Hof skrap Aupindi en Di Savino se straf
Hof skrap Aupindi en Di Savino se straf

Hof skrap Aupindi en Di Savino se straf

Die onreëlmatige verkryging van die twee mans se verklarings, wat die staat tydens hul verhoor ingespan het, het volgens regter Christie Liebenberg die verhoor as geheel beïnvloed, asook die uitkoms daarvan.
Kristien Kruger
Kristien Kruger – Regter Christie Liebenberg het gister in die hoërhof in Windhoek beslis dat die voormalige besturende direkteur van Namibia Wildlife Resorts (NWR), mnr. Tobie Aupindi, en die sakeman mnr. Antonio di Savino se appélaansoek suksesvol was.

Hulle het teen hul skuldigbevinding en vonnisoplegging geappelleer en Liebenberg het ’n hofbevel uitgereik dat boetes van N$50 000 elk aan hul terugbetaal moet word.

Hierdie beweerde korrupsie by die NWR was 'n dekade gelede voorbladnuus in Namibië.

Volgens Liebenberg moes Aupindi en Di Savino nooit skuldig bevind gewees het nie.

Die twee mans is deur die Teenkorrupsiekommissie (ACC) aangekla nadat Di Savino glo vir die bou van 'n swembad by Aupindi se huis betaal het - na bewering in ruil vir NWR-tenders.

Die mans was daarvan beskuldig dat hul valse inligting in hul eedsverklarings verstrek het. Dit oortree die Wet op Teenkorrupsie van 2003.

Die staat het beweer Aupindi en Di Savino het in Maart en April 2010 vir 'n ondersoekbeampte van die ACC gelieg deur voor te hou dat Aupindi in 2006 self N$50 000 vir die installering van 'n nuwe swembad by sy huis in Windhoek betaal het, terwyl Di Savino die koste gedra het.

Volgens Liebenberg se uitspraak is daar voldoende bewyse dat die ondersoekbeamptes wat die verklarings hanteer het, slegs een van hul vier regte aan die verdagtes gekommunikeer het.

Liebenberg het beslis dat die verklarings daarom onreëlmatig verkry is.

Die verklarings het grootliks bygedra tot hul aanvanklike skuldigbevinding en die staat sou volgens Liebenberg daarsonder nie sy saak teen die beskuldigdes kon bewys nie.

“Die onreëlmatighede wat ondersoekbeamptes begaan het tydens die verkryging van verklarings van die appellante het die hele verhoor beïnvloed. Dit is 'n skending van die fundamentele reg en hulle het daarom nie ’n regverdige verhoor ontvang nie," lui die uitspraak.

"Die staat het nie daarin geslaag om sy saak teen die appellante bo redelike twyfel te bewys nie en daarom moes hulle onskuldig bevind word.”

Aupindi en Di Savino sou 30 maande se tronkstraf moes uitdien as alternatief vir die boetes wat hulle in Oktober 2018 opgelê is.

Die feit dat hy tronkstraf vrygespring het, het beteken dat Aupindi sy politieke ambisies steeds kon najaag. Hy is tans 'n lid van die Nasionale Vergadering en dien ook op Swapo se sentrale komitee en politburo.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!