Hof knip SA hoenderbedryf se vlerke
Hof knip SA hoenderbedryf se vlerke

Hof knip SA hoenderbedryf se vlerke

Jacqueline Louw
Jacqueline Louw - Die aansoek deur Suid-Afrikaanse pluimveeprodusente teen die invoerbeperkings wat in Namibië ingestel is om die plaaslike bedryf te beskerm, het in Windhoek se hoërhof misluk.
Regter Shafimana Ueitele het Vrydag beslis die aansoek van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging en vyf ander maatskappye betrokke in die buurland se pluimveebedryf teen die beperkings op invoere wat gedurende April 2013 ingestel is, was te laat ingedien.
Die gronde vir die regsgeding is die kennisgewing wat gedurende April 2013 deur die minister van handel en nywerheid gepubliseer is en waarvolgens sekere kwantitatiewe beperkings op die invoer van pluimveeprodukte na Namibië ingestel is. In terme van hierdie beskermingingsmaatreël vir Namibië se ontluikende pluimveebedryf mag nie meer as 900 ton pluimveeprodukte per maand na Namibië ingevoer word nie.
Ueitele het die aansoek deur die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging en die Suid-Afrikaanse pluimvee-uitvoerders Astral Foods Beperk, Crown Chickens (Edms.) Bpk., Sovereign Foods, Agri Poultry (Edms.) Bpk. en Rainbow Farms (Edms.) Bpk. teen Namibië se minister van handel en nywerheid, die regering, die Namibiese Pluimveebedryf (Edms.) Bpk. en die Namibiese Vleisraad van die hand gewys. Die aansoekers is ook beveel om respondente se regskoste te betaal.
Die Suid-Afrikaanse aansoekers het die hof versoek om die beperkings op hoenderinvoere na Namibië te hersien en op te hef.
Die Namibiese Pluimveebedryf het aangevoer die beskerming soos deur die regering ingestel is belangrik vir die Namibiese publiek en dat werkverskaffing in ’n klein landjie soos Namibië van groot belang is. Dit het verder aangevoer die lang vertraging met die indien van die aansoek is nadelig vir beplanning in die Namibiese pluimveebedryf.
Ten spyte van die aansoekers se betoog dat die vertraging met die indien van die aansoek meegebring is vanweë die korrekte en tyd­rowende diplomatieke proses wat eers gevolg is voordat regstappe gedoen is, het die regter bevind die vertraging was onredelik.
Senior advokate David Unterhalter en Andrew Corbet het saam mnr. Max du Plessis en adv. Deon Obbes vir die aansoekers opgetree. Die ministerie van handel en nywerheid en die regering is deur senior advokaat Nazeer Cassim en mnre. Sisa Namandje en Tinashe Chi­bwana verteenwoordig. Die regspan vir die Namibiese Pluimveebedryf was senior advokate Jeremy Gauntlett en Reinhard Tötemeyer sowel as advokate Frank Pelser en Ramon Maasdorp.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!