Honger Windhoekers ruk op

Hordes inwoners van die hoofstad het Saterdagoggend die hoofhek by die Khomas­streekraad geblok en op voedselhulp aangedring.
Denver Kisting
Denver Kisting



Die polisie moes Saterdagoggend ingryp om 'n skare ontstoke Windhoekers by die hoofkantoor van die Khomasstreekraad onder bedwang te bring.

Dié mense het die hoofhek by dié perseel versper waar die Covid-19-kommunikasiesentrum (CCC) gehuisves word.

Hulle het aangedring op kospakkies wat glo verlede week aan die regering oorhandig is en by die kantoor geberg word.

Onder hulle was mans, vroue en kinders wat aangevoer het hulle is beveel om Saterdag aan te meld vir voedselhulp.

Ondanks die polisieteenwoordigheid het die groep onderneem om eers die perseel te verlaat wanneer die goewerneur van Khomas, me. Laura McLeod-Katjirua, hulle te woord staan.

Een van die groep se verteenwoordigers, me. Evelina Kaulume, het gesê hulle is honger en keelvol.

McLeod-Katjirua het die skare belowe hul griewe sal aandag geniet.

Volgens haar word geen kos by die streekkantoor uitgedeel nie. Sy het 'n beroep op die mense gedoen om geduldig te wees.



JOB SE ­GEDULD OP

Die grond­aktivis en politiekewetenskapdosent, dr. Job Amupanda, het gistermiddag by navraag gesê: “Die plaas­like leier­skap vaar baie swak met die implementering van die noodhulp. Dit is te betwyfel of hulle ooit aan die implikasies dink en of hulle net in 'n situasie stap.

“Die manier hoe die massas op hulle skree en op kos aandring en die leiers wat by die polisie skuiling soek, toon 'n leierskap wat morele gesag verloor het. Inwoners vertrou hulle nie.”



MISVERSTAND, Sê SAARA

Die eerste minister, me. Saara Kuu­gongelwa-Amadhila, sê wat Saterdag ontvou het, bekommer die regering. “Dit het geblyk daar was 'n probleem met kommunikasie oor die verspreiding van voedselhulp wat aanleiding gegee het tot die misverstand.”

Sy sê hulle besef baie mense is tans uitgelewer – veral weens die inperkings om Covid-19 se verspreiding te stuit – maar doen 'n beroep op gemeenskappe om aan te hou om saam te werk “omdat dit die enigste manier is hoe ons met die situasie kan omgaan wat ons in die gesig staar”.

Kuugongelwa-Amadhila sê hulle bly verbind tot die welstand van Namibiërs “om hulp te verleen aan ons kwesbare gemeenskappe deur hulpprogramme, soos die noodinkomstetoelaag, voedselhulp en om werknemers en besighede te ondersteun wat die hardste deur Covid-19 getref is”.

Hul pogings het ten doel om die ekonomie en die samelewing te beskerm, sê sy.



KATRINA GOOI KLIP IN BOS

Ná die skermutseling in die sosiale media rugbaar geword het, het me. Katrina Hanse-Himarwa, oudonderwysminister, op Facebook teen die owerhede uitgevaar. “Kos is 'n basiese behoefte. Hoekom moet mense in 'n posisie geplaas word om agter kos aan te hardloop? Om mense toe te laat om in groot getalle byeen te kom om kos op te tel, is 'n direkte oortreding van die Covid-19-regulasies van tien mense.”

Sy het die owerhede aangeraai om huishoudings se woonadresse te ­registreer en die kos tuis af te lewer.

“Dit kan in samewerking met jeugvrywilligers gedoen word. Ons kan nie 'n maand besig wees en steeds met operasies sukkel wat nie ordentlik werk nie. Nee, man!”

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!