Hof sit voet neer oor grumoorde

Twee moordenaars wat hul geliefdes vermoor het, is gister in die hoërhof in Windhoek tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis.
Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn



Gister is regsgeskeidenis gemaak toe drie vonnisse vir lewens­lange gevangenisstraf op een dag deur die hoërhof in Windhoek opgelê is.

Dit is die eerste keer in meer as 'n dekade dat lewenslange gevangenisstraf in Namibië opgelê word.

In hof D in Windhoek het regter Naomi Shivute nie gehuiwer om Sageus Somaeb met twee lewenslange­ vonnisse vir die moord op sy vriendin­ en hul kind te straf nie. Afgesien hiervan is hy 'n verdere ses maande gevangenisstraf opgelê vir ­aanranding met die doel om ernstig te beseer en nóg ses maande vir dwarsboming van die gereg.

Dié hofsaak spruit uit gebeure vier jaar gelede toe Somaeb 39 jaar oud was.

Somaeb het vroeër op een klag van moord skuldig gepleit en sy ­verdediging het daarop gewys hy is 'n eerste oortreder.

Regter Shivute het met vonnis­oplegging gewys op die oorlede me. Charlotte Gaingos se pa se getuienis.

Hy is ook haar sesjarige seun, Remember­ Gaingob, wat óók deur Somaeb vermoor is, se oupa.

Gaingos is vermoor terwyl sy by haar suster gewoon het omdat sy bang vir Somaeb was wat daarvan beskuldig is dat hy hul kind vermoor het. Nadat hy die kind vermoor het, is Somaeb in hegtenis geneem en op borgtog vrygelaat.

Op die dag wat hy Gaingos vermoor het, het hy eers gaan werk, maar het voor die werksdag verby was, na die slagoffer se blyplek gegaan, wat volgens Shivute op voorbedagte rade dui.

Hy het Gaingos in die teenwoordigheid van hul jongste dogter 21 keer met 'n mes gesteek.

Gaingos se pa was gebroke ná die voorvalle en vind dit moeilik om vrede met sy dogter en kleinkind se sterftes te maak.

Dít het geblyk uit sy ­getuienis ter verswaring voor die hof.

Volgens Shivute het Somaeb en Gaingos 'n ongelukkige verhouding gehad wat deur huishoudelike geweld gekenmerk is.

Albei die misdade is volgens Shivute grusaam.

Die hof het die toenemende aantal gevalle van huishoudelike geweld waar vroue en kinders slagoffers is, as verswarend beskou.

Die feit dat die beskuldigde op borgtog uit was toe hy die moord gepleeg het, dui aan dat Somaeb geen respek vir die wet of menselewens het nie, sê Shivute.

Tydens die hofsaak het hy nooit self getuig of berou getoon nie. Shivute het ook bevind dat Somaeb bloot skuldig gepleit het omdat die ­getuienis teen hom oorweldigend is.

Al is hy 'n eerste oortreder wat reeds vier jaar in aanhouding was, is die verswarende omstandighede van so 'n aard dat hy uit die samelewing ­verwyder moet word, het die regter bevind.

NóG 'N MESDOOD

In hof E het regter Christie Liebenberg vir Andrew Britz skuldig bevind aan die moord op sy vriendin, me. Juliana Sarvanda Garises. Hy het haar herhaaldelik met 'n mes gesteek.

In sy geval is sy vorige misdaadrekord, wat oor die voorafgaande 22 jaar strek, deur die staatsaanklaer ingedien.

Britz se laaste skuldigbevinding was in Junie 1997 vir poging tot moord.

Hy het 12 vorige skuldigbevindings wat wissel van gewapende roof met verswarende omstandighede, aanranding met die doel om ernstig te beseer, aanranding, kwaadwillige saakbeskadiging en naamskending.

In 1981 is hy op klagte van moord en gewapende roof onderskeidelik tot 15 en 12 jaar gevangenisstraf gevonnis. Die twee vonnisse is terselfdertyd uitgedien.

In 1986 is hy tot drie jaar ge­vangenisstraf gevonnis vir poging tot moord, waarvan 'n gedeelte opgeskort is, en in 1997 is hy tot 12 maande ­gevonnis wat in die geheel opgeskort is.

“Wanneer die beskuldigde se voorafgaande vonnisse in konteks gesien word, is dit duidelik dat selfs ná 15 jaar se gevangenisstraf hy twee verdere pogings tot moord, een aanranding en die moord waarop hy nou teregstaan, gepleeg het,” het Liebenberg gesê.

Gegewe Britz se gewelddadige geskiedenis en sy gebrek aan respek vir menselewens is hy tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!