Hoog tyd vir APRM-besluit
Hoog tyd vir APRM-besluit

Hoog tyd vir APRM-besluit

Dani Booysen
Sowat 14 jaar na die Afrika-unie op die beginsel ooreengekom het dat lidlande mekaar as eweknieë sal evalueer om ontwikkeling en demokrasie te versterk, moet Namibiërs nie net verheug wees nie, maar ook verlig dat ons land uiteindelik die stelsel amptelik aanvaar het.

Dr. Hage Geingob het Saterdag dié aankondiging as staatshoof in Addis Ababa, Ethiopië gedoen.

Die APRM-stelsel het uit die staanspoor in 2003 'n baie positiewe beeld van Namibië gegee. Juis daarom dat 'n mens moet wonder hoekom dit so lank geneem het om die beginsel onvoorwaardelik te aanvaar.

Voorwaardes mag nie later uit die niet verskyn nie.

Die APRM behels krediet vir goeie besluite en beleid, maar kan ook help om oplossings vir probleme te vind. Namibië moet dus nie bang wees vir kritiek nie. En opregte deursigtigheid is 'n voorvereiste.

Volgens Geingob wou Namibië nie hê die land moet teen ander Afrika-state afgespeel word nie. Dit is deel van die jarelange klem op soewereiniteit eerste. En 'n rede waarom baie Afrika-lande steeds nie die beginsel aanvaar het nie. Groot kontraste en meningsverskille is steeds 'n realiteit op die vasteland.

Die aanvaarding van die APRM moet egter nie verwagtinge vir uitgesproke kritiek teen buurlande en sukkelstate elders in Afrika skep nie.

Die idioom sê woorde wek, maar voorbeelde trek. Namibië se besluit en ander navolgenswaardige voorbeelde alleen is nie genoeg nie.

Om Afrika te verbeter sal slim, stille diplomasie en berekende, openbare standpuntinname steeds nodig wees.



So sê ander

30 Januarie 2017



SA kan les uit Brexit leer



In Brittanje is pas 'n uitstekende voorbeeld gegee van 'n demokrasie in werking waaruit Suid-Afrika beslis ook iets oor 'n gesonde regstaat kan leer.

Die Britse kiesers het verlede jaar met 'n naelskraapse meerderheid besluit dat hul land die Europese Unie (EU) moet verlaat. Dit het die vraag laat ontstaan of premier Theresa May en haar kabinet die besluit op eie houtjie kan deurvoer en of die parlement toestemming moet gee. Twee howe, 'n laer hof en die hoogste hof van appèl, het nou besluit die parlement moet daardie besluit neem.

Dié historiese hofbeslissing berus op die ongeskrewe Britse grondwet, waarvolgens die land se parlement soewerein is.

Vir Suid-Afrika, ook vir sy politieke leiers, onderstreep dit die belang van 'n regstaat waarin die regering van die dag onderhewig is aan die reg en nie daarbo verhewe is nie.

• NETWERK24

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer