Hof bekyk Maltahöhe se plundering

Ná 'n ondersoek deur die Teenkorrupsiekommissie is die dorp se hoës vas.
Augetto Graig
Augetto Graig



Die dorp Maltahöhe, wat al jare onder vermeende wanbestuur en korrupsie gebuk gaan, kry vandeesweek sy dag in die hof.

Mnr. Otto Michael Richard, voormalige waarnemende uitvoerende hoof van dié dorpie se munisipaliteit, en mnr. Markus Saal, voormalige voorsitter van die dorpsraad, is verlede week in hegtenis geneem.

Mnr. Geronimo Tise, munisipale voorman en die dorp se elektrisiën, is kort hierna ook vasgetrek.

Die Teenkorrupsiekommissie (ACC) het aangekondig hul ondersoek na 'n brandweerstasie van N$2 miljoen vir die dorp is voltooi.Dié stasie is nooit gebou nie.

Die kommissie het bevind al drie mans het hul posisies misbruik en omkoopgeld ontvang.

In Saal en Tise se gevalle is die bron van dié geld glo verdoesel deur 'n voertuig en ander goedere daarmee aan te skaf.

Tise word ook daarvan beskuldig dat hy met getuies probeer inmeng het.

Die hofsaak sal vandeesweek Woensdag in die streekhof op Mariental voortgaan.

Borgtog van N$40 000 elk is aan die beskuldigdes toegestaan op voorwaarde dat alle reisdokumente aan die owerhede oorhandig word, dat daar nie met staatsgetuies ingemeng word nie, en dat die beskuldigdes elke Vrydag by die Maltahöhe-polisiekantoor aanmeld.

Die drie moet ondersoekbeamptes ook daarvan in kennis stel indien hulle die Hardapstreek wil verlaat.

Die ACC beweer Richard, Saal en Tise het tussen Augustus en Oktober 2015 omkoopgeld ter waarde van N$150 000 van drie boumaatskappye ontvang.

Tise en Saal het met N$88 000 daarvan glo 'n voertuig en ander goedere aangeskaf.

Tise het glo gedurig by die ondersoek ingemeng deur een getuie te probeer oortuig om die waarheid te verdraai, en die ander een om sy verklaring aan die ACC terug te trek.

Saal was sedert 2014 die dorpsraad se voorsitter, en het vroeër reeds op die raad gedien.

Richard het die vorige uitvoerende hoof, die omstrede mnr. Eliphas “Aupapa” Shipanga, sedert 2013 vervang.

Mnr. Nicolaas van den Heever is tans voorsitter van die plaaslike belastingbetalersvereniging en het in 2003 as munisipale beampte uitgetree.

Volgens hom het Maltahöhe se dorpsraad ná onafhanklikwording met beleggings ter waarde van tot N$900 000 gespog.

Die dorp het 'n knou weg ná grondwaardes in 2012 skerp gestyg het – van N$400 tot N$31 000 in Van den Heever se geval.

Ten spyte daarvan dat dié fout in 2013 erken is, het dit aanleiding gegee tot reuse- erfbelastingrekeninge van tot 600% meer.

Die munisipale swembad, die dorp se karavaanpark en die verlate gebou wat vir kleinsakeontwikkeling bedoel is, is ander mislukkings weens wanbestuur.

“Ons dorp is nie meer 'n dorp nie. Dit raak nou 'n vullishoop,” het Van den Heever gesê.

Volgens mnr. Junias Kandjeke, die ouditeur-generaal, se verslag is die dorp se finansies vir 2013, 2014, 2015 en 2016 'n gemors.

Kandjeke kon geen bevinding oor die stand van die dorp se geldsake maak nie, weens 'n onrusbarende tekort aan dokumentasie.

Volgens hom was daar geen interne beheerstelsel of behoorlike rekenkundige rekord van die dorp se transaksies vir die tydperk nie, asook geen bateregister, dokumentasie vir die bou van 'n nuwe hoofkantoor teen N$1,6 miljoen nie, en geen BTW-rekonsiliasies nie.

Slegte skuldvoorsiening van N$6,1 miljoen is nie voldoende nie, en kragtoevoer-rekords vir die dorp bestaan nie.



waardasielys verdwyn

Kandjeke se span kon wel vasstel dat, ten spyte van 'n inkomste van N$9,14 miljoen in 2016, Maltahöhe die vorige jaar se verlies van meer as N$2 miljoen slegs na 'n verlies van N$1,8 miljoen kon verminder.

Uitgawes vir 2016 was sowat N$10,5 miljoen, en sluit 'n verskil van N$576 000 tussen die jaarlikse finansiële state en die salarisregister in – wat die raad nie kon verklaar nie.

Boonop het 'n waardasielys vir die ongeveer 800 erwe op die dorp spoorloos verdwyn.

Mnr. Ian Piere Vries, tans die waarnemende uitvoerende hoof van die dorp, is in September 2017 deur die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling na die dorp gesekondeer.

Volgens hom is die ministerie versoek om 'n nuwe waardasielys op stel, en is geld hiervoor goedgekeur.

Die waardeerder moet nou van nuuts af vasstel of erfpryse op die dorp sinvol is, het hy gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-01-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 18° | 33° Rundu: 19° | 34° Eenhana: 22° | 35° Oshakati: 24° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 19° | 33° Omaruru: 21° | 35° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 35° Henties Bay: 17° | 21° Swakopmund: 17° | 19° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 21° | 31° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 18° | 34° Aranos: 24° | 35° Lüderitz: 14° | 27° Ariamsvlei: 18° | 33° Oranjemund: 14° | 24° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 22° | 38° Lubumbashi: 16° | 24° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 18° | 33° Antananarivo: 17° | 28° Lilongwe: 17° | 24° Maputo: 23° | 36° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 18° | 24° Durban: 20° | 29° Johannesburg: 22° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 17° | 23° Harare: 15° | 26° #N/A #N/A