Hoof van AU-kommissie verkies
Hoof van AU-kommissie verkies

Hoof van AU-kommissie verkies

Leiers van die Afrika-unie het Tsjad se kandidaat as voorsitter van die 54 nasie-liggaam aangewys.
Estelle de Bruyn
In die laaste verkiesingsronde vir die aanwys van die nuwe hoof van die Afrika-unie (AU) se kommissie, het Tsjad se minister van buitelandse sake, Moussa Faki Mahamat, Kenia se topdiplomaat, Amina Mohamed, uitgestof.

Faki dien sedert 2008 as minister van buitelandse sake.

Die uittredende kommissaris, Suid-Afrika se Nkosazana Dlamini-Zuma, het ses maande langer in die pos aangebly as wat haar termyn geduur het, nadat leiers in Julie 2016 nie daarin kon slaag om op 'n geskikte kandidaat ooreen te kom nie.

Ondertussen duur die debat oor Marokko se moontlike hertoetrede tot die AU voort. Wes-Sahara se minister van buitelandse sake, Mohamed Salem Ould Salek, het vordering met Marokko se hertoetrede as 'n “positiewe stap” verwelkom, aangesien dit die land op 'n gelyke voet met Wes-Sahara­ sal plaas, iets wat Marokko tot nou toe geweier het om te erken.

Koning Mohammed VI is sedert verlede jaar besig met diplomatieke­ pogings om Rabat se hertoetrede

te verseker.

Die kontinentale swaargewigte­, Algerië en Suid-Afrika, steun die Sahrawi Republiek (Wes-Sahara) se stryd om onafhanklikwording, maar het nie 'n aanduiding gegee of hulle Marokko se hertoetrede sal teenstaan of steun nie.

Aanvanklike vergaderings by die AU-spitsberaad in Addis Abeba is oorheers deur besprekings oor die Internasionale Strafhof (ICC) wat volgens lande soos Suid-Afrika en Kenia 'n instrument van Westerse imperialisme is wat die vasteland onregverdig teiken.

Hierteenoor sê Nigerië, Botswana en verskeie ander lande die Den Haagse hof is 'n belangrike wetlike instrument vir lande waarvan die binnelande juridiese stelsels deur burgerlike konflik gekompromitteer is.

“'n Mens het al hierdie oproepe om eenheid, maar as 'n mens nou na die AU kyk, is dit inderdaad meer verdeel as ooit – oor Marokko, die streek en die ICC,” het Liesl Louw-Vaudran, 'n AU-deskundige verbonde aan die ­Instituut vir Veiligheidstudies in ­Pretoria, gesê.

Tydens Dlamini-Zuma se tyd aan die stuur van sake by die AU het sy gefokus op die hervorming van die disfunksionele interne burokrasie van die instansie. Sy het ook 'n langtermynplan opgestel om die lewe van Afrika se minderbevoorregte burgerlikes, veral vroue en kinders, te verbeter. Sy is egter gekritiseer omdat sy nie daarin geslaag het om verdeeldheid wat deur haar verkiesing veroorsaak is, uit die weg te ruim nie en omdat sy nie genoeg gedoen het om konflik in lande soos Suid-Soedan, wat volgens die Verenigde Nasies in die rigting van 'n volskaalse volksmoord neig, te voorkom nie. - Nampa/Reuters

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer