Hoenderinvoere het sakeman vas
'n Walvisbaaise sakeman word verdink van reusebedrog met die invoer van hoender en die vervalsing van dokumentasie om invoerbelasting te ontduik.
Ronelle Rademeyer en Leandrea Louw
Die besturende direkteur van Walvis Bay Ship Chandlers en Namibia General Suppliers op Walvisbaai, mnr. Luther Mostert (39), is Vrydag in die landdroshof op dié kusdorp op borgtog van N$140 000 vrygelaat.
Dit volg nadat hy midde 'n ondersoek na grootskaalse bedrog met die invoer van hoender om invoerbelasting te ontduik, in hegtenis geneem is. Mostert staan tereg op klagte van bedrog, vervalsing en belastingontduiking.
Hy het na bewering 'n besending hoender ter waarde van N$7,5 miljoen onwettig in die plaaslike mark verkoop.
Adj.komm. Erastus Ikuyu, wat misdaadondersoeke in die Erongostreek koördineer, sê hy het na bewering in Desember 2018 en Januarie 2019 hoender wat vanaf Brasilië na Suid-Afrika onderweg was, na Namibië herlei en plaaslik verkoop.
Volgens die klagstaat het Mostert “onregmatig, onwettig en valslik, en met die opset om te bedrieg, dokumente voorgehou wat Suid-Afrika as die ware oorsprong van die hoenderprodukte aangedui het en dus geen belasting betaal het nie”.
Republikein is in besit van 'n verslag wat in Maart 2019 deur die Vleisraad van Namibië oor beweringe in dié verband aan die ministerie van nywerheidsontwikkeling, handel en SME-ontwikkeling, asook die ministerie van finansies voorgelê is.
Daaruit blyk dit vraghouers met hoender is deur Namibia General Suppliers uit Suid-Afrika ingevoer, waarna die invoerdokumentasie glo op bedrieglike wyse verander is om aan te dui dit word dadelik oorgelaai op 'n ander skip en na 'n ander bestemming uitgevoer. Die rede daarvoor is om nie heffings in Namibië te betaal nie aangesien die aksynsbelasting en belasting op toegevoegde waarde eers by die eindbestemming betaalbaar is.
“In 'n poging om heffings te ontduik, het Walvis Bay Ship Chandlers hierdie besendings aan aflandige skepe 'verkoop' wat waarskynlik nie eens in daardie stadium in die hawe was nie,” lui die verslag.
Volgens Walvis Bay Ship Chandlers se webblad voorsien die maatskappy tegniese dienste en goedere asook voorrade aan skepe wat die Walvisbaaise hawe aandoen. Die maatskappy voer ook vraghouers met voorrade en tegniese toerusting na Angola uit.
BESLAGLEGGING
Republikein het in September verlede jaar berig die direktoraat veeartsenydienste het op 25 Junie 2019 op 1 126 kartonne hoender van 4 850 kg in totaal beslag gelê wat deur Namibia General Suppliers via Suid-Afrika uit die VSA ingevoer is.
Die nagenoeg vyf ton ingevoerde hoender het 'n vervalste vervaldatum op die verpakking gehad.
Die woordvoerder van die ministerie van landbou, water en bosbou, me. Margaret Kalo, het verduidelik daar was twee verskillende plakkers op die bokse ingevoerde hoender. Die een plakker het aangedui die vervaldatum is 23 Januarie 2019. Dit het ook die naam van die produsent op gehad.
Bo-op dit was 'n tweede plakker met 19 Februarie 2020 as vervaldatum. Dit het nie die produsent se naam op gehad nie.
Sy het gesê dit is wettiglik uit die VSA na Suid-Afrika ingevoer, waarna na bewering met die etikette op die bokse gepeuter is vir heruitvoer en die verspreiding daarvan in die Namibiese mark.
Die invoerheffing op hoender uit die VSA beloop 82%. Dit beteken as N$100 se hoender ingevoer word, moet die invoerder 'n invoerheffing van N$82 aan die ministerie van finansies oorbetaal.
Die rede daarvoor is om die plaaslike mark teen die storting van goedkoop hoender uit Amerika te beskerm.
Suid-Afrika is onder die Amerikaanse wet op groei en ontwikkeling in Afrika (Agoa) van hierdie heffing vrygestel. Aangesien die invoerooreenkoms onder Agoa op Suid-Afrika van toepassing is, mag die buurland nie hoender wat uit Amerika ingevoer is, na die BLSN-lande (Botswana, Lesotho, Eswatini en Namibië) uitvoer tensy die invoerders in hierdie lande die reuseheffing van 82% betaal nie.
ONDERSOEK
Landdros Vicky Nicolaidis het gesê borgtog van N$140 000 word bepaal aangesien reusebedrog na bewering gepleeg is. Sy het gelas dat Luther nie met die ondersoek mag inmeng nie en nie die Walvisbaai-distrik mag verlaat nie.
Hy moes ook sy paspoort aan die polisie oorhandig.
Die saak is tot 28 Oktober uitgestel aangesien van die getuies nog verklarings moet aflê.
Dit blyk ook nog in hegtenisnemings mag uit die ondersoek voortspruit.
–[email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie