Hoofman su00ea dam sal Ovahimba red
Hoofman su00ea dam sal Ovahimba red

Hoofman sê dam sal Ovahimba red

Die Ovahimba-gemeenskap van Epupa leef in ellende en pleit dat 'n beplande damprojek voortgaan.
Catherine Sasman
Catherine Sasman - Die tradisionele hoofman van die Ovahimba, Hakuminue Kapika, beywer hom vuriglik vir die bou van die dam vir die Baynes-hidroskemaprojek en sê alle toekomstige ontwikkeling in die Epupa-kiesafdeling hang hiervan af.

“Ons moet op ons eie voete staan; die dam móét gebou word,” het die bejaarde Kapika verlede week tydens ‘n besoek aan Windhoek gesê. “Dit is ‘n hulpmiddel waarmee ons ons kinders kan teruglok. Dit sal dan nie vir hulle nodig wees om die gebied te verlaat op soek na ontwikkeling nie,” het hy aan Republikein gesê.

Kapika is in 2014 as hoof van die Kapika-koningshuis onthef aangesien hy die groen lig gegee het vir die bou van hierdie omstrede hidroskema-projek.

Hy het hom hierteen verset en in dieselfde jaar aangekondig dat hy die DTA-lidmaatskap opgee om hom by Swapo aan te sluit.

Hy het erken dat hy ‘n onderonsie met die stigterspresident, mnr. Sam Nujoma, gehad het wie se idee dit oorspronklik was om ‘n hidroskema-dam by die Epupa-valle te bou.

Kapika sê in 2013 het hy en Nujoma versoen en ooreengekom dat die dam stroomaf gebou kan word sodat dit nie “God se skeppingswerk” by die Epupa-valle ontsier nie.

Daarna is beweer hy het sy teenkantig teen die bou van die dam laat vaar nadat hy vir ‘n besoek China toe geneem is waar hy van die voordele van die skema oortuig is.

Kapika het egter verlede week ontken dat hy persoonlik na China geneem is. Hy ontken ook dat hy deur die toekomstige ontwikkelaars van die Baynes-projek omgekoop is. Kapika het egter wel erken dat een van sy volgelinge China toe was.

“Ons wil nie agtergeblewe wees nie; ons wil ontwikkeling hê,” sê Kapika en doen ‘n beroep op diegene in die tradisionele owerheid wat teen die dam gekant is, om hul siening te verander.

“Ek kan nie dink dat daar iemand is wat dit nie wil hê nie. Ek wil hê dit moet voortgaan,” sê hy.

Volgens hom sal die grafte in die gebied waar dit ontwikkeling gaan kom, na ‘n “behoorlike rusplek” verskuif word.

Kapika, vergesel van senior raadslid Vulhama Tjintunda en raadslid Murengua Tjiposa, het verlede week ook ‘n beroep beleggers gedoen om in ontwikkeling in die Epupa-kiesafdeling te belê.

DROEWIGE PRENTJIE

Hulle het ‘n droewige prentjie geskets van hoe dit daar gaan en sê die inwoners se welstand en oorlewing is in die gedrang.

Ofskoon dit vanjaar goed gereën het in die Kunenestreek, het die langdurige droogte waaronder die streek gebuk gegaan het tot groot veeverliese gelei.

Verder sê Kapika jong mense vergryp hulle aan alkohol en “ander onbetaamlike gedrag” aangesig armoede hul lewe uitsigloos maak. Hy sê jongmense is werkloos aangesien daar nie ontwikkeling plaasvind en werkgeleenthede is nie.

“Ons is letterlik in ons eie land sonder ‘n heenkome,” sê Kapika. “Ons voel afgeskeep en vergete. Ons kan nie eens bekostig om ons vroue en kinders kliniek toe te neem nie. Daar is vir kilometers om ons geen gesondheidsgeriewe nie. Die enkele verafgeleë klinieke is boonop nie goed toegerus nie en word swak bestuur.”

Hy en die ander hoofmanne kla ook oor die swak toestand van paaie en die telekommunikasienetwerk, die gebrek aan drinkwater en behoorlike voeding.

Hulle vra beleggers om met tuinbou- en besproeiingsprojekte te begin, of om klein leerwerkondernemings op te rig.

Dié Ovahima-leiers sê ook hulle is moeg daarvoor om jaar na jaar vee te verloor omdat daar nie bemarkingskanale vir hul vee is nie.

Ofskoon onderwys gratis is, is die infrastruktuur vervalle en daar is nie koshuise waar kinders gehuisves kan word nie. Hulle voer ook aan dat die Ovahimba nie by toerisme baat nie.

“Buitelandse besoekers betaal om na die Kunenestreek te kom, maar hulle geld bly in Windhoek. Ons is niks meer as ‘n aardigheid vir die nuuskierige buitelanders nie wat aan ons oorskietkos en kleingeld uitdeel vir ‘n fotogeleentheid,” sê hulle.

Volgens dié leiers het die sukkelende nedersetting by Okonguati die potensiaal om tot ‘n volwaardige dorp te ontwikkel, maar die politieke wil is nie daar om die mense by te staan nie.

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer