Hoff stort hart uit
Hoff stort hart uit

Hoff stort hart uit

As sy eerlik moet wees, het sy gewéét geregtigheid sou uiteindelik geskied, sê ’n Windhoekse sakevrou.
Denver Kisting
font face="Verdana" >

font face="Verdana" >







Denver Kisting – Die swaard, wat vir sewe jaar oor haar kop gehang het, het haar lewe grotendeels verwoes.

Só het me. Susanne Hoff gister aan Republikein gesê ’n dag ná sy gehoor het haar appèl teen ’n vroeëre skuldigbevinding het geslaag.

Adjunk-regter-president Hosea Angula en regter Herman Oosthuizen het bevind Hoff is nié skuldig aan poging tot moord op haar eksman, mnr. Egbert Hoff, nie.

Dié bondige bevinding is eergisteroggend deur regter Angula in die Windhoekse hoërhof voorgelees.

Terselfdertyd het die hof die staat se appèl teen Hoff se vonnis van ’n boete van N$30 000 van die hand gewys.

In ’n openhartige onderhoud gisteroggend het Hoff gesê: “Ek voel anders; weet nie presies hoe nie, maar anders.”

Die regters het ook gelas twee selfone en N$5 000 se kontant, waarop die polisie destyds beslag gelê het, aan haar terugbesorg moet word.

Teen gistermiddag het sy egter nog geen woord oor dié besittings gehoor nie.

“Ek het nog altyd gesê ek is onskuldig. Ek ís onskuldig,” het sy gister gesê.

Volgens haar is die Namibiese polisie lui.

“Hulle het die idee geskep dat daar bewyse teen my is en daar was geen.”

Hoekom die polisie dit gedoen het, bly een van die raaisels wat by haar spook. ’n Raaisel wat sy opgelos sal wil sien, sê sy. ’n Raaisel wat sy nie sal laat vaar nie, sê sy.

“Ek is baie koppig.”

Hoff is verlede jaar in die streekhof aan poging tot moord skuldig bevind.

In dieselfde jaar is haar en mnr. Hoff se uitgerekte egskeidingsgeding uiteindelik op 22 Julie afgehandel.

Sy sê hoewel haar regspan haar voorberei het dat die appèlproses dalk nie mag eindig soos sy gehoop het nie, het sy veral daaraan vasgehou dat adv. Esi Schimming-Chase, haar regsverteenwoordiger, in haar onskuld geglo het.

“Sy het vir my gesê sy gló my. Ek het deurgaans gesê ek het niks verkeerd gedoen nie.”

Die ergste was vir haar hoe bevooroordeeld die samelewing is, vertel Hoff.

Sy onthou ’n voorval in ’n munisipale ry toe iemand haar toegesnou het dat sy nie daar toegelaat moes wees nie.

“Ek moes allerlei goed oor myself hoor. Dit was vir my baie erg. Dit het my lewe kwaai geknou.”

Selfs banke was haar, ’n gesiene sakevrou, dikwels nie goedgesind nie, omdat hulle van mening was sy sou dalk tronk toe moes gaan en sou derhalwe geen lening kon terugbetaal nie, sê sy.

Uit verskeie oorde was “die hele antwoord” dikwels “O, God, (dis) Susanne Hoff,” sê sy.

Haar twee kinders het ook baie gely onder die ervaring, sê sy.

Hulle is onder meer deur skoolvriende en hul ouers verwerp.

“Dit was nogal erg.”

Daarnaas het hul verhouding met hul pa ook in die slag gebly.

Hulle kon hulle volgens haar nie met sy beweerde gedrag versoen nie.

Op haar dag het sy dikwels in Amerika vakansie gehou – ’n moontlikheid wat haar waarskynlik nooit weer beskore sou wees as dit nie vir die geslaagde appèl was nie.

“Ek sou op die visum-aansoek moes aandui ek het ’n misdaadrekord vir poging tot moord en sou nooit weer ’n visum gekry het nie.”

Van die einste mense sonder ruggraat wat haar oor die jare gekruisig het, het haar die afgelope week gebel om te beweer hulle het nog altyd in haar onskuld geglo, sê sy.

Sy sou veral nie die finansiële mas sonder die hulp van goeie vriende kon opkom nie, sê Hoff.

Daarnaas moes sy ook haar huis as waarborg aanbied om die knyp te help verlig.

Schimming-Chase het Hoff in opdrag van me. Karin Klazen verteenwoordig, terwyl mnr. Luschwayne Olivier namens die staat opgetree het.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer