Hoenderbedryf het groeiruimte
Braaikuikenproduksie in Namibië is in sy kinderskoene en kan baie groei mits beleidsekerheid bestaan.
Ronelle Rademeyer
Namibiërs verbruik maar 13 kg hoender per persoon per jaar teenoor Suid-Afrika se 38 kg per persoon, wat beteken die plaaslike pluimveebedryf het baie ruimte om te groei.
Tans beloop die maandelikse vraag na hoender in Namibië 2 500 ton, terwyl nagenoeg 1 900 ton daarvan plaaslik gelewer word danksy die vestiging van Namib Mills se multimiljoendollar-braaikuikenbedryf met die totstandkoming van Namib Poultry Industries (NPI) in 2012.
In Suid-Afrika is verlede jaar 1,726 miljard ton hoender gelewer, wat beteken die Namibiese mark is 'n skrale 2% van die omvang van die mark in dié buurland.
Mnr. Robert McGregor, ekonoom by Cirrus Capital, het dié inligting Woensdag tydens 'n vergadering van die Namibië Handelsforum (NTF) met belanghebbendes in die bedryf gedeel. Dié vergadering met die bedryf was daarop gemik om 'n regeringsvoorstel voor te berei vir die volhoubare beskerming van die Namibiese braaikuikenbedryf.
“Namibië se verbruik is ver minder as dié van Suid-Afrika, wat beteken daar is steeds baie ruimte om die plaaslike mark te laat groei,” sê McGregor.
Dieselfde tendens geld die verbruik van eiers. Namibië lewer daagliks 200 000 eiers en die jaarlikse verbruik is volgens statistieke van 2013 sowat 1,47 kg per persoon. In Suid-Afrika word 6,97 kg eiers per persoon per jaar verbruik.
Die pluimveebedryf se bydrae tot die ekonomie het in 2017 sowat N$201 miljoen beloop. Dit het 0,12% van die bruto binnelandse produk (BBP) verteenwoordig.
Die vermenigvuldigende impak van die bedryf was egter 4,42 keer méér vanweë insette soos arbeid, verpakking, vervoerkoste, water en elektrisiteit en ander kostes, sê hy. Dit het die bedryf se indirekte bydrae tot die BBP tot 0,70% opgestoot, sê hy.
NPI het tans 660 mense in diens, wat beteken die bedryf het sedert sy totstandkoming 'n groot aantal werksgeleenthede geskep.
McGregor het verder gesê Namibiese produsente se insetkoste is baie hoër as dié van produsente in Suid-Afrika.
Hy het ook daarop gewys dat beleidsonsekerheid dié bedryf tans daarvan weerhou om verder te ontwikkel.
“'n Mens wil nie monopolieë skep nie, maar maatreëls is nodig om die binnelandse bedryf teen storting van produkte uit die buiteland te beskerm,” het hy gesê.
Die regering het in 2013 'n invoerbeperking van 600 ton geplaas op die hoeveelheid hoender wat na Namibië ingevoer mag word ten einde die plaaslike bedryf te beskerm.
Dit het daartoe gelei dat van die groot spelers in die Suid-Afrikaanse bedryf 'n aansoek vir die hersiening en tersydestelling van die verbod by die hoërhof ingedien het.
Die aansoek het misluk, maar die hooggeregshof het vroeër vanjaar beslis die Suid-Afrikaanse produsente kan appelleer.
Sou hulle appèl slaag, is die plaaslike bedryf opnuut aan die moontlikheid van groot hoeveelhede goedkoop hoender uit die buurland uitgelewer.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie