Hongersnood teister 20% van Namibiu00ebrs
Hongersnood teister 20% van Namibiu00ebrs

Hongersnood teister 20% van Namibiërs

Terwyl onbenutte potensiaal vir kosproduksie Namibië afhanklik van duur invoere maak, is ’n vyfde van die bevolking met ernstige voedseltekorte in 2020 gelaat.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh

Altesaam 427 905 Namibiërs, of 20% van die bevolking, het verlede jaar ’n ernstige, akute tekort aan voedsel ervaar.

Die streke wat die ergste deur voedseltekorte geraak is, is Kunene, Erongo, Khomas, Ohangwena, Kavango-Wes, Omaheke en Zambezi.

Me. Anna Dumeni van die kantoor van die eerste minister, het Vrydag (30 Julie) tydens die tweede dag se gesprekke oor die voedselstelsel in Namibië gesê, voedselhulp word tans nog aan die Kunenestreek en dele van die Erongo- en Omusatistreek verleen.

Sy het die opmerkings gemaak in gesprekke wat nog tot 16 Augustus plaasvind, ter voorbereiding van die Verenigde Nasies (VN) se Wêreldvoedselstelselberaad, wat in September gehou sal word.

Dumeni sê die hoofoorsaak van die voedseltekort was siektes soos die Covid-19-pandemie, maar ook bek-en-klouseer onder vee en peste en plae soos wurms en sprinkane, wat gewasse aangeval het.

Boonop het die verlies aan werksgeleenthede weens Covid-19-inperkings ook ’n groot rol gespeel, terwyl stygende pryse, armoede, werkloosheid, droogtes en vloede ook ‘n merk gelaat het.

Dumeni het gesê die ministerie se tweejaarlikse kwesbaarheidsontleding sal weer vandeesmaand uitgevoer word om die jongste syfers oor voedselsekuriteit te bekom. Sy het talle programme en beleide genoem wat ontwikkel is om die probleem te takel, wat insluit die zerohonger-strategieë, die klimaatsverandering-aanpassingstrategie en die sekuriteitsbeleid se toepassingsplan vir kos en voedsel.

Die moderator, mnr. Bertus Kruger, het gesê Namibië beskik oor goed ontwikkelde beleide, maar vaar nie goed daarin om dit toe te pas nie. Hy het ook gesê voedseltekorte word aan talle eksterne faktore toegeskryf, maar daar moet ook ondersoek ingestel word wat die impak van swak landboupraktyke is.

“Ons kan byvoorbeeld met bewaringsboerderypraktykte tot tien maal meer produseer,” het hy gesê.

INVOERE

Namibië kan ook baie meer geld vir plaaslike kosproduksie beskikbaar stel, sou produksie drasties kon verbeter, het mnr. Gerson Kampungu, bestuurder van navorsing en beleidsontwikkeling by die Namibiese Akkerbouraad (NAB), gesê.

“Namibië voer jaarliks mahangu ter waarde van N$18,8 miljoen van Indië af in, asook N$483 miljoen se witmielies van Suid-Afrika en N$620 miljoen se koring van Indië, Pole, Rusland en Suid-Afrika.

“Verder is tot N$109,2 miljoen se aartappels in die 2018-’19-boekjaar ingevoer, alhoewel Namibië self ook aartappels produseer en ‘n klein hoeveelheid uitvoer,” het Kampungu gesê.

Hy het gesê Namibië se 50 000 mahanguprodusente kweek jaarliks net sowat 27% van al die mahungu wat plaaslik verbruik word, terwyl die land se 3 000 mielieprodusente 37% van die witmielies wat ons verbruik, self produseer. Wat koring betref, produseer 20 boere 10% van die koring wat ons plaaslik verbruik.

PRODUKSIE

Kampungu het gesê geleenthede bestaan om primêre produksie te verhoog, marktoegang te verbeter en surplusproduksie te prossesseer, maar dat hoë insetkoste, afhanklikheid van saadinvoere en chemikalieë van elders en ‘n gebrek aan finansiering van die uitdagings is.

Dit volg op ‘n praatjie deur me. Maria Amakali, die ministerie van landbou, water en grondhervorming se direkteur van waterbestuur op die eerste dag van die landbouberaad, waartydens sy gesê het Namibië het ruimte om bykans 300 Mm³ (miljoen kubieke meter) méér water per jaar vir besproeiingsdoeleindes in te span – mits die nodige ontwikkeling kan plaasvind.

Kruger het gesê Namibië beskik oor groot gebiede wat geskik is vir gewasproduksie, maar dat die kritieke vraag is hoe toeganklik die gebiede vir die private sektor is.

“Na my mening is kosproduksie nie die werk van die regering nie, maar moet dit deur die private sektor gedryf word.

“Hoe maklik is dit vir die private sektor om toegang te verkry tot gebiede waar grootskaalse produksie moontlik is?” het hy gevra.

Die ministerie van landbou, water en grondhervorming se adjunkdirekteur, mnr. Ben Haraseb, het tydens die opening gesê die dag se fokus was om die kwessies vir voedselstelsels in Namibië te takel.

Die Wêreldvoedselprogram (WFP) se mnr. Elvis Odeke het tydens die geleentheid gesê die beraad word van stapel gestuur in ‘n tyd wat die VN gedoop het as die “dekade vir aksie om die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte (SDG’s) te bereik”. [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer