Hof beslis in Amushelelo en kie se guns
Hof beslis in Amushelelo en kie se guns

Hof beslis in Amushelelo en kie se guns

Regter Eileen Rakow het beslis die klag van geldwassery teen mnre. Michael Amushelelo en Gregory Cloete moet tersyde gestel word.
Sanet de Waal
Ogone Tlhage



Die buitelandse valutahandelaar, mnr. Michael Amushelelo, en sy sakevennoot, mnr. Gregory Cloete, het Vrydag ’n klein oorwinning in die hoërhof in Windhoek behaal toe regter Eileen Rakow beslis het die klag van geldwassery teen hulle moet tersyde gestel word.

Rakow se uitspraak kom ná twee lasbriewe van beslaglegging wat deur die landdroshof in Windhoek uitgereik is, as ongeldig verklaar is.

Sy het voorts beslis lt.genl. Sebastian Ndeitunga van die Namibiese polisie se goedkeuring dat ’n ondersoek gelas word om inligting in te samel ingevolge artikel 83 van die wet op die voorkoming van georganiseerde misdaad ongeldig is.

Sy het die ondersoek van die hand gewys.

AGTERGROND

Die Bank of Namibia (BoN) het ’n saak teen die mans aanhangig gemaak wat daartoe gelei het dat die Namibiese polisie hul besigheidsetiek onder die loep geneem het.

Amushelelo en Cloete het tereg gestaan op vier klagte in verband met die wet op bankinstellings en die die wet op die voorkoming van georganiseerde misdaad, insluitend die uitvoering van ongemagtigde bankaktiwiteite en geldwassery.

Hy en Cloete het glo meer as N$17 miljoen van lede van die publiek tussen Februarie 2015 en Junie 2019 sonder magtiging ontvang.

VERLIESE GELY

Amushelelo het ná die uitspraak gesê hy sou nou in die posisie wees om bank- en versekeringsmaatskappye oop te maak wat volgens hom die lot van baie mense kon verander.

"Ek kan nie eens die verliese begin tel nie, ’n mens kan sekere dinge nie kwantifiseer nie," het hy gesê.

Amushelelo het gesê sy inhegtenisneming en die vries van sy bates, het gelei tot ’n drastiese stilstand in die groei van sy besighede en hy kan nie begin om die waarde van sy verliese te bepaal nie.

Volgens Amushelelo was die uitspraak ook ’n teken om nie op te hou veg nie.

“Mens moet aanhou baklei, maak nie saak hoe graag ander mense jou wil versmoor nie,” het hy gesê.

Amushelelo het bygevoeg hierdie is slegs een van nog baie toekomstige gevegte.

Die owerhede het ook beslag gelê op Amushelelo en Cloete se eiendomme en voertuie. Hul bankrekenings is ook gevries.

Bates waarop beslag gelê is, sluit in een BMW 1 Series, ’n Range Rover, twee Mercedes Benz-motors, ’n BMW 3 Series, ’n Audi A4, Lenovo-skootrekenaars, vier iPhones, ’n iPad, ’n Dell-rekenaar, twee HP-drukkers, vyf horlosies, beleggingsooreenskomste en kopieë van identiteitsdokumente van diegene wat in hul valutabesigheid belê het. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!