Hollard-spanne klou aan voorsprong
Hollard-spanne klou aan voorsprong

Hollard-spanne klou aan voorsprong

Padfietsry
Andrew Poolman
Die drietal padfietsryers van Hollard Insure, Ingram Cuff, Heiko Diehl en Drikus Coetzee, het gister die vinnigste tyd opgestel in die Nedbank Windhoek Pedal Power-reeks se byeenkoms nr. 3, wat as 'n spantydtoets beslis is.

Die roete oor 32 kilometer het by Carin Park by Bralkwater begin en geëindig. Vir elke span is sy ryer nommer drie oor die eindstreep se tyd aangeteken.

Hollard Insure (40 minute 30 sekondes) het danksy dié uitslag tot die tweede posisie in die uiters kompeterende reeks opgeskuif. Die tweede vinnigste gister was Team Kia Elite (42:42) en derde Mannie's Bike Mecca (#MBMRacing) 'n enkele sekonde stadiger.

Hollard se ander span (Hollard Life) was vierde (43:06), voor ­Megatron-FCS wat onder andere die nasionale padfietskampioen Dan Craven in sy geledere gehad het.

Op die huidige puntestand klou Hollard Life net-net aan sy posisie boaan (55 punte), te danke aan ryers soos Gerhard Mans Junior, Martin Freyer, Christo Swartz en Jaco Lamprecht.

Hulle word gevolg deur drie spanne wat elk 54 punte het – Hollard Insurance (tweede, met 'n beter gesamentlike tyd), #MBMRacing, Team Megatron-FCS – en die vyfde geplaaste Team Kia Elite (51).

• In die vrouekompetisie het Hollard MyLife sy voorsprong tot drie punte vergroot met nog 'n eerste posisie.

Die wenspan gister (49 minute 43 sekondes) het ryers soos Michelle Vorster, Robyn-Lee Swartz, Zoe Mitchell, Anneke Steenkamp en Maike Bochert in sy geledere.

Met 30 punte ná drie byeenkomste gee dié span die toon aan teen #MBMRacing (27) en Lumber City Ladies (24).

Elf mans- en ses vrouespanne ding in vanjaar se reeks mee.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer