Honderdjarige van Gibeon kry nuwe huis
’n Honderdjarige oumagrootjie van Gibeon is sprakeloos gelaat toe sy ’n tweeslaapkamer-opslaanhuisie van die Hardap-streekraad ontvang het. Me. Mina Goeieman, wat op 14 Februarie vanjaar ’n eeu oud geword het, was in trane en moes leun op Hardap se goewerneur, me. Esme Isaack, wat vir haar vertel het sy verdien ’n baie beter blyplek as die wankelrige struktuur waarin sy gewoon het. Geld vir die opslaanhuisie is deur die Namsov-gemeenskaptrust geskenk. Die honderdjarige deel die huis met haar jongste dogter, Magrietha, wat 68 jaar oud is. “Ten spyte van ons beperkte hulpbronne, het ek en my personeel besluit om ’n ordentlike struktuur aan haar te skenk,” het Isaack gesê.
Dié skenking was deel van ’n donasie aan 14 ander huishoudings in die nedersetting, wie se puttoilette met nuutgeboude badkamers vervang is. Die regering het N$1 miljoen vir die steenstrukture betaal, wat elk ’n spoeltoilet, wasbak en stort het.
Mnr. Dawid Eigub, bestuurder van Knight Piésold Consulting, onder wie se toesig die projek geskied het, het gesê voorsorg is getref om “ruim toilette toegerus met ’n hoë gehalte materiaal te bou, om instandhoudingskoste vir eienaars te verminder”.
Die hoof uitvoerende beampte van die Gibeon-dorpsraad, me. Desiree Theunissen, het gesê putlatrines in die dorp sal uitgefaseer word namate geld beskikbaar is. Meer as 300 inwoners gebruik nog putlatrines, terwyl 750 die bosse gebruik om hulself te verlig, het Theunissen gesê.
’n 900 m-teerpad na die nedersetting is ook tydens die oorhandiging van skenkings geopen wat in opdrag van die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling teen ’n koste van N$2,5 miljoen gebou is. Knight Piésold en AB Contractors, wat die pad ontwerp en gebou het, het ook kos en komberse aan 60 bejaardes, insluitend Goeieman, oorhandig wat deur die dorpsraad aangedui is. – Nampa

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie