Hoop op deurbraak met staking
Hoop op deurbraak met staking

Hoop op deurbraak met staking

Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn - Die eerste minister, me. Saara Kuugongelwa-Amadhila, sê alles moontlik word gedoen om ’n kompromie met stakende­ onderwysers en die Namibië Nasionale Onderwysersunie (Nantu) te bereik om die onder­wysstaking voor Maandag te beëindig.

Sy het gister in die Nasionale Vergadering by wyse van ’n ministeriële verklaring aan die lede van die Huis en die publiek terugvoer gegee oor die stand van sake.

“Dit moet duidelik gemaak word dat die regering die grondwetlike regte van diegene in onderhandelingseenhede ten opsigte van nywerheidsaksie respekteer. Onderhandelinge het volgens die wet verloop en nadat onderwysers besluit het om wel te staak, is oor die reëls van die staking onderhandel. Die partye kon nie oor die reëls ooreenkom nie en die bemiddelaar het ingetree en reëls ingevolge die arbeidswet opgestel. Nadat die hof nie ’n interdik teen die staking wou goedkeur nie, het die staking begin.

“Die regering is betrokke met alle belanghebbendes om ’n oplossing te vind sodat leerders volgende week kan terugkeer skool toe,” het Kuugongelwa-Amadhila­ gesê.

Sy het opnuut ouers en voogde van skoolgaande kinders in regeringskole daarop gewys dat die skole vandag gesluit sal wees.

Graad 10- en 12-leerders moes gister onder meer eksterne wiskunde- en vandag lewensweten­skapvraestelle skryf. Die eksamens is voorlopig uitgestel. Dit geld Cambridge-eksamens aan sowel staats- as private skole. Volgens Kuugongelwa-Amadhila is dit beter om nou die eksamens in die vakke wat op die eksamenrooster is uit te stel sodat die leerders die eksamen later onder beter omstandighede kan skryf.

Sy het haar dank betuig aan nie-stakende onderwysers en ander onderwyspersoneel wat wel gister by skole opgedaag het om voort te gaan met hul werksaamhede en die belange van leerders eerste gestel het.

“Ons is bewus van die wanorde en ontwrigting waaraan leerders onderwerp word. Ons hoop om die kwessie so gou as moontlik op te los.”

“Die twee partye is betrokke en die soeke na ’n aanvaarbare oplossing vind in ’n gees van wedersydse begrip plaas om so vinnig moontlik normale klasse te kan hervat. Ons is vol vertroue dat ’n ooreenkoms oor die naweek bereik sal kan word.

“Ons maak vordering en is optimisties dat ons ’n deurbraak sal maak. Die regering is daartoe verbind om in die beste belang van die leerders op te tree. Dieselfde geld vir Nantu. Al stem ons nie saam oor die salarisse nie, wil die vakbond ook graag ’n oplossing vind en spoedig na die klaskamer terugkeer.”

Gevra oor die impak van die uitstel van die eksamenvraestelle gister en vandag het die adjunkminister van onderwys, kuns en kultuur, me. Anna Nghi­pondoka, gesê al die eksterne Cambridge- vraestelle, met die uitsondering van Frans, word in Namibië nagesien.

Die Franse vraestel kom eers later aan die beurt en word in Brittanje nagesien. Daar word egter nie verwag dat dit geraak sal word nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 36° Rundu: 24° | 34° Eenhana: 21° | 36° Oshakati: 22° | 36° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 24° | 37° Otjiwarongo: 19° | 35° Omaruru: 18° | 36° Windhoek: 18° | 32° Gobabis: 17° | 32° Henties Bay: 14° | 20° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 16° | 31° Mariental: 16° | 31° Keetmanshoop: 14° | 30° Aranos: 16° | 31° Lüderitz: 13° | 29° Ariamsvlei: 14° | 30° Oranjemund: 12° | 26° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 17° | 32° Lubumbashi: 17° | 25° Mbabane: 12° | 19° Maseru: 9° | 20° Antananarivo: 18° | 30° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 20° | 25° Windhoek: 18° | 32° Cape Town: 16° | 23° Durban: 15° | 24° Johannesburg: 14° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 21° Harare: 18° | 26° #REF! #REF!