Hoe om Home Affairs te oorleef
Hoe om Home Affairs te oorleef

Hoe om Home Affairs te oorleef

Karin Eloff
Karin Eloff - So, ek kry toe uiteindelik twee weke se verlof.
Nie vir rondry, rolskaats en roomys eet nie, maar vir admin. Meer spesifiek: ek en Spruit moet paspoorte kry, sy moet burgerskap kry, ons wil WiFi kry, sy wil 'n bankrekening oopmaak, en ek probeer 'n kar koop.
Al hierdie eerstewêreldse voorregte vereis die vermoë om in toue te staan. Vir lank. En aanhoudend. By die bank, die polisiestasie, MTC en Home Affairs. Jy kan dit dus nie sommer woerts-warts in jou etensuur gaan doen soos Botox of 'n skelm vry nie, nee, hiervoor het jy tyd nodig. Baie. En 'n moerse klomp ander goed, soos geduld, die vermoë om jou vet voertuig in klein hoekies in te wurm, kleingeld, groot geld, gemaklike skoene, 'n los broekie, 'n perdeblaas of dan die bereidwilligheid om te dehidreer, 'n swart pen en 'n sin vir humor.
Soos die dood, is Home Affairs 'n gelykmaker. Die dood worry nie of jy ryk of arm is, dik of dun is, selluliet het, 'n Fortuner ry of 'n iPhone7 het nie, dood sal jy dood. So is Home Affairs ook. Toustaan sal jy toustaan.
Dus, los jou ego, jou blaas en jou hoëhakskoene by die huis. Jou ego, want dit gaan jou net laat vuisslaan of tjank. Jou blaas, want daar ís toilette, maar jy wil dit nie regtig gebruik nie. In fact, as jy een van daai minibeursies wat mens by Typo kry vir 'n blaas het, moenie eers koffie drink die oggend voor jy Home Affairs toe gaan nie, staan maar eerder daar en dehidreer – dit verrig wondere vir 'n effense dubbelken. En los die hakskoentjies, want voor die dag om is, gaan jy wens jy't nie voete nie.
Trek maar gemaklik aan ook, dit help nie om sexy te probeer wees nie, mense gaan jou dan net vir lánk aankyk of jy 'n koei op hitte is, en die kanse dat jy vir Brad Pitt in daai ry kry, is nul.
Nog 'n uitdaging is parkeerplek. As jy 'n baie gawe vriend se vet voertuig rondry, soos ek, sorg dat jy nie die kleinste gaatjie tussen twee ander vet voertuie kies soos ek nie. Dit het my seker so 32 moves gevat voor ek in daai gaatjie kon in en uit – soos Austin Powers wat homself dwars in daai gholfkarretjie vasgekeer het in 'n nou gangetjie in een van sy movies. Mense het naderhand uit winkels uitgekom om vir my te lag.
Raait, dan val mens in die tou. Spruit kla sy's naar, ek embarrass haar ('n tiener is mos altyd besig om hulle dood te skaam oor iets), en haar voete is seer, maar die hel het in Mamma ingevaar, Mamma het net twee weke om al hierdie tjorts af te handel.
In die tou, waarin jy moet val lank vóór oopmaaktyd, staan enigiets van beneukte grootmense, mans met boepense, ooms met two tone kakiehempies, dudes met funky caps en broeke wat afval, mense wat lyk of hulle laas jaar laas ­gesmile het, mense wat lyk of hulle laas jaar laas 'n gesonde opelyf beleef het, mense wat te veel rook, te veel drink, te min drink, te veel carbs eet, te min eet, perverts, nerds, boontjietellers, werkloses, slimmes, dommes, mense wat in hulle neuse krap en mense wat maak of hulle te fancy is om in hulle neuse te krap. En dan is daar die arme kinders wat die pyn van verveling eenvoudig nie kan wegsteek nie. Die kakofonie van gemoedstoestande en lewensomstandighede is oorweldigend in so 'n tou – as jy die sensitiewe tipe is soos ek.
Ek probeer die wag draaglik maak deur my pyn op Facebook te deel. Spiritual BDSM, noem een vriendin dit, geduld bootcamp, sê 'n ander, mediteer terwyl jy daar staan, sê nog een.
Die Boeddhiste sou sê aanvaar dit net.
Party goed in die lewe suig, deal with it.

Daar is nie 'n ander manier nie.

Kommentaar

Republikein 2024-12-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 20° | 32° Oshakati: 22° | 31° Ruacana: 21° | 33° Tsumeb: 21° | 32° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 22° | 32° Gobabis: 19° | 33° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 24° | 34° Mariental: 24° | 36° Keetmanshoop: 25° | 37° Aranos: 21° | 34° Lüderitz: 16° | 27° Ariamsvlei: 25° | 39° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 18° | 23° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 15° | 23° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 17° | 34° Lilongwe: 23° | 34° Maputo: 21° | 29° Windhoek: 22° | 32° Cape Town: 18° | 28° Durban: 20° | 24° Johannesburg: 16° | 25° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 19° | 29° #REF! #REF!