Hof bepaal vulstasie se lot
Hof bepaal vulstasie se lot

Hof bepaal vulstasie se lot

’n Aansoek om die huurders van ’n vulstasie in Klein Windhoek die trekpas te gee, het onlangs in Windhoek se hoërhof geslaag.
Jacqueline Louw
Jacqueline Louw – Die vulstasie op die hoek van Sam Nujomalaan en Nelson Mandelarylaan in Klein Windhoek sal binnekort weer oop vir besigheid wees.

Dit nadat Windhoek se hoërhof onlangs uitspraak gelewer het in die geskil tussen Engen Namibië en die huurders van die vulstasie, President’s Crossing Retail Centre.

Regter Kobus Miller het op 3 Maart beveel dat President’s Crossing en die verweerder, me. Soleil Prollius, die perseel moet ontruim.

Prollius is die eksekuteur van die voormalige uitvoerende hoof van Prowealth, Riaan Potgieter, se boedel. Potgieter het in Desember 2008 sy lewe geneem. Hy was voorheen ’n direkteur van President’s Crossing.

Engen het ’n kontrak met Prowealth Commercial Solutions, wat later sy naam verander het na President’s Crossing Retail Centre, aangegaan om die perseel te bedryf.

Ingevolge dié kontrak sou Engen brandstof aan President’s Crossing verskaf, wat dit weer aan die publiek sou verkoop.

Hierdie ooreenkoms is met wyle Potgieter aangegaan. Met Potgieter se dood in 2008 is sy aandele deur ’n sekere mnr. Kruger bekom.

Miller sê in sy uitspraak Engen het aangevoer die verkoop van die aandele aan Kruger was nie geldig nie, omdat die transaksie slegs kon plaasvind met die geskrewe toestemming van Engen. Die regter het bevind die oordrag van aandele aan Kruger was teenstrydig met die bepalings van die ooreenkoms en daarom ongeldig.

President’s Crossing het aangevoer dat Engen van 5 Desember 2012 af geweier het om brandstof aan die vulstasie te verskaf, en as gevolg daarvan moes die besigheid hul deure sluit. President’s Crossing het egter geweier om die perseel te ontruim.

In die uitspraak noem die regter dat die ooreenkoms waarvolgens President’s Crossing die perseel beset, verstryk het en dat geen verdere ooreenkoms aangegaan is wat die maatskappy die reg gee om die perseel te beset nie.

Na Potgieter se dood was Engen nie van voorneme om sy verhouding met President’s Crossing voort te sit nie. President’s Crossing het gesê die ooreenkoms kon nie beëindig word nie omdat Engen artikel 4A van die Wet op Petroleumprodukte en Energie geskend het, en tot hulle hul wetlike pligte nakom, het President’s Crossing die reg om aan te bly. Regter Miller het egter beveel dat Engen President’s Crossing die trekpas mag gee.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!