Hof: Arbeidsregulasies is ongrondwetlik
Hof: Arbeidsregulasies is ongrondwetlik

Hof: Arbeidsregulasies is ongrondwetlik

Die land se werkgewers het die saak gewen waarin hulle die regering hof toe gesleep het oor regulasies wat sekere arbeidsoptrede tydens die grendeltyd verbied het.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer – Die gewraakte arbeidsregulasies in proklamasie 17 van 2020 wat op 4 Mei ingevolge die Covid-19-noodtoestand uitgevaardig is en wat werkgewers verbied het om stappe te doen wat werknemers se poste, salarisse of verlof beïnvloed, is ongrondwetlik en ongeldig.

Dit was gister die bevinding van 'n volbank in die hoërhof in Windhoek.

Dié uitspraak deur regters Shafimana Ueitele, Hannelie Prinsloo en Thomas Masuku word in regskringe as 'n belangrike beslissing oor die grondwetlike bevoegdhede van die president ten tye van 'n noodtoestand beskou. Hierdie bevoegdhede word in artikel 26(5) van die Grondwet uiteengesit.

Die twee werkgewersliggame, die Namibië Werkgewersfederasie (NEF) en Namibië Werkgewersvereniging (NEA), het op 29 Mei saam met vyf maatskappye in die safari-, lugvaart-, vervoer- en drukkersbedryf die grondwetlikheid van dié regulasies in 'n dringende aansoek betwis. Dié maatskappye is Huab Safari Ranches, Skycore Aviation, FP du Toit Transport, JetX Couriers en John Meinert Printing.

Die betrokke regulasies skort sekere dele van die Arbeidswet op en verbied werkgewers onder meer om werknemers af te lê óf hul salarisse te verminder.

Adv. Raymond Heathcote, SC, het namens die applikante betoog pres. Hage Geingob is met die opstel van die proklamasie deur die minister van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping, mnr. Utoni Nujoma, verkeerd geadviseer.

“Ons twyfel nie dat die president se motiewe edel was nie, maar hy is verkeerd geadviseer en tot 'n sekere mate selfs mislei,” het Heathcote voor 'n volbank betoog.

Dit is nie “redelik regverdigbaar” indien in ag geneem word die regulasies se doel moet wees om die nasie gesond te hou nie, aangesien dit die rede vir die noodtoestand in die land is, was Heathcote se argument.

Volgens hom hou die regulasies nie direk verband met die doel van die noodtoestand wat is om die nasie teen 'n gesondheidsramp te beskerm nie.

Adv. Jean Marais, SC, het namens die respondente aangevoer die virussiekte het “apokaliptiese gevolge” en is die grootste ramp wat die wêreld sedert die twee Wêreldoorloë getref het.

Hy het saam met mnr. Sisa Namandje vir die president, prokureur-generaal, ministers van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping asook gesondheid en maatskaplike dienste, die arbeidskommissaris en die regering opgetree.

Hulle het in hul betoogshoofde aangevoer die president het die regulasies aangekondig omdat hy besef het grootskaalse afleggings, as gevolg van die inperkingsmaatreëls, kan tot hongersnood of openbare onrus in die land lei.

“Die applikante argumenteer die duidelike doel van die regulasies was om werkers te beskerm en nie om die verspreiding van die virus te voorkom nie. Ons sê die grendeltyd was nodig en om dit reg te kry, moes mense se bewegings ingeperk word en moes werknemers tuis bly,” het Marais betoog.

Volgens die respondente moes werknemers die gemoedsrus hê dat hulle tydens grendeltyd 'n inkomste en dus kos of die tafel sou hê.

Die volledige uitspraak was teen druktyd gister nog nie beskikbaar nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!