Hof beslis: Saak oor Kanime nie dringend
Die verlenging van die hoof van die stadspolisie se kontrak gaan voort ná 'n bloutjie in die hof.
Jana-Mari Smith - 'n Windhoek-stadsvader se poging om 'n dringende interdik te kry teen die besluit om stadspolisiehoof Abraham Kanime se pos vir drie jaar te verleng, het gister in die hoërhof in die stad misluk.
Die aansoek deur raadslid Ignatius Semba van die Popular Democratic Movement (PDM) is deur regter Hannelie Prinsloo van die rol geskrap aangesien dit nie dringend is nie.
Sy het gelas dat Semba vir die koste van die aansoek pa staan.
Kanime het in Januarie ná byna twee dekades as hoof van die stadspolisie bedank. Sy bedanking word einde vandeesmaand van krag.
Op 27 Februarie het die meerderheid van die stad se raadslede egter besluit om met hom te onderhandel om tot 30 April 2023 in sy pos aan te bly.
Semba en ander raadslede het hulle teen hierdie besluit uitgespreek en aangevoer dit is onwettig.
Hy het in die hofaansoek gevra dat die besluit hersien en ter syde gestel word.
Dit is gedoen op grond daarvan dat plaaslike owerheidsregulasies bepaal as 'n werkskontrak deur bedanking beëindig word, dit nie op enige wyse verleng kan word nie. Sou Kanime afgetree het, was die verlenging van sy kontrak wel wettig.
In die hofstukke wat Maandag ingedien is, voer Semba aan hoewel hy bewus was van die besluit om met Kanime te onderhandel om aan te bly, hy onder die indruk was die aangeleentheid sou tydens 'n spesiale raadsvergadering op 19 Maart verder bespreek word.
Hy voer aan die item is van die agenda verwyder en die konsepkontrak is opgestel. Dit het hom genoop om die hof te vra om 'n stokkie daarvoor te steek.
Die raad het egter gister aangevoer die aangeleentheid is nie dringend nie, aangesien Semba versuim het om reeds ná die Februarie-raadsvergadering 'n hofaansoek in te dien.
“Hy was teenwoordig toe die besluit geneem is en het daarteen kapsie gemaak. Die raad het besluit om voort te gaan en hy het die vergadering verlaat,” voer hulle in hofstukke aan.
Verder voer hulle aan die verlenging van Kanime se kontrak is wettig aangesien sy bedanking eers op 30 April van krag word. Tot dan is Kanime 'n werknemer en kan sy bedanking teruggetrek word.
Me. Laura Pack van Pack Law Chamber tree vir Sema op, terwyl die raad deur mnr. Frans Kwala (Kwala & Co. Inc.) verteenwoordig is. - [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie