Hofsaak sal party nie stuit
Augetto Graig - Die komende sesde Swapo-partykongres gaan voort ten spyte van ongelukkige afgevaardigdes wat hulle tot die hof gewend het.
Dít om die wettigheid te betwis van individue wat dié geskiedkundige geleentheid namens die Omaheke- en Hardapstreek sal bywoon.
Volgens mnr. Nangolo Mbumba, sekretaris-generaal van die regerende party, is die hof nie gevra om ’n stokkie voor die kongres te steek nie, hoewel daar by die hof se besluit berus sal word wanneer die saak afgehandel is.
Mbumba sê net twee streke se verteenwoordiging word betwis, terwyl 12 goedgekeur is, en “volgens my het die proses so ver gevorder dat iets anders nodig sou wees om ons nou te stop”.
Voorbereiding op die kongres verloop volgens hom vlot.
Die kongres sal op Donderdag 23 November by die Safari Court Hotel en Konferensiesentrum plaasvind.
In wat hy beskryf het as moontlik sy laaste mediakonferensie as sekretaris-generaal van die regerende party, het Mbumba gesê die tema vir dié kongres is eenheid, inklusiwiteit en voorspoed.
Volgens hom is reëlings vir deelnemers en spesiale gaste se vervoer en akkommodasie reeds getref.
Onder die spesiale gaste wat na die kongres genooi is, is lede van voormalige vryheidsbewegings, insluitende Suid-Afrika se African National Congress (ANC), Tanzanië se Chama Cha Mapinduzi (CCM), Angola se People's Movement for the Liberation of Angola (MPLA), Mosambiek se Mozambique Liberation Front (Frelimo), Zimbabwe se Zimbabwe African National Union - Patriotic Front (Zanu-PF), Botswana se Botswana Democratic Party (BDP) en Zambië se Patriotic Front uit Afrika.
Uit die res van die wêreld sal verteenwoordigers van die kommunistiese partye van China en Kuba teenwoordig wees, asook Swede en Duitsland se sosiaal-demokratiese partye, Rusland se Yedinaya Rossia en die Polisario Front van Wes-Sahara.
Mnr. Frans Kaudinge, Swapo se direkteur van administrasie, het gesê akkommodasie en kos word volgens gebruik aan spesiale gaste verskaf, terwyl hulle self hul vliegkostes dek.
Die buitelanders sal ook geleentheid kry om die kongres toe te spreek ná Namibië se president, dr. Hage Geingob, die geleentheid amptelik om 10:00 sal open, het Mbumba gesê.
Daarna sal die reëls en prosedures van die kongres deur die aangewese voorsittende beampte, die prokureur mnr. Sisa Namandje en sy span, uiteengesit word.
Mbumba het uitdruklik gesê die span regspraktisyns sluit nie politici in nie, en dat Namandje gekies is op grond van sy vorige ondervinding met Swapo-kongresse.
Die kongres sal verskeie beleidskwessies aanspreek, insluitende verslae van die sentrale komitee en die tweede Swapo-beleidskonferensie, vordering met die toepassing van resolusies van die vyfde kongres, en aanpassings aan die Swapo-party se grondwet.
Resolusies wat by die sesde kongres aanvaar word, sal die party vir die volgende vyf jaar lei, het Mbumba gesê.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie