Honderde aansoekers vir 13 poste
Meer as 'n duisend mense het na die kantoor van 'n landelike kiesafdeling gestroom om vir een vakature aansoek te doen.
Leandrea Louw op Walvisbaai – Ongeveer 1 500 mense het Maandagoggend na die kantoor van die Walvisbaaise landelike kiesafdeling gestroom om vir 13 vakante poste by NamWater aansoek te doen.
Die nasionale waterverskaffer het die kiesafdeling se kantoor gebruik om die werwingsproses van 11 werkers en twee operateurs vir 'n opgraderingsprojek by Rooibank te vergemaklik.
Die voornemende werknemers het vol hoop by die kantoor opgedaag, maar slegs 50 mense is vir die onderhoudsproses gekies.
Die keuringsproses is gevolg dat elke persoon 'n nommer ontvang het wat in 'n houer gegooi is, waarna 50 nommers getrek is.
Raadslid Donatus Florian Tegako het gesê die aantal mense wat opgedaag het, dien as 'n duidelike bewys van mense se desperaatheid vir werk.
“Dit is 'n duidelike teken dat baie mense werkloos is en swaarkry. Dit is jammer so baie mense moet tydens Covid-19 bymekaarkom, maar dit wys mense sal hul lewens waag vir die geleentheid om 'n inkomste te verdien en hul gesinne te kan voed.”
Hy het gesê moeite moet gedoen word om mense by te staan. “Dit is hartseer om te sien hoe mense vir 13 vakante poste oor mekaar val. Maar wat kan ék as gewone raadslid doen? Ek glo werksgeleenthede moet vir almal oop wees, sodat mense bemagtig kan word.”
Tegako het gesê mense klop gedurig by sy kantoor vir hulp aan. “Party soek kos of werk, óf vra selfs geld om hul waterrekeninge te betaal.
“Ons het hier met 'n dubbele tragedie te doen – die pandemie aan die een kant en armoede aan die ander. Ons moet meer effektiewe maniere vind om werwingsprosesse soos dié Covid-vriendelik te maak, maar dit is moeilik. Dit is uitdagend om vir mense te sê om tuis te bly terwyl hulle honger is.”
'WERK IS WERK'
Mnr. Tobias Kamati, 'n gekwalifiseerde ketelmaker, is al vyf jaar werkloos.
“'n Werk is 'n werk, dit maak nie saak wat na my kant toe kom nie. Ek het gehoop om een van die gelukkiges te wees, maar die keuringsproses was regverdig. Vir die eerste keer sien ek deursigtigheid. Ek wil net my familie voed en vir my seun sorg.”
Me. Valery Guriras, 'n ma van vier, het voorheen as 'n kassier gewerk, maar is die afgelope twee jaar werkloos.
“Ek het gehoop om een van die poste te kry, maar ek was een van die ongelukkiges. Die proses was regverdig, maar die hoeveelheid mense was oorweldigend. Die werwingsbeamptes moes 'n beperking op die hoeveelheid aansoekers geplaas het aangesien die proses tydrowend was. Van die begin af moes hulle net 50 mense toegelaat het om aansoek te doen.
“Daarbenewens is geen sosiale afstand gehou nie en sommige mense het nie maskers gedra nie.”
Sy het Kamati se siening beaam, en gesê dit maak nie saak watter werk sy kry nie, solank sy net vir haar gesin kan sorg.
“Ek het vier seuns, van drie tot 11 jaar oud. My man het 'n werk, maar hy kan dit nie alleen doen nie. Ons is dankbaar, maar dit is nie genoeg nie – daarom is ek ernstig besig om werk te soek om my eggenoot te help.”
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie