Hoofinspekteur getuig oor N$206 m-dwelmklopjag
Hoofinspekteur getuig oor N$206 m-dwelmklopjag

Hoofinspekteur getuig oor N$206 m-dwelmklopjag

Twee polisiebeamptes en ’n forensiese wetenskaplike het die afgelope week in die verhoor van vermeende kokaïensmokkelaars, mnre. Grant Noble en Dinah Azhar, getuig.
Kristien Kruger
Kristien Kruger – “Dit lyk soos kokaïen,” het een van die beskuldigdes glo gesê toe die eerste verdagte pakkie oopgesny is wat uit die vraghouer verwyder is. Die wit poeier was toe nog nie vir dwelms getoets nie.

Twee beamptes van die Namibiese polisie het Woensdag in die hoërhof in Windhoek vir die staat getuig en gesê mnr. Grant Noble was die eerste persoon wat tot die gevolgtrekking gekom het dat die wit poeier kokaïen was.

Volgens hoofinspekteur Charles Richard Goagoseb, van die polisie se eenheid vir dwelms, en polisiebeampte Kennedy Beukes, is die oënskynlike dwelms eers op 19 Junie 2018 na die Instituut vir Forensiese Wetenskap (NIFS) in Windhoek vir toetse geneem.

Volgens die forensiese wetenskaplike van die NIFS wat gister getuig het en die persoon was wat die toetse op die dwelms uitgevoer het, het die pakkies tot ’n persentasie van 85% positief vir kokaïen getoets.

Die vraghouer het aan ZEEKI Trading cc – die twee beskuldigdes se besigheid – behoort en is op 15 Junie 2018 op Walvisbaai se hawe gestop en deur polisie en doeanebeamptes ondersoek.

Binne die vraghouer is sowat 412 kilogram kokaïen met 'n geraamde straatwaarde van N$206 miljoen gevind.

Die vraghouer is vanaf Santos, Brasilië, na Walvisbaai vervoer.

Volgens Noble en sy medebeskuldigde en besigheidsvennoot, mnr. Dinah Azhar, se regsverteenwoordiger, mnr. Sisa Namandje, ontken Noble dat hy ooit gesê het dit is kokaïen.

“Indien hy dit wel gesê het, was dit nie met sekerheid nie. Hy het eenvoudig, volgens jou getuienis, gestel dit ‘lyk soos kokaïen’,” het Namandje aan Beukes gesê.

KWESSIE VAN BESIT

Dit was duidelik dat Namandje tydens Beukes en Goagoseb se kruisondervraging die kwessie van die besit van dwelms – een van die aanklagte teen die twee mans – onder die loep wou bring.

“Die beskuldigdes het nooit die oënskynlike dwelms in hul besit gehad nie. Die polisie het beslag op die vraghouer gelê voordat dit aan die beskuldigdes oorhandig is,” het hy gesê.

Beukes het hierop geantwoord die doanebeamptes het vir hom gesê die vraghouer se dokumentasie het aangedui die vraghouer behoort aan die beskuldigdes se besigheid en hulle is op grond daarvan in hegtenis geneem.

Beukes en Goagoseb se getuienis oor die gebeure op 15 Junie het grotendeels ooreengestem.

Volgens hulle is die lasbrief om die vraghouer te deursoek aan die beskuldigdes gewys, wat volgens dokumentasie bokse fotostaatpapier bevat het.

Die verdediging betwis die feit dat die lasbrief aan die beskuldigdes gewys is.

Volgens hul getuienisse het Noble glo die vraghouer se seël gebreek en die vraghouer is oopgemaak. Die beskuldigdes het na bewering ’n vurkhyser gereël om die palette uit die vraghouer te laai.

Toe die derde palette uitgelaai is, het albei Beukes en Goagoseb waargeneem dat dié palet se bokse anders lyk.

Volgens Beukes wou dit voorkom asof daar met die bokse “gepeuter” is en Goagoseb het dit as “beskadig” beskryf.

Volgens hul getuienisse het polisiehonde wat opgelei is om dwelms uit te snuffel, die bokse geruik en begin blaf – ’n aanduiding dat daar dwelms in is.

Polisiebeamptes het glo die bokse oopgemaak en binne-in was kleiner pakkies. Een pakkie is oopgesny en wit poeier is gevind.

Die doanebeamptes en die polisie het die pakkies begin tel en sowat 400 pakkies dwelms is gevind.

Dis in forensiese sakke gesit, geseël en die beskuldigdes het glo elke sak afgeteken.

Een forensiese sak met twee pakkies van die dwelms wat op die toneel oopgemaak is, is glo op 16 Junie na die NIFS geneem en die oorblywende sakke op 19 Junie.

Die verhoor duur vandag voort.
[email protected]

FOTO
Die twee beskuldigdes, mnre. Dinah Azhar (links) en Grant Noble, saam hul verteenwoordiger mnr. Sisa Namandje. Foto Argief

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!