Hongkong groot wildkrisis-sondaar
Hongkong groot wildkrisis-sondaar

Hongkong groot wildkrisis-sondaar

‘n Verdoemende verslag dui op die aansienlike aard en omvang van onwettige wildhandel in dié stad.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Hongkong se onwettige wildhandel dra by tot ’n internasionale uitwissingskrisis.

"Elke jaar word miljoene lewende diere, plante en hul produkte onwettig na en deur Hongkong deur middel van transnasionale maatskappye en georganiseerde misdaadsindikate gesmokkel," lui ’n mediaverklaring van die ADM Capital Foundation (ADMCF).

Oor die laaste dekade het die verskeidenheid bedreigde spesies in Hongkong met 57% toegeneem, en in dieselfde tydperk het die geskatte waarde van handel met sowat 1 600% gestyg.

Sedert 2013 beteken beslagleggings op onwettige ivoor, ietermagôskubbe en renosterhoring deur Hongkongse owerhede dat 3 000 olifante, 65 000 ietermagôs en 51 renosters moontlik dood is.

"Hongkong se onwettige wildhandel neem toe; die waarde daarvan word onderskat, en dit dra by tot die internasionale uitwissingskrisis," lui die ADMCF se verklaring.

"Daar is ’n dringede behoefte vir die regering om op sy huidige wetstoepassingstrategie teen wildsmokkelary te verbeter."

Lede van die Hong Kong Wildlife Trade Working Group (HKWTWG) het ’n studie gepubliseer wat fokus op die tipe en hoeveelheid beslagleggings wat onwettige wildhandel in Hongkong die afgelope vyf jaar betref.

Die bevindings van die studie is vervat in ’n verslag van 200 bladsye, getiteld Trading in Extinction: The Dark Side of Hong Kong’s Wildlife Trade, wat Maandag gepubliseer is.

Die studie deur die HKWTWG, wat uit ’n versameling Hongkongse groepe bestaan, is een van die omvattendste analises oor wildsmokkelary in dié stad.

Daarvolgens speel Hongkong ’n sentrale rol in wêreldwye wildsmokkelary en die skaal en aard daarvan.

Volgens die studie gaan wildsmokkelary waarskynlik vererger.

Hoe toekomstige beleid en wetstoepassing verbeter kan word vir dringende langtermynvolhoubaarheid word uitgelig.

"Wildmisdaad in Hongkong bly onvoldoende gepolisieer en word nie deeglik ondersoek nie. Wildsmokkelary word volgens Hongkongse wette nie as ’n georganiseerde en ernstige misdaad beskou nie," sê prof. Amanda Whitfort van die Universiteit van Hongkong se regsfakulteit, en een van die outeurs van die verslag.

“Omdat wildsmokkelary nie as ’n misdaad onder die georganiseerde en ernstige misdaadordonnansie ingesluit is nie, belemmer dit die owerhede se magte om diegene wat agter die netwerke en sindikate sit, behoorlik aan te kla. Hulle trek dus voordeel uit Hongkong se posisie as reusehandelspos,” sê Whitfort.

Die ADMCF se uitvoerende hoof, me. Lisa Genasci, sê: “Ons navorsing dui daarop dat Hongkong ’n kern vir georganiseerde wildsmokkelaars geword het met gevolge vir ons stad se internasionale beeld, asook internasionale biodiversiteit.”

Sy het bygevoeg die uitwissing van olifante, renosters, ietermagôs en ander spesies is in ons leeftyd ’n moontlikheid as onwettige handel nie stop nie.

Kommentaar

Republikein 2025-03-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer