Hoop vir ‘asgatkinders’
Vrywilligers maak ‘n langtermynverskil
Elvira Hattingh – Deur middel van foto’s vertel Chosen Generation aan almal wat wil hoor, die verhaal van kinders wat op Okahandja se ashope woon. ’n Verhaal wat gelukkig algaande meer hoop bring.
Eers wys die foto’s kinders met hul hande in ’n asdrom, besig om iemand se uitgedroogte broodkorsies te eet, of ’n seun en ’n meisie wat beurte maak om aan ’n leë koeldrankbottel op die asgate te sluk.
Hulle slaap onder van die items wat hulle op die ashope kan bymekaarmaak, krap in bokse vir enige oorblywende stukkies kos. Andersins maak hulle plastiek, glas en metaal bymekaar vir herwinning en ’n klein inkomste.
Die fotoverhaal word egter meer optimisties, wanneer vrywilligers kinders in die nedersettings van ’n “a”, “b” en “c” leer. Nee, hulle gaan nie skool nie – dit is kosbare tyd waarin meer herwinbare items bymekaar gemaak kan word en wat ’n stukkie brood kan koop.
Op ’n ander foto sit ’n klompie jong seuns in ’n netjiese huis met ’n behoorlike bord kos voor hulle. Hul verslete klere is verruil vir iets netjieser.
“Gemors wat op die asgate gegooi word, word verbrand. Baie van die kinders woon en slaap egter op hierdie asgate en soek vir enige iets wat hulle kan verkoop of kan eet,” sê me. Irene Bartsch, stigter van die Chosen Generation-liefdadigheidsorganisasie.
“Verskeie van hierdie kinders is haweloos en wees. Ander het ouers wat self geen onderrig het nie en sukkel om ’n werk te kry en ’n bestaan te voer. Sommige van hul ouers woon self op die asgate.
“Hulle probeer oorleef deur bottels vir herwinning te versamel en te verkoop en krap in die vuilgoed vir ou kos rond,” sê Bartsch.
Gekies wie om te help
Bartsch sê die idee om hierdie kinders te help, het aanvanklik begin toe sy besef sy moet iets doen – veral vir dié wat op die ashope woon.
Sy het aanvanklik in ’n kerk die projek voorgestel en gevra dat mense wat haar sal help, moet opstaan. Niemand het opgestaan nie. Sy het egter voortgegaan en drie jaar gelede met 20 kinders en baie min hulp begin.
“Ek was vasbeslote om aan dié kinders ’n beter toekoms te bied. Soos die maande verbygegaan het, het meer en meer mense by my aangesluit. Ons is nou 33 mense. Ons het saamgestaan om aan hierdie kinders klere en geleenthede soos onderrig, sport, en Bybelstudie te bied,” sê Bartsch.
Sy het toe ook besef hoe groot die nood werklik is en dat nie almal gehelp kon word nie. Sy wou ook nie net lukraak hulp aanbied nie, maar die kinders in die lang termyn help.
“Ons kon nie net ingaan en byvoorbeeld vir hierdie kinders sê hulle moet van die ashope wegkom en skool toe gaan nie. Ons moes werklik hul situasie leer ken, begrip hê en uitwerk hoe ons ’n verskil kan maak,” sê me. Anita Lee, ’n Amerikaanse vrywilliger wat ook met die projek help.
Bartsch sê die kinders hulp ontvang se ouderdomme wissel van twee tot 17 jaar.
“Sommige van hulle gaan laerskool toe, wat nou gratis is, maar die ouer kinders gaan meestal nie skool toe nie. Hulle kan dikwels glad nie lees en skryf nie, wat dit nog moeiliker vir ons maak om hulle in enige skool te laat opneem. Ons probeer dus eerder om borge te kry om hierdie kinders na byvoorbeeld sendingkampe te stuur.
“Andersins staan die vrywilligers self in om die kinders die basiese dinge te leer.
“Ons probeer om die klein kindertjies in preprimêre of primêre skole te kry. Die doel is om die verkose kinders te versorg wat hul basiese behoeftes betref – klere en kos. Ons wil vir hulle toegang tot onderrig gee en hulle na verskeie opleidingskampe stuur. Ons bied vir hulle sport aan en leer hulle uit die Bybel.”
Seuns op straat
Lee en haar seun Derick is Amerikaners wat reeds van die begin af by Chosen Generation betrokke was, maar nie op die raad kan dien nie omdat hulle buitelanders is. Hulle fokus spesifiek daarop om seuns op Okahandja se strate te help en maak dikwels van hul eie geld hiervoor gebruik.
Derick het tans tien seuns wat hy help, wat daagliks op Okahandja se strate voor winkels bedel.
“Die jonger seuns is altyd honger, altyd aan die bedel. Hulle is almal so tussen 12 en 16 jaar oud. Dié wat ouer is, is meer ‘straatbewus’,” sê hy.
“Ons het reeds drie van hulle in die skool terug gekry. Dit was baie frustrerend; ons moes onder meer eers uitvind wie hul ouers of voogde is. Ons moes rekords gaan trek van waar hulle wel op skool was.
“Ons het egter ook suksesverhale. ’n Outjie wat ons gehelp het en nou 21 jaar oud is, het besluit hy sluit by ons aan om ander te help wat hulp nodig het. Hy het sy lewe heeltemal agtermekaar gekry,” sê Lee.
Volgens Derick is hul grootste behoefte tans aan ’n sentrum waar die kinders gehuisves kan word indien nodig, maar veral wat hulle kan gebruik as ’n plek waar die kinders geleer kan word, waar hulle kan kos en klere kry en ontwikkel kan word.
Geregistreerde organisasie
Chosen Generation sal teen die einde van Mei vanjaar amptelik as ’n organisasie geregistreer wees.
Die naam Chosen Generation het gekom nadat Bartsch oor die belangrikheid van die nuwe geslag jongmense nagedink het. “Daar is op die naam besluit om ’n tipe waarde oor te dra dat ons spesiaal sekere kinders op die ashope gaan kies om te help,” sê sy.
Bartsch sê hulle het nie meer mense op hul komitee nodig nie. Hulle soek eerder hulp in die vorm van skenkings soos kos en klere vir die kinders en ’n tipe sentrum waaruit hulle kan werk.
Bartsch sê Chosen Generation open aan die begin van Mei ’n winkeltjie waar verskeie nuwe en tweedehandse klere, skoene en nie-bederfbare goed soos byvoorbeeld speelgoed beskikbaar gestel word.
“Die raadslede en ander leiers sal ‘geskenkbewyse’ ter waarde van N$50 elk aan behoeftiges gee. Die ontvanger kan dit dan gebruik om items van sy keuse in die winkel te koop. Die geskenkbewys kan egter nie vir geld omgeruil word nie,” sê Bartsch.
Die winkel sal Vrydae tussen 15:00 en 17:00 oop wees. Items daarin kom hoofsaaklik van skenkings en belangstellendes kan ook skenkings aan die winkel maak. Belangstellendes wat met die projek sal wil help, kan Bartsch by 081 296 1170 kontak.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie