Hoofstad se ashope nie groot genoeg
Hoofstad se ashope nie groot genoeg

Hoofstad se ashope nie groot genoeg

Windhoek se hoofstortingsterrein sal vir nog net twee jaar die stad se vullis kan hanteer.
Augetto Graig
Windhoek se munisipaliteit moet die Kupferberg-stortingsterrein binne die volgende twee jaar uitbrei vir die hantering van ­gevaarlike vullis, en binne die ­volgende vyf jaar vir gewone vullis.

Só sê mnr. Scheifert Shigwedha, die munisipaliteit se woordvoerder.

Shigwedha het verlede week gesê die stad is besig om ­dokumentasie te voltooi om die stortingsterrein, die twee afvaloordragstasies in Brak­water en Kleine Kuppe, asook die sewe munisi­pale bou- en ­tuinafvalterreine rondom die stad te laat voldoen aan die vereistes van die Omgewingswet van 2007. Dié wet is sedert 2012 van toepassing ná die betrokke regulasies goedgekeur is.

Hierdie aankondiging volg op mnr. Pohamba Shifeta, minister van die omgewing en toerisme, se verklaring dat nie een van die land se stortingsterreine in die land tans aan dié wet voldoen nie.

Volgens Shigwedha bestaan Kupferberg al meer as 38 jaar en het die hoofstad in 2015 'n klaringsertifikaat vir die omgewingsbestuursplan daarvoor van die ministerie ontvang.

“Die stad heg waarde aan die veiligheid van die ondergrondse waterbron en dus word geen chemikalieë toegelaat om van die stortingsterrein af na die waterbron te verdamp nie,” sê Shigwedha.

Windhoek se munisipaliteit doen ook inspeksies en omgewings­impakstudies by stortingsterreine om te verseker dit voldoen aan gesondheidstandaarde, het hy gesê.

“Kupferberg bestaan uit 'n ­algemene stortingsterrein en een vir gevaarlike vullis. Die gevaarlike vullis kom in die algemeen van nywerheids­kliënte af, maar sluit onder meer kos in wat verval het, asook olie, ­chemikalieë, batterye, slyk van looie­rye en kunsmis.

“Omvattende studies is uitgevoer en meganismes bestaan om te verseker Windhoek se ondergrondse waterbronne kom nie in die gedrang nie,” sê hy.

Uit die totale hoeveelheid maandelikse vullis van 7 000 ton wat by Kupfer­berg gestort word, is sowat 4 000 ton huishoudelike gemors.

Om die nodige ruimte vir die uitbreiding van Kupferberg te skep, sal die hoofstad binne die volgende twee jaar die erf langs die stortingsterrein ontwikkel.

Die stad sal N$72 miljoen uit die 2018-'19-begroting aan die ontwikkeling daarvan afstaan.

In totaal sal die projek na raming sowat N$125 miljoen kos en die stad hoop om die res van die fondse by ­eksterne bronne te kry, het ­Shigwedha gesê.

Hy het 'n beroep op Windhoek se ­inwoners gedoen om meer betrokke by herwinning te raak.

Volgens hom is die meerderheid van die vullis wat by Kupferberg en om die stad gestort word, herwinbaar omdat dit uit onder meer papier, plastiek, bokse en blikkies bestaan.

'n Gedragsverandering wat vullis betref kan die lewensduur van ­Windhoek se stortingsterreine ­merkwaardig verleng en die stad ­miljoene spaar, sê hy.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!