Hof su00ea Trump mu00e1g geld vir muur gebruik
Hof su00ea Trump mu00e1g geld vir muur gebruik

Hof sê Trump mág geld vir muur gebruik

Die hooggeregshof in die VSA het ‘n geregtelike verbod deur die laer hof teen die bou van die suidelike grensmuur omgekeer.
Die Amerikaanse hooggeregshof het Vrydag aan pres. Donald Trump ’n oorwinning gegee deur sy administrasie toe te laat om US$2,5 miljard wat die Kongres vir die Pentagon goedgekeur het, te gebruik om sy beloofde muur op die VSA-Mexiko-grens te bou, hoewel wetgewers geweier het om geld daarvoor te voorsien.

Die hof met ’n konserwatiewe meerderheid het met ’n stemming van 5-4 ’n beslissing omgekeer van ’n federale regter in Kalifornië wat die Republikeinse president verhinder om die geld te bestee op grond daarvan dat die Kongres nie spesifiek die geld goedgekeur het vir die muurprojek nie.

Die Demokrate en die Mexikaanse regering is sterk teen die muur gekant.

“Wow! Groot OORWINNING oor muur. Die Verenigde State-hooggeregshof het laer hof se geregtelike verbod omgekeer, wat Suidelike Grensmuur kan laat voortgaan. Groot OORWINNING vir Grenssekuriteit en Oppergesag van die Reg!” het Trump getwiet net minute ná die hof se uitspraak.



’n Verklaring wat die hof se beslissing verduidelik, sê die regering het “voldoende bewys” dat die groepe wat teen die beslissing gekant is, nie gronde vir ’n regsgeding het nie.

“Vandag se uitspraak wat die gebruik van militêre geld vir die bou van die grensmuur toelaat, sal gemeenskappe, openbare grond en water in Kalifornië, Nieu-Mexiko en Arizona afskei en vernietig,” het Gloria Smith, ’n prokureur van die omgewingsgroep Sierra Club, wat hof toe is om die finansiering te keer, gesê.

Nadat Trump vroeër ’n noodtoestand oor die muur afgekondig het, het die Amerikaanse huis van verteenwoordigers in Februarie ten gunste van wetgewing gestem wat sy nasionale noodtoestand nietig verklaar. –Netwerk24/Reuters

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer