Hoofondersoekbeampte getuig oor Fishrot
Hoofondersoekbeampte getuig oor Fishrot

Hoofondersoekbeampte getuig oor Fishrot

Die staat het gister sy eerste getuie in die borgtogaansoek van ses van die Fishrot-beskuldigdes geroep, wie se getuienis vandag sal voortgaan.
Kristien Kruger
Kristien Kruger – “Dis ’n ernstige saak, wat handel oor bedrae van meer as N$300 miljoen. Dis geld wat veronderstel was om tot die voordeel van die Namibiese mense aangewend te word en om die land se ekonomie te bevorder, maar in plaas daarvan het die beskuldigdes dit vir eie gewin gebruik.”

So het die hoofondersoekbeampte in die Fishrot-korrupsiesaak gister in die hoërhof in Windhoek as die staat se eerste getuie gesê.

Hoofinspekteur Andreas Ndeshipanda Kanyangela van die Teenkorrupsiekomisie (ACC) was die hoofondersoekbeampte in die Fishrot-korrupsiesaak.

Kanyangela het getuig die eerste ontmoeting wat die bal aan die rol gesit het vir wat vandag as die Fishrot-skandaal bekend staan, het reeds in 2011 plaasgevind.

Die Samherji-visserygroep het na bewering in 2012 sowat N$600 000 aan Cambadara Trust oorbetaal sodat die beskuldigdes die maatskappy kon oortuig om hul regte aan die Samherji-groep te verkoop. Sacky Shanghala en James Hatuikulipi het belange in dié trust gehad.

Die ACC het glo bewyse dat Ricardo Gustavo, wat tans op borgtog vry is, van die genoemde bedrag sowat N$50 000 ontvang het.

“Verder het James Hatuikulipi N$380 000 ontvang en N$150 000 is aan sy besigheid, Grayguard Investment CC, betaal wat toe vanaf Grayguard na Erongo Clearing and Forwarding CC (Tamson Hatuikulipi se maatskappy) oorbetaal is en Tamson het nadat hy die geld ontvang het ’n tjek vir N$150 000 aan Bernard Esau uitgemaak,” het Kanyangela getuig.

Die ondersoeker het verder getuig dat Angola en Namibië, deur hul ministers van visserye en mariene hulpbronne, Esau en Victoria Debaros, ’n ooreenkoms onderteken het wat as gronde gedien het vir Nangomar Pesca om kwotas ter waarde van sowat 50 000 metrieke ton te ontvang.

Die kwotas was volgens Kanyangela deur Esau toegeken.

“As ons die ooreenkomste volg wat onderteken is gedurende die tyd wat hierdie kwotas toegeken is, waar die gebruiksfooi N$3 000 per metrieke ton was, is die waarde van hierdie 50 000 metrieke ton N$150 miljoen.”

N$38 MILJOEN VAN SAMHERJI NA NANGOMAR, GLO VIR EIE GEWIN

Volgens Kanyangela se getuienis is sowat N$38 miljoen, wat deur die Samherji-groep aan Nangomar Pesca Namibia betaal is, verder onder die beskuldigdes en hul betrokke maatskappye versprei.

“Die ondersoek het aan die lig gebring dat die kwotas wat aan Nangomar Pesca Namibia toegeken is, eintlik deur die ministerie op grond van regeringsdoelwitte toegeken moes word. Dit was veronderstel om tot voordeel van die publiek aangewend te word, maar die ondersoek het getoon dat betalings van die Samherji-groep, in verband met hierdie kwotas, aan Nangomar Pesca Namibia betaal is.

“Gustavo was die maatskappy se enigste direkteur. Die maatskappy was deel van Nangomar Pesca Limitada, wat na bewering ’n Angolese maatskappy was en Angola se minister van visserye en mariene hulpbronne het ’n belang in die maatskappy gehad.”

Volgens Nangomar Pesca Namibia se bankstate het die Samherji-groep sowat N$38 miljoen vir die maatskappy betaal en was die bedrag glo verder versprei in maatskappye waarin die beskuldigdes belange gehad het – onder andere Grayguard Investment CC (James Hatuikulipi), Erongo Clearing and Forwarding CC (Tamson), GT Trading (Tamson) en Otuafika Logistic (Pius Mwatetulo).

Die ondersoek het verder getoon slegs N$9 miljoen is deur Nangomar Pesca Namibia verklaar.

“Die geld was nie vir regeringsdoeleindes gebruik nie, maar die beskuldigdes het dit gebruik om bates aan te koop, vir mekaar te leen en eiendom aan te koop,” voer Kanyangela aan.

GRONDE TEEN DIE TOESTAAN VAN BORGTOG

Kanyangela het in sy getuienis gesê sy gronde teen die beskuldigdes se vrylating op borgtog is die erns van die oortreding en die feit dat hulle dalk, nes tevore, by die ondersoek sal inmeng.

Hy meen ook borgtog sal nie in die openbare belang óf in die belang van geregtigheid wees nie. Hy beweer ook dat die beskuldigdes ’n vlugrisiko inhou.

Shanghala, Hatuikulipi en Mwatelulo het beëdigde verklarings ingedien en het nie die getuienisbank ingeneem nie. Nghipunya, Mwapopi en Shuudifonya het klaar getuig.

Die staatsaanklaer, adjunk-aanklaer-generaal adv. Cliff Lutibezi sal vandag Kanyangela se getuienis verder lei.

[email protected]

FOTO
Die Teenkorrupsiekomisie (ACC) se hoofondersoekbeampte in die Fishrot-korrupsiesaak, hoofinspekteur Andreas Ndeshipanda Kanyangela, het in die hoërhof in Windhoek getuig. Foto Facebook

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!