Honde uit VSA help in stryd teen stropers
Honde uit VSA help in stryd teen stropers

Honde uit VSA help in stryd teen stropers

Die eerste van tien nuwe teen­stroperhonde van Texas in die VSA het Dinsdag by die OR Tambo- ­Internasionale Lughawe aangekom.

Hierdie spesiaal opgeleide, vrylopende trop honde sal hulle aansluit by 'n hoogs gemotiveerde K9-­eenheid by die Southern African Wildlife College (SAWC).

Sodra hulle gevestig en gewoond is aan hul nuwe hanteerders, sal hulle ontplooi word in teenstropery-­bedrywighede in die Groter ­Kruger-gebied.

“Ons is ongelooflik ­opgewonde om saam met hierdie honde te werk. Ons vroeë suksesse met 'n ­vrylopende trop honde het ons gewys hoe effektief hulle in die veld is. Hierdie honde is ook opgelei in gevangeneming en sal ­veldwagters aktief help om stropers in hul spore te stuit,” sê Theresa Sowry, die uitvoerende hoofbeampte van die SAWC, in 'n verklaring.

Terwyl honde aan leibande algemeen gebruik word deur teenstroperspanne, is 'n vrylopende trop honde relatief nuut op die toneel, maar bewys reeds hul waarde.



SPOORSNY

Hulle kan teen 'n hoë spoed spoorsny, selfs oor die moeilikste terrein. Onlangse oefeninge het gewys dat hulle 30 kilometer in twee uur dek.

Hul topspoed, wat gereeld gemeet word oor kort afstande, is ongeveer 40 kilometer per uur.

Met behulp van lugondersteuning om die honde te volg, kan die veldwagters waardevolle tyd in die veld inhaal.

Die nuwe honde is 'n kruising tussen swart en taankleurige en redbone rasse. Hulle is bykans 'n eeu lank in die VSA geteel om mense vir wetstoepassingsdoeleindes op te spoor.

Die SAWC sal met hierdie honde begin werk om hulle in staat te stel om stropers te beheer terwyl hulle wag op die veldwagters om op te daag.– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer