lae lampersentasies; hoë lamvrektes; swak lamgroei; toename in boepenslammers; probleme om lammers markgereed te kry en ‘n drastiese afname in wolproduksie.
“Hoe vroeër met byvoeding begin word, hoe minder daarvan is nodig om die dier te onderhou,” sê Coetzee.
Coetzee sê bale moet oopgebreek word en oor ‘n oppervlakte versprei word. Hy sê ook weens baie diere in klein kampies tydens droogtevoeding, bou interne parasiete vinnig op en is dossering nodig.
“Mismonsters moet gereeld geneem word om parasietbesmetting te monitor. Bloednier kan voorkom weens die verandering van voeding, immuniseer dus voorkomend,” sê Coetzee.
Vitamien A-tekorte kan ook voorkom wanneer vee vir langer as drie maande nie toegang tot groen weiding gehad het nie.


Byvoeding met voldoende weiding of ruvoer
Coetzee sê al word vee vir onderhoud gevoer, moet hulle steeds ‘n gebalanseerde voorsiening van energie, proteïen, minerale en vitamiene ontvang.
“Energieryke grane soos mielies moet nooit as die enigste byvoeding op droë weiding of saam met droë ruvoer gegee word nie, want dit versuur die grootpense van die skape,” sê Coetzee.
“Sodra die grootpens se pH onder 6,2 val, begin mikrobes afsterf. Dit verlaag die skaap se vermoë om vesel te verteer en gevolglik die inname van droë weiding en ruvoer. Dit kan veroorsaak dat skape min wei en meer geneig is om by die voerbakke te lê.”
As net graan gevoer word, kan dit lei tot geboorteprobleme; swak uierontwikkeling; abnormale dik en taai bies; lae bies- en melkproduksie; hoë persentasie lamvrektes en ooie wat lammers weggooi; swak lammers met geboorte en swak groei onder lammers.
“Grane moet altyd saam met proteïenbronne gevoer word.”
Coetzee sê wanneer voldoende droë weiding of ruvoer soos hooi, strooi en mielieblare beskikbaar is, moet proteïen aangevul word om die verteerbaarheid daarvan te verhoog. Die rumenaktiwiteit van die mikrobes kan gestimuleer word deur gereeld ‘n selfgemaakte mengsel te doseer (sien kassie).


Byvoeding sonder ruvoer en as droë weiding skaars is
Coetzee sê wanneer geen of baie min droë weiding beskikbaar is, asook geen hooi of ander ruvoer nie, is die enigste uitweg om na voerkorrels oor te skakel.
“Droë diere moet minstens 500 g tot 750 g droogte- of lusernkorrels twee of drie keer ‘n week gevoer word. Middragtige ooie moet 750 g tot 1 000 g droogte- of lusernkorrels twee- tot driekeer per week kry.”
Coetzee sê laatdragtige en lakterende ooie of jongooie moet 1 kg tot 1,5 kg stoetveekorrels per ooi per dag ontvang.
“Sogende lammers moet vanaf die ouderdom van tien dae kruipveekorrels gevoer word.”
In droogtetoestande moet lammers liefs vroeër as normaalweg gespeen word, maar nie ligter as 20 kg nie omdat dit tot vrektes kan lei. Lammers wat vroeg gespeen word, moet kruipvoer voor en ná speen gevoer word totdat hulle minstens 35 kg weeg.


As die droogte verby is
“Wanneer die droogte gebreek is, moet vee daarvan weerhou word om agter die groen opslag aan te hardloop, wat groot vrektes kan veroorsaak,” sê Coetzee.
“Sodra groen gras met ‘n hoogte van minstens 3 cm beskikbaar is, kan die diere geleidelik oor sewe dae daarop toegelaat word deur hulle aanvanklik net vir een tot twee ure per dag te laat wei.
“Indien hulle nie stelselmatig aangepas word nie, kan dit tot spysverteringsteurnisse en vrektes lei. Jou vee moenie honger wees as hulle finaal na die groenweiding oorgeskuif word nie. Gee dus die daaglikse rantsoen vroeg en verskuif hulle laatnamiddag na die weiding,” sê Coetzee.
“Indien hulle maagwerk kry nadat hulle op die groen weiding begin loop het, kan jy ruvoer gee.”


KASSIE:
Stimuleer rumenaktiwiteit in skape
Meng 750 ml asyn met 2 kg bruinsuiker en 4 pakkies suurdeeggis. Gooi water by tot jy 5 l van die mengsel het. Doseer elke skaap met 15 ml tot 20 ml van die mengsel, elke twee tot drie weke.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!