Hoekus van Niekerk en sukses is sinoniem

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer

Hou ’n mens vandag op die plaaswerf by Uhlenhorst stil, is dit moeilik om te dink hierdie was eens op ’n tyd ’n besige bymekaarkomplek vir boere uit die omgewing.
Hier het hulle hul voertuie laat diens, inkopies en banksake gedoen, pos kom afhaal en op die hotel se stoep gekuier. Die winkel bestaan nog. En die vulstasie. Ook die kerk en die boereverenigingsaal. Maar die eienaars Hoekus en Connie van Niekerk het die hotel en poskantoor in ’n woonhuis en gastekamers vir hul jagters omskep.
“Besigheid in die omgewing het oor die jare baie afgeplat. Met die ontvolking van die platteland, moet die boere nou hul sake op die groot dorpe gaan doen,” sê Hoekus
Die oorspronklike algemene handelaarsgebou is nou die eetvertrek waar hul gaste soggens ontbyt geniet en waar Connie haar curiowinkel vir dié toeriste bedryf. Danksy ou foto’s teen die mure, kry besoekers egter steeds ’n goeie idee van die bedrywighede toentertyd op Uhlenhorst.
Dié ses ha plaas het op 4 Desember 1964 die eiendom van Hoekus se pa, Hugo Hendrik van Niekerk, geword. “Hoewel hy op ’n plaas in die omgewing grootgewod het, het my pa ná die Tweede Wêreldoorlog waartydens hy in Italië geveg het, grond by Khorixas bekom en daar gaan boer.”
Ná Uhlenhorst het hy ook die plaas Klein Begin (sowat 2 000 ha) gekoop en toe Hoekus en sy vrou, Connie, in 1973 getroud is, het hy kom help boer. In 1975 het hy die boerdery by sy pa oorgeneem en die res is, soos die spreekwoord lui, geskiedenis.
Hoekus is nie ’n man wat met sy prestasies en suksesse te koop loop nie. Inteendeel, hy is bra beskeie vir iemand wie se kantoormure vol foto’s en toekennings hang uit die tyd toe Hoecon Dorperstoet hier en in Suid-Afrika skoonskip gemaak het met die pryse by al wat raskampioenskap was. Vir menige Namibiër is hy steeds sinoniem met Dorpers.
Hy het egter deur die jare sy boerdery geweldig gediversifiseer en vandag maak sy wild- en jagbedryf die grootste deel van sy boerderybedrywighede uit. Naas dit verg sy groenteverbouing die meeste van sy tyd en aandag.

Hy het in die dratyd van einde Oktober tot middel Januarie altesaam 250 ton tamaties van ’n drie ha land afgehaal. “My pa draai in sy graf om as hy sien wat ek hier regkry,” sê hy oor die sukses wat hy met tamaties, uie, waatlemoene, spanspek en voermielies behaal. “Ons het gelukkig baie sterk water en die drupbesproeiing wat ek gebruik, leen hom tot baie konserwatiewe watergebruik.”
Die twee boorgate op die plaas lewer nagenoeg 100 kubieke meter water per uur, waarvan hy omtrent net ’n kwart benut.
Uhlenhorst het tussen 40 en 50 werkers in diens, van wie die meeste vroue is. Groenteverbouing is immers ’n arbeidsintensiewe bedryf.
Die jongste van Hoekus en Connie se kinders, Hoekus jr., boer deesdae voltyds saam met sy pa. “Hy sien hoofsaaklik om na die wild- en jagboerdery. Die Dorperstoet en die groente en beeste is my afdeling.”
Hoekus huur grond op verskeie plekke waar hy sy kommersiële kudde (meestal Brahman X Braunvieh) aanhou en speenkalwers bemark.
“Ek is nie ’n ryk man nie, maar ek streef daarna om ’n sukses te maak van dít wat ek aanpak,” sê Hoekus.
Hy en Connie se groot rykdom is hul vier kinders. Hul oudste dogter Corrine (40) is getroud met Waldo van Wyk van die plaas Beenbreck naby Dordabis. Jomarie (38) is met Hannes Visagie van die plaas Nabome suidoos van Aranos getroud en Corlia (32) en haar man, Willie Kriegel, boer op Disal, ’n ent suid van Uhlenhorst.
Elke tweede Kersfees trek al die kinders en kleinkinders (nege in totaal) op Uhlenhorst saam. Dan word daar foto’s geneem en vir die vale gekuier.
Sy kinders is ook nóú betrokke by die boerevereniging se reëlings vir die nasionale braaikompetisie.
Hoekus sê sonder hul hulp en die bystand van lede soos Jos en Annelie van der Merwe en Rainer Ling, sou hy nie so ’n groot projek kon aanpak nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!