Hofaansoek kom oor houtkappermitte
Ontevrede boere sê hulle is vyf keer armer nadat houtoessery tot 'n stilstand gekom het.
Ellanie Smit
Sowat 250 boere van die Kavango-Oosstreek beplan om die regering hof toe te sleep ná verlede jaar se skielike opskorting van die uitreiking van permitte vir die kap, vervoer, bemarking en uitvoer van hout.
Die All People's Party (APP) se sekretaris-generaal, mnr. Vincent Kanyetu, sê samesprekings is gehou onder die boere wat ernstige finansiële verliese gely het, weens die opskorting. Hy sê die saak sal voorts na die hoërhof geneem word.
Die APP sê die opskorting dra by tot armoede onder die boere en dat hulle die regering vir finansiële verliese sal dagvaar.
Kanyetu sê verskeie boere het reeds hout geoes, maar nou kan dit nie vervoer of uitgevoer word nie. “Alles het tot stilstand gekom,” het hy gesê.
Kanyetu het verduidelik ná die onlangse reënbuie is van die hout beskadig en kan dit nie meer verkoop word nie.
Die boere het gesê hulle het gehoop om geld van die geoeste hout te maak.
“Hierdie boere is nou in die moeilikheid en moet geld leen. Hulle is nou vyf keer armer as vantevore.”
Kanyetu sê alhoewel hulle die probleem met onwettige houtkappery kan verstaan, is die vraag of dit die regering of die boere se verantwoordelikheid is om seker te maak diegene wat hout kap, het permitte.
“As 'n houtkapper nie sy produk kan verkoop nie, kan 'n boer ook nie sy geld kry nie.”
Volgens Kanyetu het boere reeds gesprekke met die kantoor van die streeksgoewerneur gevoer en sal hulle vandeesweek hul hofaansoek finaliseer.
Die landbouminister het op 26 November 'n bevel uitgereik dat alle houtkappery gestaak moet word, wat beteken hout kan nie gekap, vervoer of bemark word nie, en dat geen houtprodukte, insluitende houtstompe, -blokke en planke, nie uitgevoer kan word nie.
Alle bosbou-amptenare is ook in kennis gestel dat alle uitgereikte permitte vanaf 26 November opgeskort moet word. Geen nuwe permitte mag tot verdere kennisgewing uitgereik word nie.
Teen die einde van verlede jaar het die ministerie van landbou, water en bosbou gesê sowat 500 houtkappers in die noordooste van die land moet vir omgewingsklaringsertifikate aansoek doen voor hulle kan voortgaan met die oes van hout.
Dit vereis 'n omgewingsimpakstudie, wat nie net duur is nie, maar maande kan neem om te voltooi.
Om hout te kan kap, moet daar wel vir 'n oespermit aansoek gedoen word. Die huidige houtkappery is wettig ingevolge die bosbouwet, het die ministerie gesê, maar die aansoekers moet ander vereistes van die wet ook in ag neem. Houtkappery is ook een van die gelyste aktiwiteite in die omgewingsbestuurswet van 2007.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie