Hoeveel nog?!
Hoeveel nog?!

Hoeveel nog?!

Mandy Rittmann
WILLEM DE WET SKRYF:

Ek gaan seker ’n klomp mense de moer in maak, maar die dodesyfer skreeu ten hemele, terwyl ons met verdelende argumente ons tyd verwyl.

Inderdaad ’n land van ekstreme en niks tussen die twee ekstreme pole nie.

Ons het die meeste geslagsgeweld en geweld in die algemeen in die wêreld.

Ons het van die meeste korrupsie in die wêreld.

Ons het van die meeste werkloosheid in die wêreld.

Ons het van die meeste padongelukke in die wêreld.

Ons het van die meeste vee- en wilddiefstal in die wêreld.

Ons het van die minste respek vir wette in die wêreld.

Ons het van die minste ontsag vir padreëls in die wêreld.

Ons het van die minste respek vir oumense en vrouens in die wêreld.

Ons doen van die minste onderhoud op staatsinfrastruktuur in die wêreld.

En nou kom ons by wat tans baie seerder maak as al die ander saam:

Ons het per kapita die minste ingeënte mense in die wêreld!

Ons het per kapita die meeste nuwe Covid-gevalle in die wêreld!

Ons het die meeste lekekenners oor Covid in die wêreld.

Ons het die meeste alternatiewe oplossings vir Covid-behandeling in die wêreld.

En deur al die slimmighede het ons tans die hoogste per kapita Covid-sterftesyfer in die wêreld.

Is dit iets om op trots te wees?

AAN DIE ANTI-VAKSERS

Ek is al so gatvol vir daai ou rympie vanuit ’n wanhopige, tydelike, hoëgrondposisie waarin manne trots staan en sê ek sal my nie laat inent nie al gebeur wat, want dit is my keuse en ek staan daarby. En ek voel ’n veer vir wat my besluit aan die land se ekonomie en daardie kommerwekkende stygende sterftesyfer doen, ek weier!

Mense, hoeveel van ons geliefdes wil ons nog aan die dood afstaan voor ons tot ons sinne kom?

En dan borrel al die Facebook-slimmighede uit en kan die brawe anti-vaxer jou vir ure vermaak met die een na die ander Facebook-fabel waaraan hy sterker glo as aan die Bybel en vir jou elke medisyne in ’n apteek op sy chemiese samestelling en die werking daarvan aanbeveel saam met ’n paar ander nuwe bymiddels wat vanoggend op Facebook vorendag gekom het, en dan sommer so ter stawing van sy nuut gevonde mediese oplossings en kennis ook ’n rits name opnoem van mense wat persoonlik aan hom bekend is in lande regoor die wêreld wat al deur die konkoksies gered is.

Loop die ander aand ’n anti-vaxer raak wat oop loop met sy teorie. Ek noem aan hom dat ander lande oopmaak en ons al meer toemaak, omdat ons die tipe van argumente aanhang en hy sê my ek moet een land noem wat al aan die oopmaak is? Wat mis die ou op TV en selfs op sy Facebook-ensiklopedie?

Ek noem toe Israel en daar vlie' die man weg en vra my of ek dan nie gesien het op Facebook dat Israel al weer aan die toemaak is nie? Dat Israel maskers nou weer verpligtend gemaak het en dat alle reëls weer her ingestel word, want Israel is nou weer net so siek of sieker as voor hulle laat vax het.

Min weet hy my suster bly daar en ek kry haar op die lyn om met hom die feite op die grond te deel. En kom ek sê julle wat, my suster is nie maklik nie! My pa het altyd gesê die Palestyne moet oppas, hy ontplooi net my ma en my suster in die Gaza-strook dan is daai oorlog in ’n dag op ’n einde.

My suster gee hom toe ’n oor vol van dit wat hy nie wou hoor nie.

Ewe galant en ordentlik beëindig hy die oproep en sê my met ’n ernstige kyk in sy oë dat hy my die keer gelyk gee, hy het die ronde verloor, maar dit is nie die einde nie, ons sal weer praat.

Nee man! Ons praat nie oor ek skuld jou ’n dop as ek verloor nie. Ons praat oor mense wat doodgaan oor die nonsens wat aan hulle verkoop word. Dis nie ’n ek wen die een en jy daai een storie nie, dit is dodelik en ons gaan daarom heen asof dit ’n albasterwedstryd is met ’n ek wen vandag en jy môre mentaliteit?

NET EEN ANTWOORD

Ons land se grense gaan toe slaan en ons gaan toe bly tot ons doen wat ander lande bewys het, is die regte ding om te doen. En ek dink die tyd van keuses is besig om vinnig uit te loop.

Ek hoor ’n man sê hy weier om homself te ent, maar sy familie bly in die buiteland en as hy by hulle wil gaan kuier, sal hy dit seker maar moet doen? Ekskuus? Jy sal jouself laat ent om nie die kiem die buiteland in te dra en jou familie daar anderkant te gaan aansteek nie oor jy lief is vir daai mense en ook oor dit daardie land se vereiste is, maar hier ter plaatse gee jy nie ’n om nie?

Nooi dan maar jou familie om hier te kom kuier as jy so selfversekerd is oor jou feite en standpunt rondom Covid.

Ek dink dit is ’n fatale gedagte om te dink Covid gaan self die pad vat en as hy aangaan soos hy nou aangaan, gaan daar binnekort nie meer veel wees om oor te argumenteer en te konspireer nie, want daar gaan nie meer veel mense in die land oor wees om aan die debat deel te neem nie.

Mense, kyk wat in die wêreld gebeur en laat ons onsself daardeur laat lei. Om hier te sit en teen die prikkels te skop en aan te hou om so te doen, gaan ons nie Covid laat oorleef nie.

As jy die kans wil vat en onbeskermd Covid wil storm, loop jy die risiko om soos in ander onbeskermde dade goed oor te kom wat vermy kon gewees het.

Gaan jy net so roekeloos om met ander maatreëls en middels wat tot jou beskikking is om jou te beskerm teen goedjies wat verkeerd kan gaan? Dra jy jou veiligheidsgordel? Is jy geënt teen pokke? Hou jy by die spoedbeperking? Sal jy jou laat ent teen geelkoors? Het jy jou teegesit teen die polio-ent as pap baba? Is jy ’n voorstander van onbeskermde seks met vigs in die ronde?

Die goed is alles op jou afgedwing en ons loop al jarre daarmee saam maar skielik is ons nou baie slimmer as ’n boom vol uile en trek ons alles rondom Covid in twyfel.

Ek kyk na daardie wêreldkaart wat wys waar die Covid-warmkolle op die aarde is en ons staan soos ’n seer vinger uit. Selfs Suid-Afrika is ons vêr agter in nuwe gevalle en ons is die warmste kol in die hele Afrika?

Skande om te dink dat ons onsself reken as heelwat beter as party ander Afrika-lande op ekonomiese, sosiale, gesondheids-, bewarings- en ander gebiede maar ons is by verre die swakste daaraan toe wat Covid aanbetref.

Daar is nie nog ’n donkerder kleur as die swart ink waarmee ons posisie in die wêreldrangorde tans aangedui word nie. Ons vriende en geliefdes sterf sonder ophou hier rondom ons, maar ons hou ons besig met lewensveragtende twis en argumente in die aanskyn van die dood.

Ons ekonomie sal ook omkom solank ons nie kudde-immuniteit bereik nie, maar daarmee blyk ons ook tevrede te wees solank ek net my keuse kan uitoefen.

My suster woon al jare in Israel en ’n ou kollega is tans in Italie, my neef ’n tandarts in Engeland en ’n universiteitspel in Switserland en die boodskap uit al vier oorde is dit eens: laat ent julself asseblief. Daar is nie ’n ander uitweg nie.

Al die plekke is reeds weer gedeeltelik of heeltemal oop en het die maskers by die venster uitgegooi. Sterftes is dramaties minder en hospitale haal asem; hulle ekonomie gaan aan, restaurante is oop, konserte en sportsale sit vol en die vliegtuie vlie' die wêreld vol - behalwe Namibië toe.

Al vier kennisse is erg bekommerd oor ons land Namibië en ons huidige status en hulle is nog meer bekommerd oor die hardkoppige weerstand teen die ent. Al vier se huise staan oop vir ons en hulle smeek my om my gesin te vat en by hulle te kom oorbly tot Namibië tot sy sinne gekom het.

Sou graag wou, maar hoe kom ek daar en wat gebeur met my besigheid en my ander familie en vriende? Niemand gaan ons in hul lande toelaat soos dit nou gaan nie, so ek moet seker maar vasbyt saam met die res van Namibië en elke dag bid dat die kiem my en my naastes uitlos, maar dit is onwaarskynlik.

EN OOR GODSDIENS ...

Ons bid daagliks dat God ons van die pes moet verlos. Maar God sal peste en plae stuur om ons te beproef en te toets en ons vaar tans nie goed in ons reaksie nie.

Ons verdeel en saai onmin, ons vervreem en veroordeel en ons versprei sonder om te huiwer ongegronde, halwe waarhede wat ernstige gevolge kan hê. Nie almal het die vermoë en toegang tot inligting om tussen waarhede en sensasie te kan onderskei nie en daar lê die gevaar.

God het ons altemit vermoëns gegee om ons eie heil uit te werk. Daardie sikkels silwer wat ons nie onder die maatemmer moet wegsteek nie. Ek glo ook vas dat Hy wil sien wat ons self gaan doen om Covid die hoof te bied, want ek dink nie dit is reg om alles verdag te maak en te betwyfel, te verdeel en onmin te saai in die hoop dat God alles vir ons weer net so gaan regmaak nie.

Ons moet nie onverskillig handel met God en Godsdiens nie. Hy sal leiding, wysheid en insig gee, maar die bal is in ons hand om hier op aarde met ons Godgegewe talente oplossings vir ons aardse probleme te kry. Kom ons sif die werklikhede en waarhede uit dit wat om ons gebeur en onderskei met werklike bewyse tussen dit wat werk en dit wat faal en ons behou die goeie en ons motiveer mekaar om te doen wat werk tot voordeel van ons geliefdes en ons land aan die hand van die Skrif wat ons rig.

Ons moet die pes pak en oorwin en so verdeeld soos ons nou is, is ons besig om op ’n fiasko af te stuur soos ’n klomp walvisse wat op die strand uitswem. Ons is benoud en het rigting verloor! Vrees en onkunde laat ons tans benoude spronge spring en snaakse goed sê.

Dit is nou tyd dat ons kalmeer en ordelik saam ’n pad uitwerk om ons deur die pandemie te kry sonder persoonlike agendas, bymotiewe en eie gewin. Hierdie wedstryd gaan nie individuele wenners oplewer nie. Die massa gaan moet besin en saamstaan en oorwin of ons gaan 'n massaverdriet beleef.

Ons kan, maar is ons bereid om die verskille by te lê en te doen wat reg is vir nou? Ons kan natuurlik vasbyt en wag vir ’n selfs beter vaksine wat drie tot vyf jaar vat om te ontwikkel, maar hoeveel van ons gaan oorleef om die dag te sien? Ons moet nou doen wat nodig is om tyd te wen, sodat ons die nuwe vaksines kan ontwikkel en foute wat nou gemaak word met die interimoplossings kan regstel.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!