Hoera’s vir ware pa’s
Minette Brink – Hier volg ‘n temerige tranetrekker.
Klipharte en kwaai knolle moet maar aanhou blaai.
Te min word ware mans se deugde besing.
Soos pa’s wat, wel, alleen pa staan vir hul kinders se grootmaak. In alle opsigte.
Mans is gewoonlik die otte in enkelouerdramas. Almal ken minstens een enkelma wat alleen die mas moet opkom. Wat dag na dag haar skouers in haar kop in stres oor te min geld, kos, energie, tyd, hoop, slaap, noem maar op. Oor Ot nie onderhoud wil of sal betaal nie, of kamma nie kan nie. Dis ook dié varke wat weet hoe om seepglad die gereg te ontduik, en om hulle deur die hof te laat vastrek, raak ‘n duur en tydrowende storie wat arm ma’s net nie kan bekostig nie.
Maar dan is daar ware mans. Supermanne met stralekranse. Wat elke keer as ek een van hulle raakloop, maak dat die heelal in engelekore en harpe lostrek. Supermanne loop ook nie, hulle sweef so ‘n entjie bo die grond. Oukei, oukei, in my oë.
Soos liewe Johan, wie se vroutjie hom met hul drie kinders agtergelaat het en met sy beste vriend laat liesloop het Suid-Amerika toe. Die jongste was agt maande oud.
Ek weet nie of Johan ooit in afsondering bitterlik geween het nie. Ek het hom nooit sien snik of hoor kla nie. Sedert Daai Dag vat hy vas.
Johan het dit nie te breed gehad nie. En daar was ook nie naby-familie wat kon help kinders oppas, kosmaak, skool toe ry, klere was en stryk, dokter toe jaag, huis skoonmaak nie. Ons pelle het waar ons kon, hand bygesit. Maar ook net as ons knaend aangedring het, want ‘n Johan-man het sy trots, sou hy altyd sê.
Dit was 20 jaar gelede. Vandag is al drie uit die huis. Die jongste is op universiteit met ‘n verbysterende beurs, danksy sy 124 onderskeidings in matriek. Die ander twee is klaar geleer. Een is ‘n suksesvolle kunstenaar in Johannesburg en die ander een ‘n Wiskunde-onnie by ‘n ladida-skool in die Kaap. Laasgenoemde is onlangs getroud. Ek het by die seremonie Johan se trotse grys agterkop so sit en bekyk en gedink: Wow. Wat ‘n man. Wat ‘n ongelooflike man. En toe sy jongste ‘n speech maak oor hul Wonderpa, toe spúúúit my trane.
Nog ‘n Superman is dierbare, te saggeaarde Peter. Dié se vroutjie het hom gelos – “want ek is verveeld”- en met die kinders verre Johannesburg toe getrek. Peter se hart was stukkend. Vroutjie en die kinders was sy alles.
Die man het homself skeel gewerk om net die beste te kan koop. Vroutjie het nie gewerk nie. Sy het ook nie kosgemaak nie, “want ek hou nie daarvan nie”. Vroutjie se mees geliefde tydverdryf was om te sjôp tot sy drôp. En Peter betaal. En betaal. Maar nie so baie soos sedert sy hom gelos het nie.
Die vrou is ‘n verskrikking sonder ‘n greintjie gewete. Die arme man moes die afgelope jaar sy kar verkoop én van ‘n gawe tweeslaapkamer-meenthuis trek na ‘n baie hartseer agterkamer in ‘n gevaarlike buurt. Want mêrrim ken van melk en op die gewete speel. Die hof se alie, seg sy. G'n vroutjie kan op net N$25 000 per maand oorleef nie. Hoes harder, pappie.
En Peter hou net aan betaal. En betaal. Vir alles en nog meer. Want as hy dit nie doen nie, haal sy dit op kinders uit. En dit breek sy hart. En sy gewete ry hom bloots omdat hy volgens hom ‘n afwesige pa is wat sy kinders net vier keer ‘n jaar kan sien. Oor hy ook net soveel verlof kan kry vir ‘n besoek doer ver. Soontoe trek, die sal hy. Sodra hy as middeljarige man werk in die wonderlike Suid-Afrika kan kry. Tot dan moet hy maar hier vasbyt.
Tot dan maak ek en hy maar ‘n vuur en knak ‘n rooie.
“Tjeers,” sug hy. “Op ekse en hekse.”
“Nooit,” sê ek. “Op julle, die Supermanne. “

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie