Hoe om 'n peuter te oorleef
Hoe om 'n peuter te oorleef

Hoe om 'n peuter te oorleef

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Jakaryntjie is 'n peuter en ons mooi, beskrywende taal is in die kol – peuters “peuter” met alles.

Les een oor hoe om 'n peuter te oorleef: Definieer, verstaan en maak vrede daarmee dat hulle peuter. Dis blote nuuskierigheid, die lewe is 'n avontuur hulle is op 'n ontdekkingsreis. Nota aan self: Vergeet van 'n netjiese huis.

My probleem is: Niemand het my oor dié fase gewaarsku nie. Ek is nie meer seker waar om te keer en te vang en te laat gaan nie.

Kombuislaaie uitgepak, my agterwêreld klou aan die sitkamerbank toe sy giggelend met 'n skerppuntpen weghol. Afgevat. Vloermoer! Paai: “Vat, hier is my selfoon, my beursie, my karsleutels – enigiets.”

Gaan haar nie nou met “lae-graadse” speelgoed soos 'n rattle getroos kry nie. . .

Les twee oor hoe om 'n peuter te oorleef: “Wanneer 'n vloermoer voorkom, bied jou kosbaarste besittings aan. Dis al wat werk.”

Hulle het sterk willetjies, en wee jou as jy keer. Soos skoonsus se seuntjie eenkeer huilend-kermend vir haar sê: “Los my, ek wil stout wees!”

Hoe kry mens hulle veilig en “heel” groot? Ouers van peuters kweek senuwees van staal en oë agter hul koppe.

“Los, kom hier, bring hier” – jy gaan dit báie sê.

Jakaryntjie klim op die sitkamerbanke en hang halflyf oor die armleuning. Manlief vang die lyfie net voor sy die grond tref en my hart mis 'n slag. Pa se skrikreaksie is die grap van die dag en dit giggel en lag – geen benul van gevaar nie.

Ai, maar die liefde is groot en peuters het dié boek oor oulik wees geskryf. Verstommend om haar dop te hou – elke oomblik doen sy iets nuuts. Jy besef daai breintjie is flink en hulle leer alles wat ons doen - in 'n oogwink.

Les drie oor hoe om 'n peuter te oorleef: “Hulle is slim en vrek oulik, maar het geen besef van gevaar nie.”

Bakpoeier op die mat uitgegooi. Op pad besemkas toe, trap ek in 'n halfgekoude piesang. In die badkamer is daar nie meer toiletpapier nie. Dit lê afgerol en opgeskeer, asdrom omgedop, die gemmerkat se kos is nou alles in sy waterbak uitgegooi.

Die kat lyk nie lus vir sy “sop” nie.

Hy slaan op die vlug toe 'n klein, vet vingertjie na hom wys en roep “Kat, kat!”.

Ek is nie altyd seker of die kat op 'n “t” of 'n “k” eindig nie. En dis net daar wat jy begin wonder of jy dalk iewers 'n verkeerde woord voor gretige oortjies kon laat val het. . .

Les vier oor hoe om 'n peuter te oorleef: “Tel. Jou. Woorde!”

Wag net tot hulle begin praat – dan kom die pret, sê 'n vriendin.

Jakaryntjie wil net buite wees, onder ons woestynson met haar toontjies in die sand. Dan stop sy die kieste vol klippies, of die haas se bolletjies wat in die tuin lê, of die haas se halfgekoude appelstronk van drie weke gelede.

Les vyf: “Ouers van peuters mag soms net anderpad kyk, want wat nie doodmaak nie, maak groot. En jy is kapot.”

By die werk aangekom, besef ek 'n string van my hare is hard van iets. Dit kan die yoghurt wees wat sy vanoggend geëet het. Tjipbesmeerde handjies het my bloes beetgehad.

Rol bo-oor jou, sit op jou, hang aan jou, rol bollemakiesie oor jou. Alles is in chaos, ons lag baie meer as ooit tevore en weet nie werklik of ons kom of gaan nie.

Finale les: “Die lewe met 'n peuter is soos 'n bollemakiesie. Uitbundig, onderstebo en pret.”

Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal sê dié woord is moontlik saamgestel uit die Hollandse bollen, wat “draai of wentel” beteken het, ma kom waarskynlik van maar en kiesie moontlik van keesje.

Dit beteken dus iets soos “draai of wentel maar soos 'n bobbejaan”!

As dit is wat ons moet doen om te oorleef – bobbejaanstreke, hier kom ons!

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!