‘Hongerpandemie’ lê vir wêreld op loer
’n Afname in voedselproduksie, probleme met die verspreiding en beskikbaarheid van kos en armoede gaan hongersnood in die wêreld vanjaar verdubbel.
Ronelle Rademeyer
Die wêreld se ekonome en beleidmakers twyfel nie meer daaraan dat die wêreldekonomie weens die Covid-19-krisis in ’n resessie gedompel gaan word nie. Trouens, die Internasionale Monitêre Fonds (IMF) voorspel die wêreld se bruto binnelandse produk (BBP) gaan in 2020 met 3% daal, wat veel erger is as die -1,8% wat gevolg het op die finansiële krisis wat lande in 2008 beleef het.
Die wêreld is tans in die greep van die grootste gesondheidskrisis in menseheugenis. Die ellende wat hieruit gaan voortspruit, sal nóg erger wees.
’n “Hongerpandemie” lê vir die mensdom voor, waarsku die Wêreldvoedselprogram (WFP).
Dié Verenigde Nasies (VN)-agentskap sê die lewens en lewensmiddele van 265 miljoen mense in lae- en middelinkomstelande word tans ernstig bedreig. Dit is dubbel die getal van 135 miljoen mense in 55 lande wat die WFP in sy verslag “Global Report on Food Crisis 2020” voorspel het sal vanjaar weens konflik, die uitwerking van klimaatsverandering en ekonomiese krisisse honger ly.
Dié verslag is opgestel voordat die Covid-19-pandemie uitgebreek het en bestaande krisisse was die enigste scenario waarop die WFP sy waarskuwing oor voedselnood en hongersnood geskoei het.
Volgens die WFP se hoofekonoom, mnr. Arif Husain, toon die nuwe syfers “die skaal van die katastrofe wat ons in die gesig staar”. “Ons moet seker maak die miljoene mense wat reeds op die rand van hongersnood is, sterf nie weens die virus of die ekonomiese gevolge van werks- en inkomsteverliese nie.”
AFRIKA BAIE KWESBAAR
Covid-19 het voedselonsekerheid in veral Afrika kritiek vererger. Met die aanvang van die pandemie het reuse-sprinkaanswerms gewasse in Oos-Afrika vernietig.
Sedertdien het inperkingsmaatreëls meegebring dat voedselproduksie tot stilstand gekom of verlangsaam het omdat die beskikbaarheid van insette soos saad en kunsmis deur logistieke uitdagings geraak word.
Dit beteken die vasteland is meer afhanklik van invoere, maar soos lande elders in die wêreld beperkings plaas op uitvoere om hul binnelandse voorrade te beskerm, kom invoere óók in gedrang.
Husain het gewaarsku handelsbelemmerings soos die verbod op voedseluitvoere deur lande is “uiters teenproduktief”. “Om jou buurman te laat honger ly, is nié ’n goeie beleid nie,” het hy oor die opstapeling van voedselvoorrade en uitvoerbeperkings gesê.
As voorbeeld noem hy lande soos Somalië en Suid-Soedan wat in 2018 altesaam 40 miljoen ton grane van oral in die wêreld moes invoer om tekorte aan te vul. “Dit maak hulle uiters kwesbaar wanneer internasionale pryse styg,” sê hy.
Lande soos Zimbabwe met hoë skuldvlakke is selfs nog meer kwesbaar.
“Die scenario in arm lande is te grusaam om aan te dink,” sê Husain. “Ons moet gereed wees vir die tweede en derde golf van hierdie siekte. Mense verloor hul lewensmiddele en hul inkomste en terselfdertyd word voorsieningskettings ontwrig. Hierdie is ’n dubbele slag wat beide die breedte en die diepte van honger oor die hele wêreld laat toeneem,” het hy gesê.
BEROEP OP LANDBOUMINISTERS
Tydens die buitengewone vergadering van die G20-lande se landbouministers in April, het die WFP saam met die Wêreldbank en die VN se Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) ’n gesamentlike verklaring oor die impak van Covid-19 op voedselsekuriteit en voeding uitgereik.
“Die pandemie beïnvloed reeds die totale voedselstelsel. Beperkings op beweging in lande en oor landsgrense heen kan voedselverwante logistieke dienste strem, volledige voedselvoorsieningskettings ontwrig en die beskikbaarheid van voedsel beïnvloed.
“Die impak op die beweging van landbou-arbeid en die lewering van landbou-insette gaan binnekort ’n kritieke uitdaging vir die produksie van voedsel veroorsaak en daarom voedselsekuriteit vir almal in die gedrang bring, met mense in die wêreld se armste lande wat die ergste geraak gaan word,” het hierdie organisasies gewaarsku.
Lande word in die verklaring gemaan om saam te werk aangesien die pandemie die hele wêreld beïnvloed en niemand daarvan uitgesluit is nie. “Dit is belangrik dat korttermyn-maatreëls wat handel beperk, nie wêreldmarkte verwring nie.”
IMPAK OP VOEDSELPRODUKSIE
Die beskikbaarheid van arbeid en boere se stryd om noodsaaklike insette in die hande te kry, is die twee faktore wat voedselproduksie die meeste kniehalter, sê Agramondis, ’n Nigeries-Duitse konsultante-onderneming wat in landbounavorsing spesialiseer.
Dit beteken die verbouing van veral arbeidsintensiewe gewasse en gewasse wat deur kleinboere verbou word, is in die gedrang. Dit sluit vanieljeboontjies, safraan, kakao en kasjoeneute in.
In ontwikkelende lande soos Nigerië wat tans in hul plantseisoen is (Mei/Junie), kan enige vorm van belemmering in die verspreiding van saad, kunsmis, insekdoders en ander agri-chemikalieë boerdery-aktiwiteite versteur en produksie laat daal, waarsku Agramondis.
Wat kommoditeitspryse betref, het die viruspademie ’n daling in die vraag na produkte soos kakao, kasjoeneute, hibiskus, vrugte en ander gewasse teweeg gebring. Die gevolg daarvan is dat boere geen ander keuse het as om hul produkte teen pryse laer as plaashekpryse te versprei nie.
Dit is nie net die boere in armer lande wat die impak voel nie. In Amerika het die prys van mielies tussen 14 Januarie en 23 April met 19% gedaal, terwyl beespryse op die hoef met 30% en dié van varke met 45% geval het. Dit is veel meer as die normale prysskommelings vir hierdie kommoditeite.
REGERINGSHULP
Verskeie lande soos die VSA, Duitsland, China en Italië het geld beskikbaar gemaak om hul ekonomieë te stimuleer.
Die Instituut vir Landbou- en Handelsbeleid waarsku oor die uitsluiting van familieboere en werkers in die landbouwaardekettings in Amerika van die stimuluspakket van US$2 triljoen wat aangekondig is.
Wat Duitsland se ekonomiese stabiliseringsfonds van 600 miljard euro betref, is daar nie ’n aanmoedingsinisiatief wat spesifiek op kleinskaalse landboubedrywighede fokus nie, sê Agramondis in ’n verslag.
Italië se “Cura Italia”-plan het 100 miljoen euro vir landbouondernemings beskikbaar gestel om hul lenings en verbande te help dek.
In China is “groentemandjie”-beleide ingestel om produksie en voorsiening te stabiliseer en die impak op kleinboere te versag.
Net so het Suid-Afrika sowat R67 miljoen beskikbaar gestel om kleinboere wat groente en vrugte en ander noodsaaklike gewasse verbou en met hoenders boer, te help. Nigerië het die prys van kunsmis met 10% gesny.
Nader aan die huis het Agribank ’n Covid-19 verligting- en stimuluspakket aangekondig wat op 1 Junie in werking tree.
Agribank-kliënte sal vir ’n paaiementvakansie van tot een jaar kan kwalifiseer, terwyl rentekoerse verlaag word, stimuluslenings beskikbaar gestel sal word en bestaande lenings herstruktureer kan word.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie